Regstappe kom dalk oor NGV

Argieffoto (Foto: DarkoStojanovic/Pixabay)

Solidariteit het die parlementêre portefeuljekomitee oor gesondheid gewaarsku dat hy regstaan met hofstukke, sou die regering poog om die nasionale gesondheidsversekering (NGV) sonder meer af te dwing.

Dit volg nadat die komitee versuim het om gehoor te gee aan Solidariteit se versoek om by openbare verhore oor die NGV ingesluit te word.

“Dit is van sleutelbelang dat elke belanghebbende wat aangedui het dat hy deel van die proses wil wees, die tyd en geleentheid gegun moet word om sy voorlegging te maak. Dit is belaglik dat Solidariteit geïgnoreer en sy deelname verswyg word,” het Connie Mulder, hoof van die Solidariteit Navorsingsinstituut, gesê.

“Die regering kan nie net kies na wie hy wil luister na gelang van ideologie nie. Die hele land se gesondheidsektor is op die spel.”

Solidariteit verteenwoordig verskeie dokters, mediese personeel en ander belanghebbendes en as sodanig dring hy daarop aan dat hy die geleentheid gegun word om sy insette tydens die verloop van die openbare verhore te lewer deur sy voorlegging te maak.

Volgens Mulder het Solidariteit menigmaal die komitee genader, maar die pogings het misluk. Indien die komitee nie teen 9 Julie op Solidariteit se versoeke reageer nie, sal hy met sy regsproses voortgaan.

“Dit is duidelik dat die regering bloot die NGV op lede van die publiek gaan probeer afdwing soos wat die komitee probeer om die proses nou te stoomroller. Solidariteit herinner die regering daaraan dat sy hofstukke lankal reg is en dat enige poging om die NGV af te dwing wel met litigasie begroet sal word.

“As die entstofprogram se volslae mislukking ons een ding geleer het, is dit dat die regering wat nie eens die ligte kan aanhou nie, sover moontlik van gesondheid af moet bly,” het Mulder afgesluit.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

8 Kommentare

jongste oudste gewildste
Suzette

Goed so – hierdie NGV moet ten alle koste gekeer word – die anc regering het keer op keer bewys dat hulle geen bloue duit omgee vir die belange van die burgers van hierdie land nie….

Die Boerepompie

Ja die sal ook nou in hof draai om hulle te leer hoe dit werk in die land

Dries

Alles wat hierdie regering aan vat verander in Bolly. Wanneer gaan hulle ophou ons kan maar net bid

LANA is ELANè

Al wat die regering hier sien is dat daar ‘n pot geld is waarop hulle nog nie hul gulsige hande kon lê nie en dus is die hul missie om dit ook onder hulle wanbestuur te kry, net sodat die soustrein gevul kan word.