‘Regstelsel het ons gefaal,’ sê Anni se familie

Anni Dewani Foto: Facebook (Bron: dailymail.co.uk)

Anni Dewani Foto: Facebook (Bron: dailymail.co.uk)

Anni Dewani se familie het Maandag nadat Shrien Dewani vrygespreek is op aanklag van haar moord gesê die regstelsel het hulle gefaal.

“Ons het hiernatoe gekom om antwoorde en die waarheid te kry en al wat ons gekry het is nog vrae,” het Ami Denborg, Anni se suster, namens die familie aan die verslaggewers gesê. “Al wat ons wou hê was om te hoor wat alles gebeur het en die hoop om dít uit te vind het ons as ʼn familie aan die gang gehou.” Volgens Deborg is dié reg van hulle af weggeneem.

“Ons wens net Shrien was eerlike met ons en veral met Anni. Die feit dat ons nooit sal weet wat met my liefste klein sussie gebeur het op 13 November 2010 nie, sal vir altyd by my, my familie, my broer en my ouers spook.”

Deborg het die publiek bedank vir hulle ondersteuning en gesê sy hoop dat geen ander familie ooit hoef deur te maak wat hulle deurgemaak het nie. “Ons, as ʼn familie, sal geen verdere kommentaar lewer nie en ons vra die media om ons spasie te gee vir nadenke.” Anni se ouers en broer was in trane terwyl hulle die media toegespreek het en is deur ondersteuners getroos.

Adjunkregterpresident Jeanette Traverso het in haar uitspraak gesê dit is jammer dat daar steeds talle onbeantwoorde vrae is oor wat gebeur het die aand toe Anni geskiet is. “As enige hof egter toelaat dat die openbare mening of emosie die toepassing van die reg beïnvloed, sal dit tot anargie lei.”

Traverso het vroeër Maandag ʼn aansoek deur Dewani se regspan dat die aanklagte teen hom teruggetrek moet word, toegestaan.

Dewani het ná Traverso se uitspraak emosieloos by die trappe af na die aanhoudingselle geloop. Sy familie het in trane uitgebars na die uitspraak. Dewani se regspan het vroeër ʼn art. 174-aansoek ingevolge die Strafproseswet by die hof ingedien en versoek dat die aanklagte teen hom teruggetrek moet word en dat hy vrygespreek moet word.

Dewani se verhoor het op 6 Oktober begin. Hy is aangekla van moord, ontvoering, roof met verswarende omstandighede en sameswering om hierdie dade te pleeg. Hy is ook van dwarsboming van die gereg aangekla. Dewani het onskuldig gepleit op die aanklagte teen hom.

Dewani is op 8 April na Suid-Afrika uitgelewer om verhoor te word. Hy het verskeie kere appèl aangeteken voor hy uiteindelik uitgelewer is.
Dewani is daarvan beskuldig dat hy die moord op Anni, tydens hul wittebrood in Kaapstad in November 2010, beplan het. Drie mans is reeds aan haar moord skuldig bevind en gevonnis.

Klik hier vir vorige berigte oor die saak.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

jakoos ·

Die regter se^: ““As enige hof egter toelaat dat die openbare mening of emosie die toepassing van die reg beïnvloed, sal dit tot anargie lei.”

Vertel dit vir regter Masipa – haar vyf jaar tronkstraf vir OP was pure voldoening aan emosie van die familie en Gerrie N – en die sogenaamde openbare mening wat tot nou toe glo dat OP vir Reeva in koele bloeden vermoor het. Gaan lees weer haar vonnisoplegging.

Berna ·

Wat n bespotting van die wet, jammer maar Jeanette Traverso is net nog n lui regter. Sy wou nie hoor dat Dewani die vrou onder valse voorwendsels getrou het nie, en daarom is sy net so skuldig, sy het haar plig versuim.

Pietsnot ·

Nee Berna, nou’s jy verkeerd. Jeanette Traverso is loshande die beste regter in die Kaap, en vir seker een vd beste in die land. Hardwerkend. Uiters intelligent. Baie reguit. Onkreukbaar eerlik. Alles wat jy van ‘n regter verwag.
Dat die reg Anni Dewani gefaal het, is seker. Dis egter nie die regter se skuld nie. Sy kan net werk met die getuienis wat sy voor haar het.
Ek kan self nie glo dit het gebeur nie, maar hierdie regter sou nie ‘n aansoek om afwysing vd klagte toegestaan het sonder baie goeie rede nie. Juis nie hierdie regter nie.

Anke ·

Indien jy wil wegkom met moord, DOEN DIT IN SUID AFRIKA!!!!!!!!

Peet ·

In die geval was dit nie die regter nie – die staat kon nie genoegsaam bewys….. En daar was Shrien baie slim. Hy sou nie hiermee weggekom het bv in Engeland nie. Dit is soos Anke se.. DOEN DIT IN SUID AFRIKA!!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.