Regstappe oorweeg ná seun se ‘nagmerrie-ervaring’ by hospitaal

Nathan Barnard met sy gebreekte gewrig.

ʼn Ma van Mbombela (Nelspruit) oorweeg regstappe nadat ʼn staatshospitaal in dié stad glo nie haar 11-jarige seun se hand, wat hy gebreek het, behoorlik behandel het nie.

“Dit was verskriklik. Hy is baie erg getraumatiseer,” het die ma, Annelise de Beer, gesê.

Haar seun, Nathan Barnard, het in September sy gewrig by die skool gebreek. Nadat hulle aanvanklik ure lank by die hospitaal moes wag om gehelp te word, is Nathan se gewrig onder narkose gespalk. Toe hy wakker word en ʼn X-straal weer van sy hand geneem is, het ʼn ander dokter gesê die been is steeds nie reguit nie en die prosedure moet herhaal word.

Dié keer het die narkose Nathan egter nie laat slaap nie en was hy wakker terwyl dokters probeer het om sy gewrig te spalk, sê De Beer. “Hy kan dit nou nie meer onthou nie, maar hy het blou moord geskreeu. Blou moord. Hy het dit alles gesien, hy was wakker.”

Annelise de Beer en haar seun Nathan (11). Weldoeners het gehelp dat ‘n private dokter sy hand behoorlik kan behandel.

Hulle is ná twee weke terug na die hospitaal vir ʼn opvolgbesoek, waar ʼn dokter wéér probeer het om die gewrig te spalk – en wéér sonder narkose, sê De Beer. Sy was self so geskok deur die prosedure dat sy flou geword het.

Drie weke later is hulle terug na die hospitaal, waar ʼn dokter volgens De Beer gesê het die hand het genees, ten spyte van die enorme knop wat dit steeds gehad het. Nathan het boonop gesê hy sal met sy seer hand loop, eerder as om weer terug te gaan hospitaal toe.

De Beer sê sy moes ook self pymedikasie in die hande kry, omdat die Panado wat die dokter voorgeskryf het, nie by die hospitaal in voorraad was nie.

“Ons is huis toe, maar hy kon nie sy hand beweeg of gebruik nie. Jy kon duidelik sien die hand is nie reg nie.”

De Beer sê sy kon dit nie net daar laat nie. ʼn Vriendin het ingegryp en by ʼn private dokter, ʼn ortopeed, vir Nathan ʼn afspraak gereël. Dié dokter het dadelik gesê die hand het allermins behoorlik herstel en ʼn operasie is geskeduleer om die hand te probeer red.

Ná ʼn pleidooi op Facebook en met die geldelike hulp van weldoeners, is Nathan se hand vroeër dié maand geopereer. Die dokter het die operasie gratis uitgevoer, terwyl sy vrou, ʼn narkotiseur, ook haar dienste gratis aangebied het. De Beer sê die dokter moes eindelik die been saag om dit weer reguit te kry, omdat dit intussen heeltemal skeef aangegroei het.

Nathan na die operasie.

“Dit gaan baie beter met my kind en jy kan nou weer sien hy het ʼn hand en ʼn gewrig. Die handjie is reguit, dis net die sny wat nog moet genees.”

Weens die voortdurende pyn was Nathan eindelik meer as 30 dae lank afwesig by die skool en moes hy sy eksamen mondelings aflê omdat hy nie kon skryf nie. Hy moet dus volgende jaar sy graad 4-skooljaar herhaal.

“Daai hospitaal het hom verniel. Hy is deur ʼn nagmerrie,” sê sy ma.

“Ek het nêrens oor die behandeling by die hospitaal gekla nie. Ek het aanhou sê die hand is nie reg nie, maar as jy nie baie geld het nie, moet jy dit maar los.”

Hoewel Nathan se hand steeds effe seer en ongemaklik is, is hy reeds op die herstelpad. Hy ontvang ook fisioterapie. “Die Here was goed vir ons. Dit was ʼn wonderwerk. Binne ure het ons al die fondse [vir ʼn operasie] ingesamel,” sê De Beer.

Behalwe vir die dokters wat hul dienste gratis aangebied het, het ander mense ook mildelik geskenk om Nathan te help. Die geld wat nié vir sy operasie gebruik is nie, is reeds geskenk om ánder kinders wat wag op mediese behandeling, te help.

“Sy storie het minstens ook iets goed tot gevolg gehad. Ons kon ander kinders ook help,” sê De Beer.

Sy sê sy oorweeg wel regstappe teen die hospitaal. Die organisasie Collision 24 staan haar hierin by. “Mense is afhanklik van staatshospitale. Hulle moet hulle werk doen.

“Ons is deur ʼn nagmerrie, maar ons sien ʼn goeie jaar vorentoe. Ons gaan hard werk en daar is hoop. Daar was soveel mense wat ons ondersteun het. Ek het geweldige dankbaarheid vir almal se hulp.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

53 Kommentare

KaterinaKat ·

Dan wil hul die NGV instel. Maak liewer die staatshospitale reg, kry dit op n vlak wat darem naastenby op eerste wereldse standaarde is!

Hannetjie ·

Kan die beste hospitaal he….as die drs en staf nie hul werk na behore kan doen…wat dan.Ons sal met die plan wat regering het..daarop aandring dat ministers en lede van die parlement daar hospitale gebruik.Hulle wil mos dit oorneem

Dankie ·

Dankie tog dit gaan beter!
Dankie aan almal wat gehelp het!

Nellie ·

My seun is in Oktober 2019 van ñ motorfiets afgery deur ñ taxi wat die rooi verkeerslig verontagsaam het. Hy het ook nie medies nie en het ook staats hospitaal toe gegaan met die ambulans. Sy regter arm is gebreek. Hy word toe eers 3 weke later geopereer om die breek reg te maak. Die Maandag na die operasie toe hy gaan vir Xtrale toe kom hulle eers agter die ander been in sy arm is ook gebreek. Nou moet hy eers die 14de Januarie 2020 terug gaan om te hoor waneer hulle die ander been gaan regmaak.

Ep ·

Staats hospitale is nag … is ek reg Rob Ferreira? Dis al aangewys as die slegste hospitaal. Waarom moet die arme kind sy skool jaar oor doen waar die ander nie eers skool toe kom en plein deurgesit word?

Petro ·

Toe ons jare gelede in Nelspruit gebly het, het almal die plek Vrot Ferreira genoem. Lyk my dis steeds so… Jammer vir die mense van Nelspruit wat die hospitaal noodgedwonge moet gebruik. Dis traumaties.

Devil ·

Nee wat, my kind sal nooit deur gesit word nie, maak nie saak wat nie.

Hy/sy sal deur kom of die graad herhaal.

Laat ons nou nie na hulle standaard daal nie, kom ons verdien liewer wat ons wil bereik!

Pretoriaman ·

Presies. Troppe leerlinge met Graad 2 ervaring slaag en gaan aan

James ·

Almal in regering en amptenare moet verplig wees om staats hospitale te gebruik. Dis onder hulle beheer.

Jammer aan die gesin wat dit slles moes deur maak. Sterkte!

M Kobus van Staden ·

Baie Dankie vir die hulp van ander!
Northmeat Clinic en Edenvale Hospitaal word net n voorskrif geskryf van medikasies Wat hulle nie het. (Kroniese meds) Hulle gee niks meer om!!!

Betsie ·

Meeste verpleegsters ken nie eers hulle id nrs nie en as jy hul vra om dit vir mens te lees kan hulle nie sien nie. Engels is ook nie eers vir hulle verstaanbaar nie. Hulle salaris is meer as dertig duisend rand en die blinkste karre. Ek weet dit want ek werk met hulle.

Nettie ·

‘n Liederlike voorbeeld van die huidige (agteruit)gang van die land. ALLES, maar soos in ABSOLUUT ALLES waaraan die A en See en sy spul selfbehepte, onkapabele kaders raak, verval in ‘n modderput van absolute gemors. Maar ………………. Viva iAfrica, viva Democracy, nè?

kobie ·

Dit is hoekom ek altyd sê en ek gaan weer ons moet onderhandel vir n onafhanklike tuistaat, daar is geen ander alternatief nie.

Dewald ·

Onderhandeling gaan jou nêrens bring nie. Wag tot SASSA opdroog. Dis die dag wat die regering alle mag verloor en totale chaos losbars. Dan kan jy hopelik net eensydig onafhanklikheid verklaar in n sekere gebied.

Siener ·

Alweer Dr’s wat onbevoeg is om hulle werk te doen. Al wat hulle sal regruk is as hulle vervolg word en verantwoordelik gehou word vir die onmenslike swak diens.

Attie ·

Waaarskynlik sub-standaard “dokters” wat uit uit buiteland gelok word.

Martie ·

Ja nee kyk….ons het so rukkie terug dieselfde stel afgetrap….dr wat nie eers die woorde op die mediese verslag kan uitspreek nie

toy ·

Ek sou regstappe geneem het as dit my seun was. Hierdie swak diens moet nou regtig op ‘n ent kom. ‘n Hospitaal is nie ‘n parkie of piekniek plek nie daar word mense gewerk en hul lewens. Hulle moet miskien hulle in iemand se skoene sit en dink as dit ek is hoe wil ek he iemand my behandel.

Johanna Botha ·

Kan nie eers die basiese regkry nie …wag maar vir NGV dan gaan dit eers pateties wees kyk mooi !

Devil ·

Al moet jy dag in en dag uit bake beans en brood eet, kry om hemels naam, ‘n mediese fonds, al is dit net vir jou kind.

Hanna Hoekom ·

Ek stem saam! Al is dit net n hospitaal plan. Medies is n moet! Jy waag jou lewe in n staatshospitaal. Ek moes maar kies: beter voertuig of mediese fonds. Ek ry maar met my 14 jaar oue motor. Ek het tot en met 2010 in die staat verpleeg… Ek weet waarvan ek praat!

Sê maar net ·

Sê ek ook, kry vir jou medies, dan hoef jy nie so te sukkel nie. Maar daar is nie veronderstel om onderskeid in hospitale te wees nie. Hospitale moet te alle tye professionele hulp en van die beste mediese ondersteuning hê….maar nou ja. Kom ons droom voort.

Johanna ·

Dis die onbevoegdheid van die personeel, die die hospitaal nie. al is dit n privaat hospitaal, as die personeel onbevoegd is dan gebeur sulke dinge.

Joann ·

Johanna, jy is reg, maar die Hospitaal bly verantwoordelik vir die dokters en die se optrede in die hospitaal. So sy kan die Hospitaal en die dokters laat les op se.

Petra Bronn ·

My linkerhand is in 2001 voor my oe deur n dokter vernietig.Klein beseringtjie gehad en wou net n Tetanus inspuiting he.
Die dokter het besluit om 2 steke in te sit omdat ek met my hande werk.
Hy het verdoof en die wond oopgeknip,waarna hy n pienk stof in n spuit opgetrek het om die wond daarmee te “spoel”.Dit het die senuwees in my hand chemies gebrand.Permanent.

Anoniem ·

My hart huil vir die trauma waardeur hierdie kind en sy mense is.

jaco ·

As jy in 2019 wit is in SA, pas jouself dan BAIE goed op, want watse negatiewe ding jy nou ook al oorkom, gaan jy NIE gehelp word deur ons anti-wit owerhede nie.

Julia ·

Ongelukkig kan lidmaatskap van ‘n Mediese Fonds nie die bekwaamheid van personeel verander nie. In plattelandse dorpies is daar net EEN hospitaal en of jy nou medies het of nie. jy sal daar opgeneem en behandel word. GEEN mediese fonds gaan jou uit hulle hande red nie. Jy is oorgelewer. Punt.

Maria Boshoff ·

Sonder om te kritiseer, maar as dit mý kind moes wees en ek het gesien waarheen dinge op pad is, sou ek gróót amok gemaak het! Soos dié mamma sê : hulle het nie geld (vir beter) daarom bly sy maar stil, dis loutere onsin dat óns mense, wat uitgelewer is aan staatshulp, met die minste tevrede moet wees; ons deel vd bevolking dra die héle Afrika met ons belastinggeld, daarom is ons geregtig op beter diens as die res vd bakhand-staners!
Baie dankbaar saam met haar en Nathan vir omgeemense, hulle loon wag eendag vir hulle ????????????????????

Riette ·

Wees maar bly jy was nog nooit in so ‘n situasie nie… Hoe meer amok jy maak, hoe slegter behandel hulle jou. My vriendin se 5 jarige seuntjie se penne is lewendig uit sy arm gehaal en met geweld toe breek hulle die armpie weer. Toe sê die dokter reguit vir hulle dis nou maar tussen God en die kind of hy oor die gebrek gaan kom wat hy nou het.

Maria Boshoff ·

Die klomp vraagtekens was bedoel om biddende hande te wees…

Sonja ·

Hoekom nou juis hospitaal toe? Jou huis dokter sou n beter job gedoen het. Maak geld vir sulke dinge en bly weg vd patetiese staats hospitale. Wil nog hulle NHI sien, patetiese gemors!

Malva ·

Stem saam… wanneer dit jou kind se welstand raak maak jy plan.

Ronel Nortje ·

Ja – ek sit vandag met slegs sig in my een oog (trombose gehad ) as gevolg van die nalatigheid en swak behandeling wat ek by ‘n staatshospitaal gekry het met my kind se geboorte 23 jaar terug. En buiten vir die nalatigheid was hulle UITERS , UITERS onbehulpsaam en ONVRIENDELIK. Aakligste ervaring van my hele lewe waarvoor ek tot my dood toe nog die prys sal betaal!!!!

Jaco ·

Al die Dr’s betrokke moet ook elk by die mediese raad aangekla word sodat tugstappe geneem kan word. Die Hospitaal gaan net skik dit is die maklikste en ek is bly hulle sal iets terug kry, MAAR dit sal net weer belasting geld wees wat beteken die 5% belasting betalers in die land betaal weer vir die onbevoegdheid met geen nagevolge vir die hospitaal bestuur. Dit is hoekom ek se die Dr’s betrokke moet by die mediese raad aangekka word deur die ouers

Ronell ·

Bly in Nelspruit en daai Hospitaal noem ons almal Vrek Ferreira.Daar is nie eers etes vir die pasiente nie.Die vleis wat hulle bestel vir pasiente kom nie by kombuis weer uit nie.en die beddens so vuil jy neem jou eie beddegoed !!! kokerotte en droe boed.Hulle gaan daai plek moet sloop om hom skoon te kry en almal daar moet fire!!!!!!! Maar ja dis mos Viva nuwe Afrika

Kolskoot ·

Raak gewoond hier aan julle dink die NGV sal julle bevoordeel dis n nagmerie

Natascha ·

Vat hul hof toe, my dogter het ook so n stel afgetrap en kan tot vandag nie haar elmboog reguit hou, en wil ook nie weer Hosp toe gaan. Die staats dr’s is regtig nie van hulp.
Net dankbaar vir die kind dat n Priv Dr ingegryp het om sy hand te red. Jul kan die Heer dank vir mense soos daai, hul is skaars.
Moet dit asb nie daar laat, die staats dr’s kom weg met als.

EO ·

Die ma sê sy “oorweeg” dit om ‘n klag teen die hospitaal in te dien. Ek sal dit BESLIS doen, nie eens oorweeg nie!! Is dit nie wonderlik van die dr en sy narkotiseur vrou wat dit gratis gedoen het nie??? Bravo vir julle. Mamma, gee hulle al hulle hel!! Jou kind het dit beslis nie verdien nie. Die hospitaal het nie eers Panado’s in voorraad gehad nie. Ek glo ook die dr wat Panado vir sulke erge pyn voorsgeskryf het is nie lekker in sy kop nie. Panado is baie goed, maar vir die arme kind se pyn kon hy darem seker iets beter voorgeskryf het. Maar………. aan die ander kant, sou die hospitaal vir seker ook nie sterker pynmedikasie in voorraad gehad het nie. Ai, die land van ons. Gaan net meer en meer agteruit.

Flip Boshoff ·

Ja dis waar ….vrek Ferreira….My Broer is n paar jaar gelede daar behandel vir blinde derm wat gebars het…terwyl hy voorberei was vir die operasie stoot hulle hom uit om plek te maak vir n swart vrou wat besig was om te kraam….noodeloos om te se my broer sterf …ek as sy broer kon niks doen nie ….want my sogenaamde skoonsuter wou nie verdere stappe oorweeg het nie teen die hospitaal nie….

Francois ·

Dis nou maar ons voorland mense – ons sal die wat nie wel-af is nie moet help in tyd van nood en hulle nie aan die noodlot oorlaat nie. As jy vandag na n staashospitaal gaan is kanse 70% dat jy slegter daaraan uitkom as toe jy in is. Ek is bly die mannetjie is so goed gehelp deur mense wat inbors het en dankie aan die mense wat harte en beursies oopgemaak het. Hoop jy jan sommer volgende jaar al krieket speel Nathan.

jakes ·

Dis n skande dat sogenaamde dokters nie n arm kan spalk nie. Hoeveel van hierdie menere het darem ten minste n 50% slaagpunt op universiteit behaal? Ek glo nie helfte van hulle het nie. As jy in n staatshospitaal instap, is jou lewe n risiko, net soos wat jou lewe n risiko is sodra jy in jou motor klim.

Gesiggie ·

Jy hoef niks te verduidelik… weet presies van waste Hospitaal jy praat?? die ervaring daar ook al gehad.. hul gee nie om vir n mens, so hier en daar meskien n Dokters wat ok is.. maar anders word jy sleg behandel, die Dokters is onbeskof en nie eers van die sisters te praat?? . Hul maar net daar vir die geld… en nie omdat dit eintlik hul passie is. Maak n saak teen hul.. jou kind is deur hel?? baie dankbaar dat hy ok is en dat daar Engele daar buite was wat omgee en gehelp het. Sterkte aan jul.

Jeannie ·

Sterkte vir die De Beer gesin voorentoe. Ek dank ons Hemelse Vader dat daar nog omgee Dokters is wat bereid is om gratis hul hulp aan te bied.

Susanna ·

Stel mense aan wat slaag syfer hoër as 30% en wat werk omdat hul werk hul trots is!!!!!

belangstel ·

In die ou dae was al die staats hospitale so goed as privaat. My twee kinders daar gebore en enige behandeling was goed. Ons het medies gehad by the way, maar nog steeds staats gebruik. Van 1995 het alles verander.

weswes ·

alles so anoniem..noem die mense by die naam wat aan die kind gewerk het dan weet ons ALMAL om katvoet te loop…

Sê maar net ·

My ma het haar been verloor weens nalatigheid by 3 verskillende staatshospitale en omdat hulle haar rondstuur van een hospitaal na die ander omdat hulle nie die toerusting en skandeerders gehad het om haar in ty dte help nie – sy het haar been verloor en dit het 2 jaar geneem vir die been om gesond te word omdat sy ‘n bakterie in die hospitaal “opgetel” het wat veroorsaak het dat die wond nie genees het nie. Dit was hel.

Antoinette ·

My ma was ‘n verpleegsuster so ek weet hoe dit in die “goeie ou dae” gegaan het.
Elke hospitaal het ‘n superintendent in beheer gehad wat in elke geval wat ek van weet ‘n gekwalifiseerde spesialis was met uitstekende kennis van gesondheidsorg en als wat daarmee saamggegaan het. Daar was nie dinge soos soos voorrade wat nie beskikbaar was, of hysbakke wat nie gewerk het of geen water vir dae lank en sulke dinge nie. Almal was met respek behandel ongeag ouderdom of ras of toestand.
Elke hospitaal het ‘n matrone gehad wat die hospitaalpersoneel in vrees en bewing gelaat het en alles en almal met ‘n ysterhand regeer het. Beddegoed was skoon en gereeld omgeruil en uit die kombuis het pasiente ordentlike kos ontvang.
My broer (self ‘n medikus) het in een van die ‘fancy’ klinieke in Johannesburg septesemie opgedoen. Hy was 4 dae in die intensiewe eenheid. Hy se hy het vir die suster gevra of die instrumente gesteriliseer is en sy het haar gewip. Daar het niks gekom van sy besware nie. Hospitale moet meer aandag gee aan die mense wat hulle aanstel in die edele beroep.

Magda ·

Dankie Jesus dat U mense oor hul pad gestuur het wat bereid was om dit verniet vir hulle te doen. PRYS DIE HERE!!!

Saamstem ·

Moet dit nie daar los nie! Dit is ONAANVAARBAAR.
Mamma, vat hulle vas!!!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.