Regsman sterf aan Covid-19

Robert Legh (59) was ‘n voorsitter en senior vennoot by die Bowmans-regsfirma, (Foto: Bowmans/Facebook)

Die prokureur Robert Legh (59), voorsitter en senior vennoot by die Bowmans-regsfirma, is Donderdagaand aan Covid-19 dood.

Luidens berigte het hy twee maande lank in die hospitaal teen dié virus baklei.

“Die Bowmans-familie het ’n leier, vennoot, kollega en vriend verloor. Rus in vrede, Rob. Ons gaan jou baie mis,” het die firma in ’n inskrywing op hul Facebook-blad gesê.

Legh was in sy loopbaan ook nou betrokke by die Business for South Africa- (B4SA-)arbeidsgroep waarvan hy ’n medestigter en arbeidsameroeper was.

B4SA het in ’n verklaring gesê dat die groep die afsterwe van Legh, ’n eggenoot, pa, prokureur, leier en vriend, diep betreur.

“Die tragiese dood van Rob Legh weens Covid-19 het Suid-Afrika van ’n briljante, deernisvolle leier ontneem.

“As prokureur was hy bekend vir sy intellek, vaardighede en fatsoenbaarheid. Rob was ’n man van uitsonderlike integriteit wat almal goed en regverdig behandel het,” het Martin Kingston, voorsitter van B4SA se stuurkomitee, gesê.

Kingston het Legh ook as ’n “toegewyde Suid-Afrikaner” beskryf.

Volgens hom het Legh sedert die aanvang van die Covid-19-pandemie in 2020 ’n kernrol gespeel in die beskikbaarstelling van miljarde rande vir die Werkloosheidversekeringsfonds (WVF) se verligtingskema.

“Miljoene werkers en duisende ondernemings is hierdeur bevoordeel, hoewel hulle nooit sy naam geken het nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Di ·

Dis baie hartseer! My innige simpatie aan sy familie, vriende en kollegas.

Theo ·

Hoeveel mense moet nog agv COVID sterf voordat mense gaan begin besef inentings red lewens? Skrik wakker Suid-Afrika!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.