Regskenners sê oor Oscar Pistorius-uitspraak

Oscar Pistorius tydens 'n vorige hofverskyning. Foto: Ihsaan Haffejee/EPA/Pool

Oscar Pistorius tydens ‘n vorige hofverskyning. Foto: Ihsaan Haffejee/EPA/Pool

Regter Thokozile Masipa sal Donderdag begin uitspraak lewer in die verhoor van Oscar Pistorius, wat aangekla word van die moord op sy vriendin Reeva Steenkamp.

Regskenners het intussen hul verwagtinge oor Donderdag se uitspraak aangedui.

“Indien hy [Pistorius] skuldig bevind word aan moord met voorbedagte rade, is dit verpligtend om hom tot lewenslange tronkstraf te vonnis, tensy die hof bevind daar is wesenlike en dwingende redes hoekom daar van die verpligte vonnis afgewyk moet word,” het prof. Stephen Tuson van die Universiteit van die Witwatersrand se regskool gesê.

“Vir moord is daar geen verpligte vonnis nie en die hof kan, afhangend van die omstandighede en die erns van die oortreding, hom tot lewenslange tronkstraf vonnis of ʼn vonnis wat in geheel opgeskort word,” het Tuson bygevoeg.

Kelly Phelps, senior lektor by die Universiteit van Kaapstad, sê dit is slegs die opinies van die regter en assessore wat tel. “Die saak van voorbedagte rade is amper totaal en al gebaseer op die getuienis van ʼn enkele [staats]getuie. Estelle van der Merwe het getuig dat sy tussen 01:00 en 02:00 ʼn man en vrou se stemme gehoor en dat dit geklink het of hulle in ʼn argument betrokke was.”

“Ek dink daar is ʼn goeie kans dat die verdediging aan daardie bewysregtelike las voldoen het en gate in die staat se saak uitgewys het,” het Phelps bygevoeg. “Ek dink dis onwaarskynlik dat hy lewenslange tronkstraf opgelê sal word indien hy aan moord skuldig bevind word. Al word hy aan moord met voorbedagte rade skuldig bevind, oorweeg die hof versagtende omstandighede voor daar ʼn vonnis van lewenslange tronkstraf opgelê word.”

Mannie Witz, ‘n advokaat by Bridge Group, meen die staat se saak was nie sterk genoeg om moord met voorbedagte rade te bewys nie. “Daar is nie ʼn definisie van moord met voorbedagte rade in Suid-Afrika nie, so jy verwys na regspraak en kyk of dit moord met ʼn element van beplanning was,” het Witz gesê.

“Ek weet nie of hulle genoeg bewyse het nie, behalwe vir die getuie wat getuig het dat sy gehoor het hoe hulle voor die tyd geskree het. Die verdediging het baie goed geargumenteer maar ek weet nie of hulle bewyse genoeg sal wees nie. Hulle kliënt het hulle in die steek gelaat want hy was nie ʼn goeie getuie nie,” het Witz bygevoeg.

“Ek dink daar is ʼn beduidende risiko dat Oscar daaraan skuldig bevind kan word dat hy die inbreker doodgeskiet het,” meen William Booth, ʼn strafreggeleerde. “Hy kon ʼn waarskuwingskoot gevuur het. Al bevind die hof dit is aanvaarbaar dink ek steeds hy gaan ʼn probleem hê. Die oorgrote meerderheid van die verdediging se bewyse was moontlik ʼn rookskerm. Jy roep nie getuies as daar nie ʼn rede is nie.”

Klik hier om die hooftrekke van die hofverrigtinge gratis op Maroela Media te volg.


ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Jakoos ·

Maroela, ek het gister hier kommentaar gelewer op hierdie regskenners se sieninge oor die OP verhoor, maar dit het net verdwyn. Het julle dit gedoen – en indien wel, hoekom – of het ek dalk die verkeerde knoppie gedruk?

Net ter inligting: my standpunt is dat OP NIE “versagtende omstandighede” kan pleit as hy aan doelbewuste moord skuldig bevind word nie want dan erken hy dat hy die hele tyd gelieg het en dan word dit “verswarende omstandighede”! Sy enigste uitweg sal appel moet wees.

En Booth se menings oor OP se verskillende weergawes is twak. Roux het dit baie goed uitgewys. En die bewering dat OP ‘n “swak” getuie was, kan deur sommiges so gesien word omdat Gerrie N hom kwaai gekou het, maar hy het nooit geknak nie en deurgaans by sy aanvanklike storie gehou.

NS hierdie is geskryf om 8:30 vanoggend, Dionderdag, Dit kan maar hier bly totdat na die uitspraak. Maar hou dan die “kenners” se menings ook hier dat ons dit aan die uitslag kan toets!

Celia Tjaden ·

Volgens n oud regter van Suid Afrika in n onderhoud op Radio Tygerberg op 16 Oktober 2014, het regter Masipa n baie groot fout gemaak in die uitspraak in die Oscar saak nl. hy is nie skuldig aan strafbare manslag nie. (Maar korrek nie aan moord nie) Hy het as gestremde geskiet om homself te verdedig na n inbreker onbewus dat dit Reeva was. Hy is dus onskuldig. Dit is wat ek en baie ander mense al hoe meer voel. Verder is hy diep bedroef oor haar dood en opreg- dis duidelik.
Ongelooflik die wraak waarmee haar familie en vriende daar sit. Oordeel net. Net besluit hy het haar met opset doodgeskiet. Hy moet tronk toe. Ek het natuurlik absolute medelye met hulle verlies- maar dit is n tragiese ongeluk. Kyk na Reeva se ma- al wat mens sien is bitterheid en wraak op haar gesig. Sy het gese sy het hom vergewe? Vergifnis lyk nie so nie.
Laat Oscar gaan- hy het genoeg gely en sy eie familie ook. Hy is platgeslaan. Ja Reeva is nie meer daar nie en dit is tragies. Om Oscar uit mekaar te skeer gaan haar nie terugbring nie. Dink gerus hieraan- dat hy werklik onskuldig is. En dit is redelik om n vuurwapen af te vuur in die rigting waarin jy dink n inbreker is in jou huis- veral as jy n weerlose vrou is of n person met n gebrek soos Oscar. Verder- die sensasie en die wraakgierige oordelende publiek! Dis n skande! Mense oordeel net! Dankie vir die wa dit nie doen nie en vir Oscar bid (en die twee families). Celia

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.