Regstappe kom oor elektrisiteit-ramptoestand

Argieffoto (Foto: Mujahid Safodien/AFP)

Daar is met regstappe begin nadat pres. Cyril Ramaphosa Donderdagaand tydens sy staatsrede ʼn nasionale ramptoestand aangekondig het om die energiekrisis te hanteer.

Solidariteit het gesê hy het met skok van die stap verneem en sal onmiddellik met regstappe begin.

“Swak sentrale bestuur het ons in hierdie krisis laat beland. Nóg meer swak sentrale bestuur gaan ons nie daaruit kry nie,” het dr. Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit, gesê.

Volgens Ramaphosa is ʼn ramptoestand die beste manier om die huidige krisis wat weens beurtkrag in die land heers, aan te pak en die talle ingrypings te koördineer.

“Alles wat die president in die staatsrede aangekondig het, kan reeds met bestaande wetgewing geïmplementeer word. Die harde werklikheid is dat al die instrumente om die krisis op te los reeds tot die president se beskikking is – hy kies bloot om hulle nie te gebruik nie. ʼn Ramptoestand is dus irrasioneel en onnodig en laat Solidariteit met geen ander opsie as om te litigeer nie.”

Ramaphosa het tydens die staatsrede gesê die regering het reeds groot vordering gemaak met die inwerkingstelling van die elektrisiteitsaksieplan, wat sal toesien dat beurtkrag binne die volgende 18 maande heeltemal afgeskaf word.

“Ons durf nie toelaat dat die regering se magsvergrype tydens die Covid-19-ramptoestand herhaal word nie. Die besluitnemers wat warm hoender en plakkies verbied het, wil nou besluite sonder behoorlike oorsig neem oor die kragkrisis. ʼn Ramptoestand gaan nie die kragkrisis vinniger beëindig nie, maar maak weer eens die deur oop vir enorme vergrype. Dit is eenvoudig ʼn verloor-verloor-situasie.”

Die verklaring van die ramptoestand is reeds in die Staatskoerant gepubliseer. Dit is deur Nkosazana Dlamini-Zuma, minister van samewerkende regering en tradisionele sake, onderteken.

“Geen hoeveelheid wetgewing kan nutteloosheid en onbevoegdheid regruk nie. ʼn Ramptoestand is soos om vir ʼn onbevoegde bouer ʼn groter hamer te gee – dit gaan nie tot beter bouwerk lei nie, maar eerder tot meer skade,” meen Hermann. “Die regering het oor die afgelope 16 jaar gewys dat hy eenvoudig nie die energiekrisis kan uitsorteer nie. In plaas van uit die pad tree en die private en gemeenskapsektor toelaat om die probleem op te los, dring die regering deur die ramptoestand weer eens daarop aan om alleen beheer te probeer neem van die krisis. Dit het nie die afgelope twee dekades gewerk nie; dit gaan ook nie nou werk nie,” waarsku Hermann.

“Ongelukkig gaan die burgerlike samelewing weer eens die howe moet gebruik om die regering te dwing om die regte ding te doen. Solidariteit se regspan het reeds begin om dringende hofstukke voor te berei, en dit sal in die komende dae op die regering beteken word. Die boodskap aan die regering is eenvoudig: Ons sal dit self oplos; beweeg uit die pad uit en laat ons toe om dit te doen.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

28 Kommentare

Danie ·

N goeie bestuurder pas deelnemende bestuur toe.My vraag is waarom die gemeenskap nie geken word en hulle insette bekom word nie?Dit lyk my nog of die kommunistiese bestuurstyl toegepas word .

ES ·

Vanaf 1994 is hierdie land ‘n kommunistiese land wat oorgetrek is met die illusie dat dit ‘n demokrasie is. Jy sal sien, sodra die ANC begin om te verloor, gaan hulle met oorlogtaktiek begin – net soos wat Mugabe gedoen het met Zim.

Harley Davidson ·

Ramaposa is nie bevoeg om n wildsplaas te bestuur nie wat nog van n land hy het geleer om die aandag af te lei met dinge soos ramptoestande ,covid ens en die werklike probleme op hierdie manier te verskans.

Strandloper ·

Die warm hoender en plakkies bende bly lagwekend. Tien uit tien vir die VF om hul self in die kop te skiet, tiepies Boer wat nie kan saam staan nie.

Mnr De Beer ·

U laat my nou so lekker lag met so onwaar stelling. Kom ek help u reg. Die ANC kan nie saam ons staan nie. Die ANC wat regeer kan nie eers n diens lewer aan sy eie landburgers nie.

Martie ·

Nou kan die regering bloot koop wat ookal hulle wil, by wie hulle wil, vir hoeveel hulle wil sonder om prosesse te volg… wat beteken dit: aanstellings/aankope teen absurd bedrae en dus ‘n yslike vermorsing van fondse – en die land sit steeds in die donker

Raadsman ·

Meneer,

Jy verstaan hoegenaamd nie wat aangaan in Eskom nie, 18 maande is ‘n droom. Wanneer ons begin hoor dat nuwe ktagstasies gebou gaan word dan praat ons eers en ten minste 6 tot 8 jaar is dan die vinnigste om beurt krag te stop.

capie ·

Lees die kamtige ramptoestand saam met die Russiese minister se besoek en daar trek ‘n rokie. Rusland se bondgenote is maande voor voor die Oekraiense inval oor die storie ingelig, SA se ministers het gereeld daar gekuier en die ramptoestand hier is uitsonderlik uitgerek. Kan dalk weer net ‘n verskoning wees vir Russiese aksie wat dalk nou gaan volg.

gatgogga ·

Op hierdie stadium sal die inmenging van enige buitelandse moondheid dalk ‘n redding wees. Die kaders is eenvoudig te vertraag om te regeer.

Truman Burbank ·

Ek stem. Sal selfs god save the queen sing. Al is charlie aan bewind

Herman L ·

Daar is al hoe meer rede om hoopvol te wees! Die lig aan die einde van die tonnel skyn al hoe helderder. Natuurlik is dit nie Eskom se lig nie, maar die feit dat die ANC se kultuur tot hulle ondergang sal lei. Hulle leer eenvoudig nie uit hulle foute nie omdat hul denke deur gierigheid oorheers word. Die minister wat die vorige ramptoestand in ‘n groter ramp verander het, word weer aangestel! Dit terwyl ons nie ‘n ramptoestand nodig het nie. Hulle is so op hulle senuwees oor die verkiesing wat voor die deur is, dat hulle net al hoe meer foute maak. Kom ons hoop die opposisie bly kalm en gebruik die geleenthede om kiesers te oortuig om vir iets beters te stem.

gatgogga ·

Miskien besef hulle dat hulle tyd verby is, en hierdie ramptoestand is die laaste geleentheid vir die groot diefstal.

Sanet ·

Die president en al sy kaders is NARRE!!!! Geniet die sirkus!!!

muffin ·

Vat hulle hof toe en maak seker dat die justice nie maaitjies van die narre anc nie.

ES ·

“besluitnemers wat warm hoender en plakkies verbied het” – kan nie glo hierdie tipe mense is in bewind nie.

DJ ·

Hier is ‘n verkiesing op pad en die noodtoestand sal nou misbruik word vir die eie gewin tot voordeel van die ANC se eie geldkoffers. Geld sal beslis nou na die ANC gekanaliseer word.

domheks ·

Regtig – glo julle die wonderlike beloftes – krag, paaie, water ens ens?

Gert ·

Dit is niks anders as “Ekonomiese Boelie” nie. Dit kan ook beskryf word soos vreemde kinders wat op jou rusbanke spring maar jy bly maar still sit op jou een bank wat jy nog heel hou want jy mag dalk hul ouers wat staan en kyk se gevoelens seer maak.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.