Regstappe kom oor Kubaanse ingenieurs

Die Vaaldam. Foto: Departement van water en sanitasie.

Solidariteit het Maandag met ʼn regsproses teen die minister van menslike nedersettings, water en sanitasie, Lindiwe Sisulu, begin oor die invoer van Kubaanse ingenieurs vir water-infrastruktuurprojekte in Suid-Afrika.

Maroela Media het vroeër berig dat 24 Kubaanse ingenieurs na Suid-Afrika ontbied is om die waterkrisis binne Suid-Afrika aan te pak.

In die regsbrief vra Solidariteit dat die Kubaanse ingenieursprogram onmiddellik opgeskort word en dat sekerheid verskaf moet word oor die wettigheid van die Kubane se lisensiëring en registrasie.

Dit volg nadat dit aan die lig gekom het dat die ingenieurs nie aan die registrasievereistes van die Suid-Afrikaanse Raad vir Ingenieurswese (ECSA) voldoen nie.

“Dit sal beteken dat die groep geweldig baie geld betaal word, maar dat hulle beperk sal wees ten opsigte van die werk wat hulle mag doen, en dat hulle in sekere gevalle slegs onder toesig sal mag werk. Ons gee die regering nou die geleentheid om te verduidelik. Suid-Afrika verdien ʼn antwoord,” sê dr. Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit. Solidariteit vra ook, onder andere, dat die regering moet bevestig of alle wetlike vereistes in plek is vir die Kubaanse ingenieurs om in Suid-Afrika te kan werk.

In sy skrywe vra Solidariteit verder of die advies en die aanbevelings van ECSA ingewin is en of daar aan al die vereistes van die raamwerk van die professie voldoen is. Hy vra ook dat alle inligting rakende die regsbasis van die besluit geopenbaar word.

Sluise oopgetrek by die Vaaldam (argieffoto) Foto: R. McKenzie, departement van waterwese

ECSA het die afgelope naweek in ʼn Facebook-plasing bekend gemaak dat Kuba nie ʼn lid van die internasionale ingenieursvereniging is of ʼn ondertekenaar van enige van die internasionale ooreenkomste wat beheer uitoefen oor die erkenning van ingenieurskwalifikasies en professionele bevoegdheid nie. “Dit is wel moontlik vir internasionale ingenieurs wat in Suid-Afrika wil werk, om aansoek te doen by ECSA om registrasie. Dié aansoeke en betrokke ingenieurs se kwalifikasies sal egter eers nagegaan moet word,” lui die raad se Facebook-plasing.

Dié raad het wel erken dat hy nie by magte is om enige ingenieurs te verhoed om in Suid-Afrika te praktiseer, al is hulle nie geregistreer nie. “Die onus rus op enige instelling wat ingenieurswerk doen om gebruik te maak van gehalte ingenieurs ten einde die publiek se veiligheid te verseker.”

Dit het intussen ook aan die lig gekom dat Kuba self probleme met sy waterinfrastruktuur het. Sedert die Kubaanse rewolusie in 1959 is daar nie veel gedoen om infrastruktuur in stand te hou of op te gradeer nie. Die laaste groot dam is in 1985 voltooi, toe Kuba se enigste noemenswaardige handelsvennoot, die Sowjetunie, nog bestaan het.

Die uiteinde daarvan is dat mense van wateraflewerings met waentjies, dikwels deur diere getrek, afhanklik is.

In die lig hiervan, sê Solidariteit, lyk dit of die besluit van die minister om Kubaanse ingenieurs in te voer nie net dwaas en immoreel is nie, maar ook onregmatig.

“Solidariteit beplan om ook om self met ECSA te kommunikeer. Die vraag oor of die Kubaanse ingenieurs aan die nodige wetlike vereistes voldoen, is verswarend, maar dit bepaal steeds nie of dit reg is dat hulle hier is nie. Solidariteit het ʼn lys van 132 plaaslike ingenieurs en ander spesialisvaardighede aan die minister beskikbaar gestel wat die werk teen ʼn baie laer koste as die Kubane kan doen. Daarbenewens is Kuba se eie waterinfrastruktuur in chaos. Daar is dus geen rede waarom die Kubane in Suid-Afrika moet wees nie,” sluit Hermann af.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

27 Kommentare

gatgogga ·

Mooi so, Solidariteit.
As ons tog maar net howe gehad het waarop mens kon vertrou.

Henry ·

Dit skep mos n president. M.a.w ek kan optree as eiendoms agent sonder om geregistreer te wees by die raad op eiendoms agente, of by mediese raad of watter raad ookal.

Johannes ·

Ons is ook maar lekker stupid. Die rede hoekom hulle die Kubane inbring is om die damme se sluise wat nie meer reg werk nie te kom probeer herstel. Sodoende kraai daar geen haan agterna oor hulle gemors nie. Gebruik hulle plaaslike mense sal dit uitkom, wat hulle tot elke prys wil verhoed.

Annalize ·

Goed so!!!
Daar is omtrent 2000 werklose HOOGS gekwalifisseerde in SA op die oomblik.
Die regering sal R2.5mil per Kubaan per jaar betaal, maar nie werkskep en ons ouens gebruik nie.

Stephen ·

Die ANC heeltemal uit voeling met die werklikheid. Die standaard van opleiding van die Kubane baie laag. Namibia het destyds Kubaanse Dokters ingevoer en vasgestel dat hulle bevoegdheid gelykstaande is aan die kwalifikasies van n Senior verpleeg suster.
Nee wat Sisulu stoot die rassehaat opsy en kyk watter top ingenieurs is beskikbaar in SA.

Porseleintjie ·

Almal wat kan breek en plunder, in SA wag n hoogsbetaalde pos vir jou! Natuurlik sal korupsie die briefhoof wees.

Flip ·

Die wit haat is so erg hulle sal liewers die land ten gronde laat gaan as om toe te laat dat wit mense werk kan kry.

Alex ·

My vrou is n dam ingeneur. Hulle firma is internationaal bekend. Hulle is nie BEE genoeg om werk in ons eie land te doen nie. Hulle sit met die vernaamste ingeneurs wat oral internasionaal werk kry en geld inbring. Dus die ekonomie te help. Hulle is goed genoeg om belasting te betaal vir werk wat hulle oorsee imbring, maar kom dit by interne tenders is hulle klaar uitgegooi voor hulle nog enige iets ter tafel kon gelê het. Dan kry jy iemand van waterwese wat dit besef en hulle n lui gee wat reken “I eat you eat”. Kurrup is die waterwese om self verrykende mense in hulle self het om dan so te wil werk met tenders as jy nie BEE genoeg is nie.

ES ·

Daar is dan wereldsanksies teen Kuba?? Hoe laat die VN toe dat ons hul vir enige tipe besigheidsdoeleindes gebruik?

Vernon ·

Die oorheersende faktor is ras, en dan ‘kickbacks’ vir wie ookal op die trein ry. Ek hoop hulle kan die Minister met die boek gooi en iets daadwerklik gedoen kry om die debakel stop te sit. Absolute skande, maar die ANC weet ook hy gaan nie nommers verloor by die stemboks nie, ongeag van wat hulle aanvang, so ek sal nie my asem op hou nie.

Hendrik ·

Afgesien daarvan moet hulle aansoek doen vir werkpermitte tydelike cerblyf permitte soos in alle ander afrika lande. Ook moet die posisie waarvoor hulle aansoek doen gestaaf word met n bewys dat daar nie beskikbare Suid Afrikaners is wat gekwalifiseerd is om die werk te doen. Dit word gedoen met n afskrif van n advertensie wat in plaaslike koerante geadverteer is en geen aansoeke ontvang het nie. Dit is wat die arbeidswet sê!

Pieter ·

Daar is baie amptenare in die staatsdiens wat oor die R1miljoen/jaar verdien sonder dat hul professioneel geregistreer is, alhoewel ‘n vereiste. Geld mors op onbevoegdes.

Elize ·

Hoekom is dit dan enigsins nodig om grade op universiteit te verwerf? Hier kan jy wees wat jy wil. Moet my asb nie vertel dat ingenieurs nie ook teen ‘n goeie betaling in die platteland sal gaan werk nie. Hierdie is net ‘n rookskerm om geld uit die land te kry. Ek wonder hoeveel van hulle het bankrekeninge in Kuba? 24 Ingenieurs is veels te min vir ons waterprobleme.

LANA is ELANè ·

Gaan vir hulle Solidariteit! Hierdie regerinhg ontken kundigheid van ons plaaslike mense en gewoonlik is die ontkenning rasgedrewe. EK ONDERSTEUN JULLE 100%

JohanR ·

Waar begin hierdie beslute? Dit moet iewers en by iemand begin. My vuurpyltjie val op Nkosazana Dlamini-Zuma want sy is absoluut verlief op die Kubane! 24 se teen R75000 elk ‘n maand praat ons van R1800000 ‘n maand.

Francois Le Cochon ·

R75,000 p/m vir n Ingenieur is n bargain! Begin salaris in SA is R120K tot R150K

Elsabe ·

Pragtig. Se net wanneer ons moet stap en plakate swaai voor die hof.

SirDikDeDunnerin ·

ECSA is ook maar stil, mens sou verwag dat hul meer aktief sal optree om lokale ing. te beskerm.

B-Man ·

Ag, vra sommer vir ECSA hoekom hulle 6 – 9 maande agterstallig is met nuwe registrasie-aansoeke. Asseblief Oom Dirk!

Rein ·

Kan die mense Engels (vergeet ʼn oomblik van die ander tale) praat/verstaan? Daar was destyds met die mediese dokters taalprobleme.

Francois ·

Ek is nie negatief maar julle kla verniet want dit gaan net op dowe ore val. Die komunistiese regering is uitgeslape.

jzjz05 ·

Daar word verby die eindelike rede vir die Kubane gekyk ,Dit is skuld wat die ANC moet betaal vir dienste gelewe in Angola. Hulle glo die Kubane het hulle gehelp maar ook goed so dat die eindelike helpers van somige westerste se lande wat gegio het die ANC is die verkoorenis nie eens meer genoem word nie

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.