Regstellende aksie word verkeerd toegepas, sê MRK

Dr. Dirk Hermann. Foto: Reint Dykema

Suid-Afrika se Menseregtekommissie (MRK) het in ’n deurtastende en belangwekkende studie bevind dat die wyse waarop die land se beleid van regstellende aksie toegepas word ongrondwetlik is en dat die regering dit dus moet verander.

Dit is waarskynlik die belangrikste bevinding ooit teen die ANC-regering se regstellende aksie-beleid, want soos die openbare beskermer is die MRK ’n liggaam wat geskep is kragtens art. 9 van die Grondwet en moet die parlement in die belang van die ondersteuning van die grondwetlike demokrasie-uitvoering die kommissie ondersteun.

Die bevindings sou wel waarskynlik – soos die openbare beskermer s’n – deur ’n hof getoets kon word, met die hof se onderskrywing of afwysing daarvan wat bepalend sal wees of dit bindend sal wees of nie.

Dit is ’n omvangryke, genuanseerde en redelik ingewikkelde verslag wat ten beste verstaan sal word as dit volledig bestudeer word, maar op die keper beskou, bevind dit dat die regering se eenvoudige fokus op ras en geslag vir regstellende aksie in stryd met die Grondwet en dus onwettig is.

Die Wet op Diensbillikheid – ’n hoeksteen van die huidige regstellende aksiebeleid, word spesifiek deur die MRK as ongrondwetlik uitgewys, wat ’n krisis vir die beleid se uitvoering skep.

Dit is belangrik om daarop te let dat die MRK nie aanbeveel dat regstellende aksie gestaak moet word nie, en nie bevind dat die speelveld in die ekonomie nou gelyk is nie. Die statistiek dui steeds op die algehele dominansie van wit mans in byvoorbeeld direkteursposte van private maatskappye.

Die sentrale bevinding is dus wel dat ongelykhede deur regstellende aksie reggestel moet word, maar dat die wyse waarop dit tans gedoen word, onwettig is.

Die belangrikste drie aspekte van die bevindings is eerstens dat behoeftige vermoëndheid (armoede en die vermoë om die taak te verrig), swaarder moet weeg as wat tans die geval is, en dat blote ras en geslag minder belangrik as tans moet wees.

Tweedens moet die regering die impak van bestaande regstellende aksie-maatreëls deurgaans wetenskaplik opweeg en verreken sodat dit aangepas kan word by veranderende omstandighede. So is byvoorbeeld bevind dat wit vroue ontsettend onderverteenwoordig is in die direkteurskappe van private maatskappye – meer so as baie ander groepe.

Regstellende aksie moet dus deurgaans kwantitatief en kwalitatief gemeet en aangepas word by veranderende omstandighede – wat twintig jaar gelede vir regstellende aksie gegeld het in die grondwetlike strewe na gelykberegting, geld nie noodwendig steeds nie; verandering is dus nodig.

Derdens is konteks volgens die MRK belangrik. As voorbeeld word spesifiek en breedvoerig na die hofsaak verwys waarin die vakbond Solidariteit namens meestal bruin, Wes-Kaapse werknemers van die departement van korrektiewe dienste aangevoer het unieke plaaslike en provinsiale demografie moet meer bepalend as nasionale demografie vir die uitvoering van regstellende aksie wees. Die MRK het die konteks-argument egter wyer as die voorbeeld tot beginselargument uitgebou.

In reaksie het dr. Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit, die bevindings verwelkom.

“In’t kort beteken dit dat Suid-Afrika se regstellende aksie-beleid onwettig is. Die bevinding volg nadat Solidariteit ’n klag oor die beleid by die Verenigde Nasies se komitee vir die uitskakeling van rassediskriminasie, die polisie en die Menseregtekommissie ingedien het,” het Hermann gesê.

“Dit gaan die aard van regstellende aksie vir altyd verander. Die departement van justisie, die departement van arbeid en die diensbillikheidskommissie moet die Menseregtekommissie teen die begin van Februarie aanstaande jaar inlig hoe die stelsel verander gaan word,” het Hermann, ’n jare lange stryder teen die wyse waarop regstellende aksie toegepas word, opgemerk.

“Die regering gaan nie van hierdie bevinding af wegkom nie. Dis ons grootste oorwinning nog. Dis ’n bevestiging van ons standpunt dat ras nie die enigste faktor in regstellende aksie kan wees nie,” het hy voortgegaan.

Solidariteit gaan nou ’n verklarende bevel van die hof aanvra oor hoe die departement van arbeid en werkgewers die situasie moet hanteer totdat die wet gewysig word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

45 Kommentare

jongste oudste gewildste
Verlig

Well done! Kom ons gee werk vir die wat die werk kan, en wil doen. Dit gaan baie vir ons jong seuns en dogters beteken. Dit sal natuurlik nou weer met protes en moord gepaard gaan, maar ‘n pluimpie in die hoed vir Solidariteit!

Daan

So, gaan die regering onmiddelik ophou ?

Alida

Hoeveel blankes moes hulle werk verloor voordat hulle dit agtergekom het.

Ben

Kom ons begin deur net na die Regering se ministers te kyk. Hoeveel Blankes? Hoeveel Indiers en Hoeveel Kleurling? Blankes bestaan uit verskillende groepe, nl Nederlanders, Franse, Britte, Porteguese,Duitsers,Grieke en ander minder groepe. Dus is hierdie nie n kabinet wat die Reenboog nasie verteenwoordig nie maar totaal ‘n rasistiese Kabinet. In Rugby moes daar transformasie plaasvind wat ook gebuer het. Wanneer gaan ons Transfomasie sien in die ANC regering? In die sport Sokker is daar ook geen Transformasie. Dit is absoluut verbassend hoe ‘n mens die splinter in ander se oe sien maar nie Balk in jou eie oe nie.… Lees meer »

Willem

En wat van diegene wat agv die ongrondwetlike toepassing hiervan hul werk verloor het, wat word van hulle? Sal hulle weer indiens gestel word, of terugwerkend vergoed word? Kan iemand hier antwoord?