Regstappe oorweeg ná DBV honderde diere uit skuiling verwyder

WAARSKUWING: Die foto’s in die berig is grafies van aard en kan sensitiewe lesers ontstel.

(Foto: DBV)

ʼn Regsgeding kan dalk volg nadat sewe honde en 114 katte vroeër vandeesweek weens bewerings van dieremishandeling uit die sorg van ʼn diereskuiling in die Viljoensdrift-omgewing in die Vrystaat geneem is.

Die Dierebeskermingsverening (DBV) van Vanderbijlpark en Vereeniging het meer as 100 diere van die PurrPaws-diereskuiling in die dorp verwyder nadat talle klagtes van die publiek ontvang is. Sowat 800 honde en 300 katte is volgens die DBV in haglike omstandighede by dié skuiling aangehou.

Dié ingryping volg kort ná ʼn brand by die einste diereskuiling uitgebreek het.

Maroela Media het vroeër berig dat ʼn brand op 31 Januarie by Lindie van Rooyen, die eienaar van PurrPaws, se huis uitgebreek het. Die huis dien as die hoofgebou van haar diereskuiling. Sowat 20 van Van Rooyen se honde het in dié brand omgekom.

Die DBV sê egter die swak toestand van die diere wat die brand oorleef het, is onverwant aan die brand en weens verwaarlosing.

Van Rooyen ontken egter dié bewerings. “Ek bedryf ʼn skuiling wat diere red van die straat en ashope af. ʼn Groot aantal diere wat inkom, is reeds siek,” het sy Vrydag aan Maroela Media gesê.

Luidens ʼn verklaring wou inspekteurs en vrywilligers van die DBV ten tyde van die brand hulp verleen aan die skuiling. Hulle beweer hul hulp is egter van die hand gewys en dít het vir hulle rooi ligte laat flikker.

(Foto: Die Dierebeskermingsverening van Vanderbijlpark en Vereeniging )

Van Rooyen sê dit is nie waar dat die DBV wou hand bysit soos hulle beweer nie. Volgens haar was dit eerder vir die DBV ʼn gulde geleentheid om op die diere beslag te lê aangesien hulle “die afgelope agt jaar probeer om haar skuiling se deure te sluit”.

“Hulle het net gekom om fout te soek,” sê sy.

Volgens die DBV het inspekteurs en vrywilligers op die toneel van die brand onraad gemerk nadat diere ná die brand glo lukraak aan gemeenskapslede uitgedeel is. Die DBV beweer geen rekord is gehou van watter dier na watter gemeenskapslid gaan nie.

Volgens Van Rooyen is dit egter nié die geval nie. “Ek weet presies waar elke dier is. Ons was in beheer van die situasie. Daar was op die aand ʼn beheerpunt en al die diere is in ʼn boek opgeskryf.”

Marlien de Klerk, bestuurder van die DBV in Vanderbijlpark en Vereeniging, het gesê meer as 1 000 diere is vóór die brand by die skuiling aangehou.

Van Rooyen het dié syfer aan Maroela Media bevestig.

“PurrPaws is die enigste skuiling in die Vaal Driehoek wat hulp aanbied. Ek is nie ’n animal hoarder nie. Ek doen alles in my vermoë om diere ʼn kans te gee.”

Die DBV meen egter dit is vir enige skuiling onmoontlik om voldoende sorg vir meer as 1 100 diere te bied. “Elke dier moet minstens een keer per dag individueel ondersoek word om te verseker dat hy of sy gesond is, wat onwaarskynlik is in ʼn skuiling wat so ʼn groot aantal diere huisves,” sê De Klerk.

(Foto: Die Dierebeskermingsverening van Vanderbijlpark en Vereeniging )

Van Rooyen beweer dat sy nie “gekwalifiseer” is om diere van kant te maak nie. Sy beweer dat haar span daagliks deur die hokke loop en diere ondersoek.

Volgens Van Rooyen beloop die skuiling se veeartsrekening sowat R60 000 per maand en diere word maandeliks doseer.

Die DBV sê egter die diere word in vuil en oorvol hokke op die perseel aangehou. “Die diere is aan hul eie genade oorgelaat. Hulle het aan alles van leukemie tot diarree gely. ʼn Voltydse veearts behoort daagliks siek en beseerde diere te ondersoek en te behandel, wat nié by die skuiling gedoen is nie.”

Volgens die DBV het sommige diere oor kos baklei terwyl ander stukkende plekke aan hul lywe gehad het. Die diere was ook glo oortrek met vlooie en nie gesteriliseer nie. Perde op die perseel het volgens De Klerk tussen vullis en skerp voorwerpe geloop.

Die DBV het ná ʼn voorlopige ondersoek ʼn waarskuwing aan die diereskuiling gerig waarna die diere tydens ʼn opvolginspeksie op 4 Februarie uit hul sorg geneem is.

Van Rooyen vertel dat geen bewyse ten tyde van dié beslaglegging by haar ingedien is oor waarom die diere weggeneem word nie. Sy gaan gevolglik regsadvies inwin.

Die meeste diere is in ander welsynsorganisasies se sorg geplaas op voorwaarde dat PurrPaws alle koste sal dra. Dié sorg het Van Rooyen glo reeds R20 000 uit die sak gejaag.

(Foto: Die Dierebeskermingsverening van Vanderbijlpark en Vereeniging )

Die skuiling het tans 100 honde en 100 katte oor in hul sorg. Baie gemeenskapslede sien ook steeds om na van die diere.

Van Rooyen sê die skuiling sal binnekort afgebreek en herbou word weens die skade aangerig deur die brand.

Die DBV beplan egter nié om van die diere terug in PurrPaws se sorg te plaas nie. “ʼn Diereskuiling is veronderstel om ʼn veilige hawe vir diere te wees, nie ʼn plek waar diere in ‘konsentrasiekampe’ gehou word sonder enige veearts of mediese behandeling nie. Ons is die bewaarders van diere en moet verseker dat hulle menslik en met waardigheid behandel word. Ons sal nie dieremishandeling duld nie,” sê De Klerk.

Die DBV gaan ʼn saak van dieremishandeling teen die skuiling aanhangig maak.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

35 Kommentare

honourable member ·

Dis so jammer dat diere altyd aan die kortste end moet trek. Dankie vir die goeie werk wat die DBV doen. Kan nie altyd maklik wees nie.

elize ·

waar was die DBV toe die vrou die diere van die strate af gekry het, is dit nie die DBV se werk om om te sien na rondloper diere nie, en Purr Paws het vir hulle ‘n huis gegee, so in plaas dat hulle haar aanval oor die diere,. HOEKOM HELP DIE DBV NIE

MissDemeanor ·

Elize,sy kon die diere na die DBV gebring het. Vergelyk bietjie die kondisie van honde wat by n DBV versorg word met die kondisie van die diere in Van Rooyen se sorg. Van Rooyen is nie in staat om die diere ordentlik te versorg nie. ‘n Kat wat in die veld rond dwaal en muise vang se kanse om te oorleef is heelwat beter as die van n kat wat in Van Rooyen se vrot plek aangehou word.

Pieter de Lange ·

Hoe sluit n mens aan by die DBV ek sukkel nou al n jaar lank want ek wil die diere beserm en en help. Ek is baie lief vir diere so mense asb help

christa ·

tronkstraf sal reg wees. Verbied haar om ooit weer ‘n dier aan te hou.

Haan ·

Gelukkig is daar geen tekort aan regslui op hierdie webwerf nie.

Cora Simpson ·

Hoe kan jy se tronkstraf. Sy het haar beste gedoen en diere van die straat af gehou. Moenie haar sleg se nie, want jy het nie gedoen wat sy doen nie.

Afstootlik ·

Jy is enige dier se grootste vyand. Rondloper diere is in haaglike omstandiggede maar ten minste is hul vry . By jou, van Rooyen is hul in haaglike omstandighede EN in gevangenisskap, dis nog erger. Sal graag vir jou wil vertel wat ek van jou dink, maar dit sal beslis nie geplaas word nie.

Johnnie ·

Ek hoop sy word swaar gestraf en ook n groot boete opgelê. Ek hoop haar plek word permanent gesluit.

Christien vd Westhuizen ·

Is dit nie n griewel in die oe van ons Skepper Vader nie sy is n gewetenlose skurk hoekom het sy nie hulp gaan kry toe sy sien dit gaan moeilik nie?

Woedend ·

Van Rooyen, hou op almal die skuld te gee vir jou foute en nalatigheid, vat jou pak soos n man en word groot!!!

Thinus Erasmus ·

Ek is verslae! hoe beweer jy dat jy omsien na diere en dit gaan so daar?
Hoeveel sulke plekke (telers ingesluit) is daar nog in hierdie land van sulke ontoerekeningsvatbare mense wat glo hul is diereliefhebbers?
Nee, dan is ‘n los verwaarloosde dier beter af.

Biebie ·

Wel ek het al fotos gesien van die ‘shelter’ voor die brand, en dit was maar haaglik. Ek dink sy het die plek met goeie intensies begin, en dit het te veel geraak. Ek dink die feit dat sy nie saam stem oor diere uitsit nie (no kill shelter), het gemaak dat sy en die DBV nie goed oor die weg kom nie, en sy nie hul hulp wou hê nie. Dink sy was te hardegat. Plaas het sy saam hul gewerk, eerder as om diere in sulke omstandighede aan te hou…

Daan Erasmus ·

Die DBV en baie ander diere welsyn organisasies doen sulke dramatiese goed soos om om baie diere beslag te lê. Met om naam te maak en geld in te samel. En NIEMAND word toegelaat om die DBV te inspekteur nie.
Almal wat so oordeel sonder die feite: met die maat waarmee jy meet..

Johanna Botha ·

Die welstand van n land se diere se jou presies hoe dit in daardie land gaan …….SIEK SIEK SIEK !

Gatvol ·

Ek is oortuig daai brand was gestig deur n bekende daar vir finansiele gewin. Van lank voor die brand het dit al ellendig daar gegaan

Gatvol ·

Die brand is self daar begin vir finansiele gewin. Van lank voor die brand het dit al ellendig daar gegaan

Kerneels ·

Ek was al by Purrpaws en ja daar was siek diere maar ook.baie gesondes. Sommige diere wat gered word is siek en sou seker deur DBV uitgesit geword het. Daar is altyd die ding moet mens die dier uitsit of nog ‘n kans gee. Ek self het my siek dier te lank gehou voor ek haar laat uitsit het. Dis nie altyd maklik om oor ‘n lewe te besluit nie.

NICK ·

Ja ne ! Ek stem dat die diere gelei het en ja dis verskriklik om n weerlose dier so te straf .
Almal van julle oordeel en beledig maar nerens lees ek dat een van julle hulp aanbied vir die diere nie.dis maar ons ou sleg nasie se viselike gewoonte om ander te oordeel en jyself
is die sot in die verhaal. As julle die diere so jammer kry hoekom neem julle hulle nie aan nie? Did nogal ironies hoeveel mense hulle monde uitspoel oor alles maar dis die onwilliges wat altyd eerste oordeel. Vee eers voor jou eie deur voordat jy ander oordeel! Gelowiges…….pfffft skeinheiliges defnitief!!!!!

Ekke ·

Sorry Nick, maar ek het met haar te doen gehad en sy is nie n aangename mens nie. Wens haar geen ongelukkigheid nie. Hoop die sal haar in haar hart laat kyk en haar lewe verander. Ek bid vir haar. God kan enigiets ten goede laat mee werk vir sy kinders.

Johann ·

Ek stem saam Nick. Ek wonder hoeveel van die mense wat hier negatiewe kommentaar lewer het al ooit ‘n sent vir die SPCA of ‘n shelter geskenk. Hoe siek om te beweer die brand is gestig vir finansiële gewin – ondersoek eerder julle eie harte!

Alida ·

Hoekom het die DBV nie maandeliks besoeke afgele nie? Hulle het mos geweet van die plek. Die vrou moet swaar gestraf word maar as daar gereelde besoeke was kon hulle toe al van die siek diere behandel het of uitgesit het. Beide partye is skuldig.

Hansie ·

Ek woon ook in die Vaaldriehoek, en weet watse werk hulle gedoen het, gewonde en dooie diere langs die paaie opgetel en versorg. Daar is heelparty ander persone wat saam elkeen n area dek met probleme. Hierdie mense hou gereeld geldinsamelings veldtogte, en pos inligting sessies op sosiale media. Almal wat so hul bekke uitwas, vat bietjie jou dier veearts toe, jy gaan nie onder R1000 uitstap nie. As n dier reopereer moet word word daar ten minste R2500 deposito verwag. Die DBV in Vanderbijlpark is net so treurig, en wonder mens waar al daardie skenkings heen gaan, want meeste van die tyd werk die fone nie eers nie. En dan wonder ek watse mense maak geld uit die arme diere? die mense werk dag en nag , want al die wegloop diere na oujaars se klappers se eienaars is nog nie nie opgespoor nie.Spoel julle beeke eerder daaroor uit. Hierdie mense kry vernielde diere in, en moet maar bontstaan om die kostes te dra. n Bosluis ontsmetting of helende salf teen daai kostes, jy hoef nie n helikopter vlienier te wees om daardie sommetjies te maak nie. Haar enigste fout was dat sy elke dier ingeneem het, ongeag die omstandighede, en probeer dokter met wat sy gehad het of haar hande kon ople

Anoniem ·

Julle wat Puurpaws nou so stenig hoekom het julle nie van die diere gevat en hulle versorg nie maar nee dit is mos lekker om aan die anderkant van die draad te staan en klippe gooi. En waar was die DBV gewees die dame wat nou so tekere gaan n ene Marlene jy het mos jou regte en kon lankal die plek laat toemaak het maar nou wag jy dat die plek eers afbrand en dan wil jy n geraas maak. Dit wil vir my eerder voorkom dat Marlene jaloers geraak het op Purrpaws omdat sy n beter diens gelewer het en nie heeldag in haar kantoor gesit en wag dat iemand n dier daar aanbring nie. 1000 diere hel nee dit kos moed en harde werk teenoor die DBV se minders as 100 diere. Gaan kyk self hoeveel is daar by die DBV voor julle klippe gooi

Hartseer ·

Dis hartseer om te sien hoe dieresorg n “kompetisie” word. Ek het soveel diere en jy het soveel….

Dis so maklik om te oordeel na beide kante van die geveg toe. Die DBV se eerste “course of action” behoort altyd leiding en opleiding te wees. Vir die gemeenskap en ander instansies.

Maar baie duidelike reëls behoort neergelê te word oor presies hoe diere welsynsorganisasies bedryf moet word. Hoeveel hokke, hoeveel diere, gereelde inspeksies.

Beide instansies se werkers, en veral die inspekteurs, word daagliks blootgestel aan die verskriklikste diere mishandeling en word dan ook nog deur die publiek misbruik. Miskien moet ons meer empatie hê met die betrokke partye, maar dis moeilik wanneer diere kwessies ons so na aan die hart lê…

We don’t see things the way they are, we see things the way we are.

Stella ·

Hoe kan sy vir so baie diere kos gee EN nog vir haarself ook sorg,jy moet baie welaf wees om so-iets te kan volhou en nog veearts dienste ook bekostig,vat liewer die diere DBV toe,hulle kan tenminste mediese hulp gee,sy kan eerder n bydrae gee amper soortgelyk aan wat sy moet uitgee as hulle in haar sorg is,en AS sy n groot diereliefheber is bied haar diens aan om te help met omsien van die hokke en kos gee.Sy verdien on gestraf te word,dankie vir die instansie wat ingegryp het.

ThinusErasmus ·

Ek is jammer dat my kommentaar saam met almal wat die betrokke instelling kritiseer, as monde uitspoel (tot beeke) beskou word. Ons het ook die welsyn van diere op die hart en ons was nie bewus van die plek of hul finansiele nood nie. (ek self bly in dorp sonder DBV)
Ek vergaar en/of teel nie met troeteldiere nie maar sorg goed vir eie hond en kat, en as daar ‘n ooit losloper dier by my opgedaag het, met die nodige liefde en simpatie behandel.
Maar as toestande handuit ruk en verwaarlosing volg soos in die geval, kan jy dit mos nie goedkeur nie!
Julle diereliefhebbers wat so te kere gaan oor ons kritiek moet jul woorde tel. Ons doen ons deel en julle het geen rede om so aggresief te raak nie.

Foxi ·

Oplossing………as jy nie soveel diere kan handteer nie dan maak jy n plan en betrek die DBV.
As die DBV nie hand wil bysit nie…….dan maak jy n bohaai. Moenie wag totdat als uit verband uitruk nie. Onskuldige diere wat ly gaan jou ook nie ryk maak nie.

Cornelia ·

@Hansie. “mense spoel hul mond uit” of spreek hul misnoeë uit oor dinge waaroor hulle ontsteld voel. Mense neem ook nét soveel diere aan as wat hulle kán behartig en kan liefhê in terme van jou interaksie met jou diere. Sekere honde verwelkom ook nie byvoegings sonder dat die eienaar onder groot druk geplaas word om konflik te vermy nie. Jack Russels veral hou nie van “vreemdelinge” nie. Al is die dierbare ook ‘n Jack Russel. Ek het my grypvernuf moes ken om gevegte in die lug op te hys en kalmerend tereg te wys tot die gemoedere bedaar. My eie littekens aan my vingers oorgehou. Die aanklag vd publiek kan voor die deur van diere eienaars gelê word wat die somtotaal van diere mishandeling en – verwaarlosing op ware diere liefhebbers afwentel.

Jk ·

Hoop daar word ook eendag so na die vrou gekyk as sy oud is soos wat dy na daardie arme diere gekyk het. Hulle moet haar maar n paardae sonder kos los

Frikkie ·

Die feit dat daar so baie diere was wat hulp nodig gehad het is maar weer n vingerwysing na die siek samelewing waarin ons leef. Mense wat net praat en praat en dan wegkruip as daar aksie geneem moet word. Uiteet en drank aan die orde van die dag meeste van die tyd maar nie tien rand om hulp te verleen nie, maar vinnig om backseat drivers te speel en stokstywe vingers rond te swaai na mense wat probeer help. Om nie eens te praat van diesulkes wat hierdie diere aan hulle eie genade oorgelaat het nie. Ongeag die uiteinde van hierdie saak moes hierdie diere derduisende rande gekos het om hulle net aan die lewe te hou vir so lank. Wens iemand wil die ware toedrag van sake ondersoek sodat n gekonsolideerde poging aangewend kan word om die probleem op te los.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.