Regskenner meen Oscar kry dalk borgtog

oscar-pistorius

Oscar Pistorius op 21 Oktober 2014 in die Pretoriase hooggeregshof tydens vonnisverrigtinge Foto: Themba Hadebe/AP/Pool

ʼn Regskenner het Maandag gesê Oscar Pistorius kan moontlik ná 49 dae in die tronk op borgtog vrygelaat word indien die staat se aansoek om verlof tot appèl slaag.

“Indien die staat se aansoek om verlof tot appèl teen sy skuldigbevinding en vonnis slaag, kan hy aansoek doen om borgtog en moontlik vrygelaat word terwyl sy regspan hul saak voorberei,” het advokaat Mannie Witz van The Bridge-regsfirma gesê.

Pistorius sal moontlik Dinsdag tydens die hofverrigtinge in die Pretoriase hooggeregshof verskyn.

Die staat het die aansoek ingedien en versoek ʼn groter skuldigbevinding en swaarder vonnis vir die Paralimpiese atleet.

Pistorius het getuig dat hy Reeva Steenkamp op 14 Februarie 2013 per ongeluk deur ʼn geslote toiletdeur doodgeskiet het toe hy haar vir ʼn inbreker aangesien het.

Die staat het in sy hofdokumente aangevoer die vyf jaar tronkstraf is “skokkend lig en onbehoorlik”.

Regter Thokozile Masipa het Pistorius op 21 Oktober 2014 skuldig bevind aan strafbare manslag en het hom tot vyf jaar tronkstraf gevonnis. Hy is tot drie jaar tronkstraf gevonnis nadat hy in Januarie 2013 ʼn vuurwapen in ʼn Tasha’s-restaurant in Sandton laat afgaan het. Die vonnis is vir vyf jaar opgeskort.

Regskenners meen Masipa was strategies in haar uitspraak. ʼn Vonnis langer as vyf jaar sal Pistorius nie in aanmerking laat kom vir huisarres nie, het Stephen Tuson, professor by Wits School of Law, in daardie stadium gesê. “Die getal, ‘vyf jaar’, is nie ʼn gewone getal nie, dit is sorgvuldig gekies,” het hy gesê. Kragtens artikel 276 van die Strafproseswet kan een sesde van ʼn vonnis in huisarres omgeskakel word indien die vonnis nie langer as vyf jaar is nie. Dit beteken dat Pistorius moontlik net 10 maande in die tronk kan spandeer.

Pistorius het op 22 November sy 28ste verjaarsdag in die tronk gevier.

Die departement van korrektiewe dienste hou vol dat die atleet nie enige spesiale behandeling ontvang nie.

Lees alle vorige berigte oor Oscar Pistorius op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.