Regstappe begin oor Lily-mynramp

Die Lily-myn.

Die stryd duur voort om die oorskot van drie mynwerkers wat in 2016 in ʼn reusesinkgat by die Lily-myn naby Barberton in Mpumalanga verdwyn het, te herwin.

ʼn Skeepshouer met die drie werkers in het op 5 Februarie tydens ʼn ineenstorting by die ingang na die myn onder reuseklippe en grond beland. Die drie mynwerkers, Pretty Nkambule, Solomon Nyerende en Yvonne Mnisi, wat ten tyde van die tragedie in die skeepshouer was, is sedertdien nog nie gevind nie.

Herman Mashaba, die voormalige burgemeester van Johannesburg en stigter van The People’s Dialogue (TPD), sê die organisasie se regspan het ʼn hofaansoek ingedien om toegang te kry tot dokumente om die regering te dwing om die werkers se oorskot uit die gat te verwyder.

Die dokumente is aanhangsels wat gebruik is om die 2018-gesondheid- en veiligheidsverslag te staaf wat bevind het dat die houer nie herwin kan word nie. Toegang tot die verslag van die mynreddingsdiens vorm deel van dieselfde aansoek.

“Sodra ons in besit van dié dokumente is, sal ons in ʼn posisie wees om dit te assesseer en die besluit dat die houer nie herwin kan word nie, te betwis,” sê Mashaba.

“Elke poging om geregtigheid vir die vasgekeerde mynwerkers en hulle gesinne te verseker, is gedwarsboom in wat lyk na ʼn gesamentlike veldtog om die belange van Vantage [die maatskappy waaraan die myn behoort] te beskerm. Gegewe die patroon van korrupsie in ons land, wil ek hê dié proses moet vasstel wie polities baat.”

Mashaba sê hy is oortuig dat die regering en die departement van minerale hulpbronne gunstig op die versoek gaan reageer, gegewe die druk wat daaroor opgelaai het sedert TPD die kwessie opgeneem het.

Herman Mashaba, stigter van The People’s Dialogue. (Foto: Twitter)

Sou dieselfde patroon van obstruksie weer na vore kom, sal TPD hom na die hof wend om die pogings om die herwinning van die skeepshouer te verhoed, bloot te lê.

“Geregtigheid maak saak en dit maak saak vir die families van die drie vasgekeerde mynwerkers. Hulle is ontneem van behoorlike begrafnisse vir hul geliefdes. Die familielede en voormalige werkers kamp steeds buite die myn, terwyl diegene verantwoordelik vir die ineenstorting vry en in gemak leef,” sê Mashaba.

Mashaba sê vir alle Suid-Afrikaners om vry te kan wees, moet hulle weet dat die regering hulle nie kan behandel soos hulle die families en oudwerkers van die Lily-myn behandel het nie.

Die regering het die verslag na die tragedie reeds in Februarie 2018 afgehandel en die departement het destyds gesê almal is dit eens dat die klaring wat die verslag moet verskaf, kritiek is.

Bedrywighede by die myn is in Februarie 2016 opgeskort en die myn is in sakeredding geplaas met ongeveer 1 000 werkers wat hul poste kwyt is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

marius ·

Wie is die eienaars van die myn ? Is dit nie hulle wat verantwoordelik gehou moet word nie ? Waarom moet die belastingbetaler betaal vir aanspreeklikheid van privaat instansies ?

Sobymykoolkop ·

Soos altyd gou om ” politieke” punte te “verdien”. Daar is van die begin af gesê dis te gevaarlik om te probeer im die liggame te probeer herwin en dat die reddingswerkers ook sal sterf omdat die betrokke plek onstabiel is. Trek aan jou reddingsbaatjie en gaan saam die vakbondleiers en gaan haal uit

Alida ·

Daardie arme mense was vasgekeer in n hok en het van honger gesterf. Dit is verskriklik.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.