Regstappe oor onderskrifte op TV

Die meerderheid mense met gehoorverlies verstaan nie gebaretaal nie en gebruik dit nie as ‘n kommunikasiemiddel nie. (Argieffoto: Unsplash)

Die Nasionale Raad vir Persone met Gestremdhede (NRPG) het met regstappe begin om die Onafhanklike Kommunikasieowerheid van Suid-Afrika (Okosa) te verplig om onderskrifte en byskrifte by staatsdiensaankondigings en nuusberigte te plaas.

Die raad vra sedert 2015 dat die owerhede onderskrifte of byskrifte insluit by nuusberigte, staatsdiensaankondigings en uitsendings van nasionale belang. Dit sluit in aankondigings wat met die Covid-19-pandemie, asook die jaarlikse staat- en begrotingsredes verband hou.

Fanie du Toit, ʼn senior spesialis in gehoorgestremdheid en dowe sake by die NPRG, sê die organisasie se versoeke en openbare kommentaar tydens die opstel van Okosa se Kode vir Persone met Gestremdhede, is herhaaldelik geïgnoreer.

“In Suid-Afrika word ʼn gebaretaaltolk gebruik om uitsendings aan gebaretaalgebruikers uit te beeld. Die beperking op die gebruik van ʼn gebaretaaltolk in televisienuusuitsendings is dat die meerderheid mense met gehoorverlies nie gebaretaal verstaan of as ʼn kommunikasiemiddel gebruik nie,” sê Du Toit.

Okosa het in April vanjaar die kode, wat vereis dat die uitsaaibedryf geslote byskrifte of onderskrifte moet gebruik, uitgereik. Geslote by- of onderskrifte benodig egter tegnologie soortgelyk aan ʼn TV-dekodeerder of internettoegang, wat vir die meeste Suid-Afrikaners onbekostigbaar of ontoeganklik is.

Du Toit sê oop byskrifte of onderskrifte – wat nie bykomende tegnologie benodig nie en maklik toeganklik vir die publiek is – word egter nie in die jongste regulasies verpligtend gemaak nie.

“Gevolglik sal arm huishoudings in Suid-Afrika sonder toegang tot regstreekse by- of onderskrifte op televisie bly en sodoende hul vermoë om openbare uitsendings as ʼn middel tot belangrike inligting te gebruik, ernstig beperk.

“Dit is ontoelaatbare diskriminasie teenoor persone met gehoorgestremdheid, wat gesproke taal en nie gebaretaal nie as hul primêre vorm van kommunikasie gebruik,” sê hy.

Die NRPG se aansoek om die kode te hersien en tersyde te stel, is op 5 Oktober deur die hooggeregshof in Pretoria uitgereik en is reeds deur die balju van die hof aan Okosa oorhandig.

Okosa het nou tyd om op die aansoek te reageer voor die NRPG verdere stappe sal oorweeg.

Suzette Oosthuizen, Helpende Hand se hoof van sentrums en nasionale takke, waaronder die Nasionale Tak vir Persone met Gehoorgestremdheid, sê hulle steun die stappe.

“Helpende Hand spreek hom ten sterkste uit oor die diskriminasie teen minderheidsgroepe, soos persone met gehoorverlies. Ons moedig beslis aan dat hierdie persone by ʼn horende meerderheid ingesluit word, en nie uitgesluit word van belangrike landsgebeure, nuusgebeure en ander relevante programme nie,” sê sy.

Ook Hannes Noëth, Helpende Hand se uitvoerende direkteur, sê die organisasie is dankbaar vir vordering in die aansoek.

“Dit is meer as net ʼn hofsaak – dit gaan oor lewensgehalte, inklusiwiteit en om nie persone met gehoorgestremdheid onregmatig te benadeel nie. Daarom is ons dankbaar vir die NRPG wat hierdie saak voor die hof bring en ondersteun ons hulle in die proses,” sê Noëth.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Blikke ·

Dit lyk of die gehoorgestremdes se versoeke op dowe ore Val…

Barney ·

Hulle wil dit nie doen nie want dan is al daai hand gebare mense sonder werk. Ook, dis onmoontlik om lewendige uitsendings te tik op skerm. Maar ek verstaan die frustrasie van die dowes want ons weet die hand gebare mense is nie almal baie goed nie. Soos daai een by Zuma se storie wat dit sommer gefop het. Lag alweer oor die toestand van die land.

Johan D ·

Niks anders as reg nie maar terselfdertyd moet ek die keuse hê om dit te kan afskakel!

Belinda ·

Plaas hul nuus kanaal maak wat net vir dowe mense is maak. Met onderskrifte en dan die hand gebare.
-Dit kan sommer help met die BEE status ens ook vir die uitsender, askook nog n werkskeppende geleendheid vir diegene wat wel onder druk is agv van hul ongeskiktheid.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.