Regskenner klaar onduidelikheid oor regulasies op

Argieffoto (Foto: Unsplash)

Volgens ’n regskenner hoef kinderoppassers nié in te woon om te kan terugkeer werk toe tydens vlak 4 van die afsonderingstydperk nie. Kinderoppassers mag dus nou terugkeer mits hulle oor ’n permit beskik wat deur sy of haar werknemer onderteken is.

Só het Megan Harrington-Johnson, prokureur by HJW Prokureurs in Johannesburg, Dinsdag aan Martin Bester van Jacaranda FM gesê. Harrington-Johnson se hulp is ingeroep om enige onduidelikhede rondom die afsonderingsregulasies tydens vlak 4 uit te klaar.

Mag my huishulp en tuinier terugkeer werk toe?

Volgens Harrington-Johnson mag slegs huishoudelike personeel wat inwoon tans terugkeer werk toe. Dit beteken dat huishulpe en tuiniers weer kan werk mits hulle tans op dieselfde erf as hul werkgewer bly. Dit is om te verhoed dat dié werkers tussen hul huis en werkplek pendel, verduidelik sy. Dié reël geld egter nie vir kinderoppassers nie. Hulle hoef nie in te woon nie en benodig slegs ’n permit wat deur sy of haar werkgewer onderteken is. Hierdie permit word vervat in die regulasies. Dié regulasies is ook van toepassing op huishulpe wat dien as kinderoppassers. Dié mag ook na en van werk pendel.

Moet ek my masker dra wanneer ek bestuur?

Argieffoto ter illustrasie (Foto: Unsplash)

Harrington-Johnson verduidelik dat daar tot op hede nog niks gesê is oor ’n masker terwyl jy bestuur nie. Die regulasies stipuleer wel dat maskers in die publiek gedra moet word.  Dit beteken dat jy dus nie buite jou motor of in die pad sonder ’n masker mag beweeg nie.

Harrington-Johnson raai Suid-Afrikaners aan om ’n masker ten alle tye in die motor te hou wanneer hulle bestuur, aangesien polisiebeamptes jou mag voorkeer om seker te maak dat jy ’n masker byderhand het vir wanneer jy jou bestemming bereik.

Daar word ook van motoriste verwag om ’n masker aan te hê wanneer ’n polisiebeampte hul voorkeer aangesien die motoris dan in kontak met ’n ander persoon is.

Volgens Harrington-Johnson is dit wel onwaarskynlik dat polisiebeamptes ’n motoris in hegtenis sal neem indien hy of sy  ’n masker in die motor het, maar dit nie dra terwyl hulle bestuur nie.

Mag ek skenkings sonder ’n permit gaan aflaai? 

Harrington-Johnson verduidelik dat Suid-Afrikaners nie skenkings elders mag gaan aflaai indien hulle nie oor ’n permit beskik nie, aangesien Suid-Afrikaners slegs hul huis mag verlaat om noodsaaklikhede aan te koop en werk toe te gaan. Daar is egter tans groot teenkanting van welwillendheidsorganisasies oor dié bepaling in die regulasies.

Kan ek in hegtenis geneem word indien ek ná 09:00 buite oefen?

Volgens Harrington-Johnson is verskeie mense reeds in hegtenis geneem omdat hulle ná 09:00 in die strate betrap is terwyl hulle geoefen het.

Sy raai Suid-Afrikaners aan om by die bepaalde tyd en afstand ingevolge die regulasies te hou aangesien oortreders in hegtenis geneem mag word, in aanhouding geplaas mag word en dan borgtog sal moet betaal om weer vrygelaat te word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.