Regstappe kom dalk oor UKZN se ‘diskriminasie’

Die Howard-kollege van die Universiteit van KwaZulu-Natal (UKZN). (Foto: UKZN)

Die vakbond Solidariteit het die Universiteit van KwaZulu-Natal (UKZN) in ʼn skrywe teen regstappe gewaarsku indien hy voortgaan met sy oënskynlike diskriminasie in die toekenning van beurse en genootskappe.

Solidariteit sê hy sal regstappe doen as die universiteit nie die verskil in die toekenning van beurse en genootskappe op grond van ras kan regverdig nie.

Anton van der Bijl, adjunkbestuurshoof van regsake by Solidariteit, sê die universiteit se fakulteit gesondheidswetenskappe het onlangs advertensies vir beurse en genootskappe in die fakulteit versprei, maar verskillende bedrae geld vir aansoekers van verskillende rasse toegeken.

Luidens die universiteit se advertensies, wat Maroela Media onder oë gehad het, word daar onderskeidelik R120 000 en R60 000 vir beurse vir meestersgraad- en doktorale studie aan “swart Suid-Afrikaanse burgers” toegeken.

Die beurse vir “ander Suid-Afrikaanse burgers” beloop R80 000 en R45 000.

Genootskappe by die fakulteit word op soortgelyke wyse toegeken.

“Dit is onaanvaarbaar om in ʼn land soos Suid-Afrika, waar werkloosheid deurgaans toeneem, studente en jong mense te straf omdat hulle nie swart is nie. Dit gaan die verstand te bowe om te dink dat ʼn universiteit, ʼn instelling wat juis behoort te verstaan hoe belangrik hoër onderwys is, só kan redeneer,” sê Van der Bijl.

Solidariteit sê in sy skrywe aan die universiteit dit bekommer hom dat daar onderskeid getref word tussen studente en beursaansoekers op grond van hulle ras.

Solidariteit sê voorts dat die behandeling op sigwaarde ingevolge wetgewing verbied word, onder meer die Wet op Nasionale Onderwysbeleid, die Wet op die Bevordering van Gelykheid en Voorkoming van Onbillike Diskriminasie asook artikel 2 van die Grondwet.

“Asof dit nie genoeg is om beurse van verskillende waardes toe te ken op grond van ras nie, bied die fakulteit ook betaalde genootskappe aan waar verskillende salarisse vir verskillende rasse sal geld: nie op grond van nood of sosio-ekonomiese omstandighede nie, maar bloot op grond van velkleur,” sê Van der Bijl.

Die UKZN adverteer ook postdoktorale genootskappe met ʼn jaarlikse salaris van R320 000 vir “swart Afrikane” terwyl “ander Suid-Afrikaners” wat in dieselfde pos aangestel word, R280 000 per jaar sal verdien.

“Die universiteit voer hierdie onbillike diskriminasie selfs verder deur te probeer om selfs salarisse op grond van ras bepaal,” sê hy.

Solidariteit sê in sy regskrywe dat die universiteit antwoorde moet gee oor waarom dít die geval is.

Indien die universiteit nie voor 4 Mei “bevredigende antwoorde” lewer nie, sal Solidariteit hom tot die hof wend en UKZN “dwing” om billik op te tree.

Maroela Media het ʼn navraag aan die universiteit gestuur en wag op terugvoer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Vonny ·

Era van erge Apartheid.
Help ons Amerika!!!

Dankie tog vir n Solidariteit & n Afriforum!!!

TruthDealer ·

Amerika is een vd grootste argitekte van hierdie land se ineenstorting. Moenie jou hoop sit op hulp van hulle nie. Veral nie onder n Democrat regering nie. Buitendien het hulle nou oorgenoeg probleme van hul eie, want die wiel draai.

Tikkel Tokkel Jimpels Gogga ·

En so toets hulle deurlopend en ongestoord die “boundries” ! Weet net, die oomblik as ons skietgee, raak dit die norm.

Republikein in die Wes Kaap ·

Al vir meer as 50 jaar. Ietwat te laat vir regsaksies en briewe.

Papsak ·

Ja nee kyk apartheid nou kwaai regtig deur hulle nie ons nie daarom word ons so uit gestoot

TRP ·

Ek kan nie glo dit is die universiteite waar ons kinders moet gaan studeer. EK persoonlik sal nie eens daar wil werk.

Lillian ·

Rassisme op sy beste! Ons kinders moet maar liewer in die buiteland gaan studeer want ‘n graad verwerf in hierdie land beteken elke geval niks.

Amelia ·

Dit is so maar ongelukkig het almal nie die geld om kinders buiteland toe te stuur nie wat n jammerte die mense gaan is verdruk soos nog nooit nie

gatgogga ·

Onaanvaarbaar? Hoekom dan so? Het ons dan nie gestem dat ons enigiets sal aanvaar wat de klerk vir ons beding nie?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.