Regsproses begin oor ‘sertifikaat van behoefte’

Argieffoto (Foto: StockSnap, Pixabay)

Solidariteit het Maandag in ’n regskrywe die president gemaan om nie artikels 36 tot 40 van die Wet op Nasionale Gesondheid in werking te stel nie. Hierdie bepalings maak voorsiening vir die daarstelling van ’n “sertifikaat van behoefte” waarvolgens gesondheidsorgpraktisyns by die staat sal moet aansoek doen om te besluit waar hulle mag praktiseer.

Volgens Solidariteit is die bepalings van dié artikels, sowel as enige regulasies wat daaruit spruit, ongrondwetlik en maak dit onregmatig inbreuk op die regte van gesondheidsorgpraktisyns.
“Die voorgestelde bepalings is uiters kommerwekkend en duidelik ongrondwetlik op verskeie gronde,” sê Henru Krüger, hoof van die Mediese gilde by Solidariteit. “In plaas daarvan om toegang tot gesondheidsorg te verbreed, sal hierdie skema wantroue tussen praktisyns en die staat verhoog, tot nadeel van alle Suid-Afrikaanse burgers.”

Solidariteit meen die bepalings is irrasioneel en hou geen logiese verband met die beweerde doelstellings nie. “’n Sertifikaat van behoefte maak ook ernstig inbreuk op die regte van ons mediese personeel om hulle beroep na hul eie goeddunke te beoefen. Ons gesondheidsorgpersoneel is ook burgers en het ook regte. Hulle is nie bloot bates van die staat wat toegedeel kan word volgens die regering se voorkeure nie.”
Solidariteit voer verder aan dat die voorgestelde skema neerkom op onteiening van mediese personeel se eiendom ten koste van sowel die praktisyns as diegene wat tans van hul dienste gebruik maak.

“Dit is ondenkbaar dat die regering, weens ʼn onvermoë om sy eie instellings in stand te hou, nou wil voortgaan om die fasiliteite en personeel van die privaat sektor gewoon net te kaap,” sê Krüger. “Boonop gaan dit beteken dat enigeen wat tans van hierdie dienste gebruik maak, ook van hul eie gevestigde toegang tot gesondheidsorg ontneem sal word. In plaas daarvan om toegang tot gesondheidsorg wyer oop te stel, gaan hierdie bepalings ons bloot net ’n sieker land maak.”

Solidariteit het verder ook sy bereidwilligheid om hierdie saak verder te dryf bekendgemaak en is van mening dat dit ’n waterskeidingsaak sal word in litigasie in verband met die voorgestelde Nasionale Gesondheidsversekering (NGV) en die gepaardgaande plundering van belastinggeld.

“Die doel van hierdie bepalings is duidelik om die weg te baan vir die NGV en vir verdere plundering van belastinggeld. Die regering wil beweeg na ’n stelsel waarin gesondheidsorgpraktisyns knegte van die staat word. Ons kan dit nie toelaat nie. Daar is geen regverdiging vir hierdie inperking van hul grondwetlike regte nie en ons staan gereed om dit ook in die hof te bestry,” sluit Krüger af.

Om die volledige aanmaning aan die president te lees, klik hier.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

19 Kommentare

casper ·

Die staat diskrimineer al Jare lank teen mediese dokters.
1. Hulle moet slegs by staats instelluings hulle internskap doen
2. Hull moet 1 jaar staatsdiens doen in ‘n staatshospitaal op ‘n plek wat die staat hulle plaas (geen keuse)
3. As hulle nie hulle Zuma jaar voltooi nie kan hulle nie hulle graad behaal nie !!

Die ANC maak net soos hulle lus kry !!!

Llady ·

Ek is nie gekant teen die gemeenskapsdiensjaar wat studente moet voltooi nie. Hulle kry ongelooflike blootstelling, en ‘n kans om hulle vaardighede te ontwikkel voor hulle in permanente poste aangestel word. Baie van ons studente bly aan in die hospitale of klinieke waar hulle hul gemeenskapsdiens gedoen het, en vul dikwels ‘n groot leemte so in terme van dienslewering aan gemeenskappe wat andersins nie toegang tot hierdie dienste sou gehad het nie.

Maar: Daar is sekere hospitale en klinieke waar die omstandighede absoluut haglik is. In my veld het ons sekere toerusting nodig om ons werk te kan doen, en sommige hospitale en klinieke skiet ver te kort daarmee, soveel so dat dienste nie behoorlik gelewer kan word nie. Selfs met innoverende denke kan die persoon wat sy/haar gemeenskapsdiens daar doen, steeds nie ‘n behoorlike diens lewer nie. En dikwels moet hulle dan ook sonder toesig hulle gemeenskapsdiens doen. In hierdie gevalle faal die gemeenskapsdiens projek jammerlik.

Adelaide ·

Kommunisme. – stadig maar seker. Al die maaitjies is nie verniet kommunistiese lande nie

SjN ·

Laat die hele klomp parlement kaders ook aansoek doen om sertifikaat vir behoefte, slaagsyfer gaan baie laag wees.

Kobus ·

Liewe aarde,wat is volgende? Skedules om inkopies te doem, toilet te besoek, besoeke aan vriende en familie? Erger as Rusland en China

Pietertjie ·

Mens noem dit Kommunisme. Dís waarvoor die K in SAKP staan

Llady ·

Dankie Solidariteit!! Ons het julle ingryping nou geweldig nodig!

Karina ·

Hiermee gaan ons meer medici verloor wat besluit genoeg is genoeg, ek verhuis oorsee, Suid Afrika is nie meer vir my nie.

Jacobus ·

Terwyl ons dokters sal moet spartel om te praktiseer en ons burgers verder uitgelewer word aan ‘n disfunksionele stelsel, vlieg die bevoorregtes Rusland toe op ons onkoste en swem die bevoorregtes in hulle onverdiende miljoene. Kan Suid Afrika dan nog verder daal in die aansien van die wêreld. Siek, siek, siek! Nou kom ons by die kruks van die pandemie! Julle het baie om voor verantwoording te doen!!!

Swerwer ·

Wat ‘n belaglike plek is hierdie land van ons. Wanneer is hierdie ANC van plan om wakker te skrik.
Miskien moet die Regeringsamptenare en Ministers,, President ens weer by Graad 1 begin en hul skoolloopbaan en die 1960 en 1970 sillabusse doen dat ons land ‘n beter plek kan word.

JohanR ·

Solidariteit ou Cyril is op ‘n rol. Niks gaan hom stop nie. Maar is die gesondheid strukture in mekaar begin val sal hy net sy hande in onskild was! Hierdie MOET deur want die kaders wag vir hulle geld.

Hannelie ·

Kommunisme het al in die 60’s uit die mode geword, want dit is orals bewys dat dit nie werk nie. Aanhangers van kommunisme is dekades agter die tyd. Net verskoning sodat ‘n paar uitgesoekte kroonwild die staatskoei kan aanhou melk.

john ·

die staat raak al hoe meer idiooter. Maar word seker deur hulle Chineese overlords gese hoe om komunisme in te bring

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.