Regstappe teen Black First Land First oorweeg

Andile Mngxitama. Foto: Skermskoot/kykNET-video

Die sakeregtewaghond AfriSake oorweeg regstappe om ’n interdik te bekom teen Black First Land First (BLF), Andile Mngxitama (leier van dié beweging) en Lindsay Maasdorp (nasionale woordvoerder), ná oproepe aan sy ondersteuners en lede van die publiek om onbeboude grond onwettig te beset.

AfriSake het oor die afgelope maande heen nuusberigte op verskeie media dopgehou en glo dat dit genoeg bewyse het om met toepaslike regstappe voort te gaan om dié aanhitsing tot geweld en grondbesetting in die kiem te smoor.

“Ons kan nie stilsit en dié kommentaar en oproepe ignoreer nie. Net soos in die geval van Julius Malema en die EFF sal ons ’n hof nader om ’n soortgelyke interdik teen Andile Mngxitama, Lindsay Maasdorp en die BLF te bekom,” sê Armand Greyling, regs- en beleidsanalis by AfriSake. “Mngxitama en Maasdorp behoort in persoon aanspreeklik gehou te word omdat hulle mense tot die pleging van dié tipe misdade aanhits.”

Die BLF het onlangs ook onder skoot gekom nadat hulle die publiek en hul ondersteuners aangehits het om protesaksies van stapel te stuur en joernaliste te intimideer wat volgens die BLF sogenaamde “wit monopoliekapitaal” bevorder. “Dit is egter duidelik dat die BLF nie ’n organisasie is wat op die beginsels van demokrasie gebou is nie, maar eerder op geweld en intimidasie sonder enige agting of respek vir die grondwetlike regte van mense.”

Charles Castle, bestuurder van die arbeidsregadvieseenheid by AfriSake, het bygevoeg die BLF se dade is niks meer as strafregtelike dade nie en moet dienooreenkomstig gestraf word. “Die groep is nie eens as organisasie, politieke party of maatskappy geregistreer nie en is eerder ’n kwaadwillige rassistiese groep. Hul menings en standpunte kom neer op die aanhitsing van haatmisdade teen ’n minderheidsgroep in Suid-Afrika. Enigeen het die reg om te betoog en ’n mening te huldig, mits dit nie teen die grondwetlike regte van ander mense indruis nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

dom ·

HAHA.. WERKLOSE NIKSWERTE WAT NOU AL N GROEP STIG VIR KRIMENELE. IS DIE NAAM NIE RASSISTIES NIE.

LMGA!!! ·

Black First Land First e afkorting moet sekerlik BFLF wees. Nie BLF nie. Verseker mis die “geleerdes” ‘n letter op hul T-hemde.
LMGA!!!!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.