Regstappe teen Maties oor taalbeleid

Universiteit Stellenbosch. Foto: Facebook

Universiteit Stellenbosch. Foto: Facebook

AfriForum Jeug sal regstappe teen die Universiteit van Stellenbosch (US) neem nadat die universiteit tydens ʼn spesiale raadsvergadering ʼn besluit oor die instansie se taalbeleid geneem het wat teenstrydig is met ʼn vroeëre skikking wat tussen AfriForum en die US bereik is.

Bernard Pieters, AfriForum se kampuskoördineerder vir Maties, het Woensdag in ʼn verklaring gesê die organisasie was op Vrydag 12 Februarie op die punt om ʼn interdik teen die US te verkry vir die verbreking van sy eie taalbeleid.

“Ons het slegs onttrek omdat verteenwoordigers van die universiteit op die trappe voor die hof ʼn belofte teenoor ons gemaak het dat die taalbeleid en -plan toegepas sou word en dat Engels nie ten koste van Afrikaans uitgebrei sou word nie. Nou het die raad op ʼn dringende grondslag inderwaarheid ʼn nuwe taalbeleid en -plan vir die US goedgekeur,” het Pieters gesê.

Volgens Pieters gee die besluit in praktyk personeel volmag om self te besluit watter taal voorkeur mag geniet totdat ʼn nuwe taalbeleid en -plan saamgestel is. Hy het gesê deel van die skikkingsooreenkoms was dat AfriForum Jeug geken sal word in die opstel van ʼn nuwe taalbeleid asook in die prosesse wat daarmee gepaardgaan. Die organisasie is glo glad nie oor die nuwe verwikkelinge geraadpleeg nie.

“Die besluit dat die bestuur die taalbeleid ‘soepel’ mag toepas, is niks anders as ʼn voortgesette afwyking van die taalbeleid ten gunste van Engels en ten koste van Afrikaans nie. Dit maak Engels die US se primêre taal en Afrikaans speel tweede viool,” het Marlé Odendaal, nog ʼn kampuskoördineerder, gesê.

“AfriForum Jeug het verneem dat raadslede tydens die vergadering deur regslui gewaarsku is dat hulle besluit waarskynlik op ʼn verbreking van die ooreenkoms met die burgerregte-organisasie neerkom. Tydens die stemming wat gevolg het, het ses raadslede teen die mosie gestem, 15 ten gunste van die mosie, terwyl een persoon buite stemming gebly het,” het Odendaal gesê.

“AfriForum Jeug het sy regspan opdrag gegee om moontlike regstappe te ondersoek teen die 16 raadslede wat nie téén die mosie vir die verdere afwyking van die taalbeleid gestem het nie.” Die jeugorganisasie het glo met studente op die kampus bevestig dat klasse ná die hofskikking asook ná die raadsvergadering steeds nie aan die taalbeleid voldoen nie.

“Studente op kampus, veral dié by die regs- en ingenieursfakulteit, sê dat hul klasse slegs in Engels aangebied word. Studente van die ander fakulteite kan ook getuig dat klasse nie volgens die taalbeleid van gelyke status aangebied word nie,” het Pieters gesê.

“AfriForum Jeug aanvaar nie die raad van die US se verwysing na die taalbeleid as ‘buigsaam’ nie. Dieselfde geld vir die direkte ontkenning deur raadslede tydens Saterdag se verkiesing met betrekking tot die hofskikking.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

anna ·

Dit is duidelik dat die rektor of rectumium nie weet wat om te doen nie. Hy wil so in wees met die regering – hy en sy spannetjie – . Dit is waarom Afri – Jeug nie genooi was nie!! Verwaande mens

tamboti ·

Toemaar oor ‘n paar jaar wanneer die universiteite in popo plase verander het, dan sal hulle in stilte berou he oor hul kruipery, te laat maar dan sal ons reeds alternatiewe he wat ons eie is.

HEVW ·

Hoop hierdie kat en muisspeletjie waar alles op n bedenklike wyse gedoen word, gaan nou einde kry. Soos vroeer in n kommentaar gemeld; die groot probleem by US is integriteit. Behoorlik dikvellig.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.