Regstappe oorweeg ná SAUK-dokument uitlek

SAUK (Foto: Karen Sandison/African News Agency/ANA)

Die SAUK oorweeg regstappe ná ʼn “memorandum deur twee nie-uitvoerende direkteure wat aantygings bevat” aan die media uitgelek is.

ʼn Memorandum deur Mamodupi Mohlala-Mulaudzi, adjunkvoorsitter van die SAUK-raad, en Marcia Socikwa is op 13 September aan die raad voorgelê vir oorweging, het die raad Saterdag in ʼn verklaring gesê. Die memorandum bevat bewerings van onbehoorlike gedrag deur die uitvoerende groepshoof, Madoda Mxakwe, en hoof- uitvoerende finansiële beampte, Yolande van Biljon.

Die raad het nog nie die memorandum bespreek nie, aangesien die dokument versprei is kort voort die vergadering sou begin, lui die verklaring.

Die raad het gevolglik besluit dat die memorandum en sake wat verband hou met klagtes teen Mohlala-Mulaudzi en Socikwa tydens ʼn volgende vergadering bespreek sal word.

Die raad glo die memorandum “is uiters nadelig vir Mxakwe en Van Biljon”, aangesien dit bewerings bevat wat nog nie ondersoek is nie. “Totdat die bewerings ondersoek is en daar bevind word dat dit feitelik is, moet dit as bewerings hanteer word,” het die SAUK-raad bygevoeg.

“Die bewerings is ongegrond en lasterlik teen my en die hoof- uitvoerende finansiële beampte,” het Mxakwe gesê. “Ons is in gesprek met regsadviseurs in die verband.”

Volgens hom is al die name wat genoem word werknemers wat óf tans dissiplinêr verhoor word óf reeds afgedank is ná ʼn behoorlike proses gevolg is.

“Voormalige SAUK-werknemers oefen hul reg uit om die uitslag van dissiplinêre prosesse by die KVBA [Kommissie vir Versoening, Bemiddeling en Arbitrasie], die arbeidshof en die arbeidsappèlhof te daag. Die sake is hangende en ons maan almal om die proses te respekteer en hulself te weerhou om die uitslag voor te spring of daarmee in te meng,” het Mxakwe bygevoeg.

“Tydens ondersoeke oor bewerings van bedrog, wanbestuur, seksuele teistering, onbehoorlike salarisverhogings of onreëlmatige aanstellings, wil die SAUK behoorlike bestuur en ʼn kultuur van aanspreeklikheid verseker. Die SAUK het ʼn volgehoue sistemiese ineenstorting van bestuur en finansiële stelsels beleef en die huidige leierskapspan is verbind tot ʼn proses van rehabilitasie en om die SAUK te hernu. Dissiplinêre verhore het ten doel om behoorlike aanspreeklikheid te verseker.”

Volgens hom is dit duidelik dat daar ʼn “terugbaklei”-veldtog is teen die raad en die uitvoerende bestuur wat verantwoordelik is vir dié dissiplinêre prosesse. “Die veldtog behels die onbehoorlike toegang tot SAUK-dokumente en om dit uit te lek aan sekere mediahuise in ʼn doelbewuste poging om die onafhanklikheid en doeltreffende funksionering van die SAUK te ondermyn en om die indruk te skep dat die leierskap verdeeld is. Ons sal nie afgeskrik word nie.”

Die raad het sy ondersteuning benadruk “vir die uitstekende werk” deur die huidige uitvoerende bestuurspan onder leiding van Mxakwe en is tevrede met die suksesse wat reeds behaal is. “Ons staan ten volle agter die uitvoerende beamptes wat binne die wet optree en seker maak dat die openbare uitsaaier ontslae raak van alle nalatenskapkwessies.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Johanna Botha ·

Ag maak die plek net toe want dit is net een skande na die ander …..sauk is n geldput met onbevoegde onbekwame mense daar …dis n sirkus ! Gaan nie meer lesensie betaal nie …hulle kan nou self opsnork !

Joke! ·

Stem !Wat bied sauk nou eintlik vir Suid Afrika? Een bodemlose put waarin belasting betalers geld in verdwyn….

Kotjie ·

Sooo baie mense het destyds vir die SAUK gewerk..want dit was ‘n baie baie spoggerige pluk! Verskoon die Engels!!! “Grand” plek!! As iemand gevra het waar werk jy…en jyt gese die SAUK… ooo dan was jy sommer dadelik in tel!! Maar met die nuwe Bedelng!!!! Oepsie!!! Daar gaan die hele LAND en SAUK in sy maai! Nou sit ons met die gebakte pere!! Hoe gaan ons nou dinge ooit weer regkry? Vra maar net!!!

Nel ·

Hoe kaler jonker hoe groter pronker… en later word die vere gepluk en oepsie daar gaan die hele LAND en SAUK insy maai. :))

Koos de Meyer. ·

Ons ry Krugersdorp toe. By Die plakkerskamp langs die N14 het al die hutte skottels op, nou wonder ek hoeveel betaal TV lisensies. Maar jy kry gou ‘n aanmaning.

Gert van Wierdapark ·

Die SAUK genereer deurlopend hul eie “nuus” met die gevolg dat dit lyk asof dinge aan die gebeur is = ten goede of ten kwade, wie sal weet? maar ons betaal ongelukkig daarvoor!!!

Anel ·

Sie spul het nie geld nie, maar hofsake sal hulle maak. En die arme 2milj wat wel lisensies betaal gaan meer moet betaal vir niks. Laat die ander 7milj ook betaal dan sal daar geld wees. En hou op om die kaders sulke buitesporige salarisse te betaal.

George in Bloem ·

Solank mense in beheer is van die SAUK wat geen begrip van basiese besigheidsbeginsels het nie en nie eers in staat is om ‘n skoolsnoepie ‘n wins te laat maak nie,sal hierdie ANC instansie gedoem wees al word miljoene der miljoene in hom ingepomp. Kyk en luister net asb tog na hulle voormalige voorsitter ou Hlaudi wat sy onbevoegde onnoselheid aan die hele wereld tentoongestel het met sy onlangse getuienis voor regter Zondo. Daar is genoeg materiaal vir etlike “comedy shows” vir gewillige komediante. Bestuur nou enige besigheid suksesvol met so ‘n nar?

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.