Regstreeks: 2021 Munisipale verkiesing

Die 2021- munisipale verkiesing is tans onderweg.

Maroela Media sal gereeld die jongste verkiesingsnuus en ‑uitslae hier beskikbaar maak. Onthou om die bladsy gereeld te herlaai om die jongste nuus te sien.

Oudafrigter Peter de Villiers reg vir Drakenstein  

Oudafrigter Peter de Villiers is GOOD se burgemeesterskandidaat vir die Drakenstein-munisipaliteit. (Argieffoto: Stephane de Sakutin/AFP)

Die voormalige Springbokafrigter Peter de Villiers het Maandag by ʼn kleuterskool in die Paarl gestem.

De Villiers is GOOD se burgemeesterskandidaat vir die Drakenstein-munisipaliteit in die Wes-Kaap. Hy het aan EWN gesê hy is tevrede met die party se werk in aanloop tot die verkiesing.

“Ek is altyd baie, baie positief. Wat moet gebeur, sal gebeur. Dit is my leuse in die lewe.”

GOOD het vroeër gesê De Villiers is sy lewe lank al ʼn leier en verstaan die druk wat mense se verwagtinge veroorsaak. Hy weet egter ook hoe belangrik spanwerk is.

Volgens die party verstaan De Villiers die “armoedesiklus” en die opdraande stryd wat swart mense voer wanneer hulle wegbreek van hul “historiese rolle”.

“Hy het al by sommige van die deftigste tafels in die Paarl aangesit en by sommige van die armstes. En hy het die nodige ondervinding van kontrakte en die bestuur van begrotings.”

De Villiers het aan EWN gesê hy is senuweeagtig, maar glo ook hy is opgewasse vir die taak.

“Ek het dit in rugby gedoen. Ek was 20 jaar lank ʼn onderwyser. Ek dink die politieke speelgrond is groter, die gehoor is groter.”

Volgens De Villiers is dit belangrik om die regte mense in die regte posisies te kry om die werk gedoen te kry.

OVK ‘onkant betrap’

Dr. Pieter Groenewald, leier van die VF Plus, trek sy kruisie in Stilfontein, Noordwes. (Foto: VF Plus)

Dr. Pieter Groenewald, leier van die VF Plus, het vroeër vandag in Stilfontein in Noordwes gestem. By hierdie stempunt het sake vlot verloop. “Ek is verras met die opkoms van die mense, hulle het in groot getalle kom stem.”

Volgens Groenewald het die party wel van etlike probleme verneem. By een stempunt in die gebied het die lokaal teen omstreeks 11:00 steeds nie geopen nie, terwyl talle kiesers gekla het dat hulle name nie op die kieserslys verskyn nie, al het hulle aanlyn geregistreer en ʼn SMS as bewys van registrasie ontvang.

Die party is ook bekommerd dat mense wat spesiale stemme uitbring en die naweek by hul huise besoek is, se stembriewe nie gestempel is nie. ʼn Stembrief is nie geldig as dit nie op die agterkant gestempel is nie.

“Dit wek groot kommer,” sê Groenewald.

Hy sê die party gaan na afloop van die stemmery vra hoeveel ongestempelde briewe daar eindelik was.

“Ek is bekommerd oor die vermoëns van die Onafhanklike Verkiesingskommissie (OVK). Ek kry die idee hulle het gedink die verkiesing gaan eers in Februarie plaasvind.

“Ek dink hulle is onkant betrap.”

Malema stem in Limpopo

EFF-leier Julius Malema het in Seshego in Limopopo gestem. (Foto: EFF/Twitter)

Julius Malema, uitgesproke leier van die EFF, het ʼn kort ruk gelede saam met sy vrou, Mantoa Matlala Malema, by die Mponegele Primary School in Seshego in Limpopo gestem.

Malema sê die party het alles moontlik gedoen om sy boodskap by kiesers tuis te bring.

“Ons kan nou net vir die beste hoop.”

Malema het ook ʼn beroep op jong mense gedoen om in groot getalle na stembusse op te ruk en hul kruisies te gaan trek.

Julius Malema, leier van die EFF, en sy vrou, Mantoa, wag buite ‘n kiespunt in Seshego om hul kruisies te trek. (Foto: EFF/Twitter)

Meer as 3,5 miljoen stem reeds  

(Argieffoto: Henk Kruger/African News Agency)

Teen Maandag om 12:00 het meer as 3,5 miljoen mense reeds hul kruisies getrek in die munisipale verkiesing.

Volgens Glen Mashinini, voorsitter van die Onafhanklike Verkiesingskommissie (OVK), is 99% van die stempunte operasioneel met vertragings wat by minder as 1% van stempunte landwyd voorgekom het.

Daar was onder meer gevalle waar tente omgewaai het en in ander gevalle het verkiesingsbeamptes laat opgedaag.

In KwaZulu-Natal het minstens 20 stempunte nie betyds oopgemaak nie weens betogings. Dit was ook die geval in die Oos-Kaap met minstens 19 stempunte wat geraak is.

In Limpopo het ʼn haelstorm in die Giyani-gebied tot gevolg gehad dat stempunte laat oopgemaak het terwyl kragonderbrekings in sommige gebiede ook tot vertragings gelei het. In Modimolle is ʼn waarnemer by een stempunt versoek om die lokaal te verlaat aangesien sy party-regalia aangehad het.

Kragonderbrekings het ook vertragings by sekere stempunte in dele van die Noord-Kaap gelei.

In die eThekwini-metro in Durban, KwaZulu-Natal, is ʼn voortsittende beampte by ʼn stempunt in hegtenis geneem nadat die persoon glo gemerkte stembriewe in stembokse gedruk het.

In Taung, Noordwes, is ʼn klag aanhangig gemaak teen ʼn voortsittende beampte by ʼn stempunt nadat die persoon glo ʼn stemboks oopgemaak het wat reeds geseël was.

Die OVK het gesê hy betreur die voorval waarin een van die nuuskanaal Newzroom Afrika se verslaggewers in Soweto in hegtenis geneem nadat hy daarvan beskuldig is dat hy ingemeng het met die uitvoering van ʼn OVK-beampte se pligte. Die joernalis is later vrygelaat en die OVK sê ʼn ondersoek sal na die voorval gedoen word.

Daar was volgens Mashinini geïsoleerde voorvalle waar kiesers by stempunte weggewys is omdat hulle party-regalia aangehad het. Hy het dit duidelik gemaak dat slegs partyagente nie toegelaat word om party-regalia aan te hê nie en dat kiesers wat weggewys word onmiddellik die OVK se kontaksentrum moet skakel by 0800 11 8000.

Kiesers kan net stem in die wyk waar hulle geregistreer is en kan tot 21:00 vanaand nog hul kruisies trek. Stembriewe moet op die agterkant gestempel wees om geldig te wees. Mashinini het ook daarop gewys dat dit verbode is om foto’s van gemerkte stembriewe te neem.

Zuma stem ANC

Oudpres. Jacob Zuma was in goeie luim toe hy Maandagoggend sy kruisie by ‘n stempunt in Nkandla getrek het. (Foto: ANC/Twitter)

’n Oënskynlik gesonde oudpres. Jacob Zuma is Maandag te midde van luide applous in Nkandla verwelkom waar hy sy kruisie in die munisipale verkiesing getrek het.

Die oudpresident het ná die tyd aan verslaggewers gesê dis geen geheim dat hy vir die ANC gestem het nie en het ander aangemoedig om óók vir die regerende party te stem.

Pres. Cyril Ramaphosa en sy vrou, Tshepo Motsepe, stem in Soweto. (Foto: Michele Spatari / AFP)

Verslaggewer aangekeer by stembus

Een van die nuuskanaal Newzroom Afrika se verslaggewers is in Soweto in hegtenis geneem nadat hy daarvan beskuldig is dat hy ingemeng het met die uitvoering van ʼn OVK-beampte se pligte.

Ziniko Mhlaba was by ʼn skool in Soweto van waar hy ʼn regstreekse uitsending sou doen toe ʼn onderonsie tussen hom en polisiebeamptes by die stemlokaal ontstaan het. Mhlaba, wat sê hy is ten volle geakkrediteer om die verkiesing te dek, sê polisiebeamptes het onder meer aan hom gesê dat die media nie binne die vertrek waar stemme uitgebring word, mag wees nie.

Die media word binne stemlokale toegelaat, maar nie by stemhokkies waar kiesers hulle kruisies trek nie.

Brig. Vishnu Naidoo, nasionale polisiewoordvoerder, het by navraag gesê die polisie het die verslaggewer en kameraman uit die stemlokaal in Orlando-Oos verwyder “nadat hulle glo met die werk van die voorsittende beampte by daardie sentrum ingemeng het”.

“Dit is ongelukkig dat die situasie tot ʼn konfrontasie tussen die polisie en die verslaggewer gelei het.”

Naidoo sê die voorval is sedertdien na Gauteng se polisiehoof verwys wat reeds opdrag gegee het dat die verslaggewer vrygelaat en ʼn ondersoek na die voorval gedoen word.

Die polisie is intussen op Twitter gekap vir die aanhouding van die verslaggewer, terwyl ʼn drama van ʼn ander aard by ʼn stempunt hom afgespeel het.

ʼn Gebruiker het ʼn video gedeel van ʼn kieser, effe onvas op sy voete, wat ʼn stemhokkie te pletter val nadat hy oënskynlik sy balans verloor.

 

Ramaphosa optimisties oor kiesuitslae

Pres. Cyril Ramaphosa Maandag tydens die munisipale verkiesing. (Foto: Siyabulela Duda/GCIS)

Pres. Cyril Ramaphosa en sy vrou, Tshepo Motsepe, het ’n kort rukkie gelede hulle kruisies in Chiawelo,  Soweto, getrek waar hy grootgeword het.

“Ons as die ANC sien uit na ’n oorweldigende oorwinning hier in Johannesburg en ’n dawerende oorwinning in die verskeie metro’s en munisipaliteite in Gauteng, sowel as elders in die land,” het die president ná die tyd aan verslaggewers gesê.

“Hierdie is die een verkiesing waar ons vir ons mense sê dat ons gaan beter doen. Ons besef dat ons nie altyd aan kiesers se verwagtinge voldoen nie. Ons gaan beter doen.”

Oudpres. Thabo Mbeki het ook vanoggend by die Holy Family College in Houghton, Johannesburg, gestem in die munisipale verkiesing.

Oudpres. Thabo Mbeki stem in Houghton, Johannesburg. (Foto: ANC/Twitter)

Kiesers gratis met Uber vervoer

Uber Suid-Afrika en die OVK het kragte saamgesnoer om Maandag gratis ritte tussen stempunte aan alle kiesers beskikbaar te stel.

Dié taxidiens sal die koste van twee ritte – wat minstens R35 elk kos – tussen kiesers se gekose stemlokale borg.

“Almal verdien die geleentheid om op hierdie verkiesingsdag te stem, en daarom is ons daartoe verbind om soveel mense moontlik te help om by die punte uit te kom – ongeag watter hindernisse hulle in die gesig staar,” het Uber gesê.

Hierdie gratis ritte moet by uitgesoekte stemlokale begin en eindig en is net geldig vir die eerste 5 000 gebruikers.

  • Kiesers kan die promosiekode VOTESA21 gebruik om vir hierdie aanbieding te kwalifiseer.

‘DA gereed om verandering te bring’

DA-leier John Steenhuisen het sy kruisie getrek. (Foto: DA/Twitter)

“Ons doen ’n beroep op alle landsburgers om na die stemlokaal te gaan waar hulle geregistreer is en sodoende hulle stem uit te bring. Die boodskap aan kiesers is eenvoudig: Moenie die kans verspeel om ’n verskil te maak nie.”

Só sê Cilliers Brink, DA-LP en woordvoerder. Die party is vol vertroue dat hy ’n oortuigende oorwinning in die verkiesing sal behaal.

“Miljoene Suid-Afrikaners sal vandag na die stembus gaan om die DA die mandaat te gee om dinge gedoen te kry. Die afgelope paar maande het ons oor die land heen gereis om ons boodskap van hoop te versprei, en ’n belofte om dinge gedoen te kry in plaaslike regerings aan Suid-Afrikaners gemaak.

“Die DA is die enigste party met ’n bewese rekord om verandering te bring na munisipaliteite wat onder die ANC se korrupsie en wanadministrasie inmekaar getuimel het. Suid-Afrikaners is gereed om die ANC ’n besliste nekslag toe te dien en te stem vir die DA wat verandering sal bring en beter dienste kan lewer.”

Siviwe Gwarube, DA-LP en die party se nasionale woordvoerder, sê intussen die party is gelukkig met hoe sake sover verloop het.

“Vroeë aanduidings is dat daar ’n oorweldigende opkoms is in die gebiede waar die DA gewoonlik groot steun geniet. Dit getuig van die vertroue wat kiesers het in die DA se bewese rekord van dienslewering en om dinge gedoen te kry.”

Volgens berigte is daar lang toue by sommige stempunte en het ander stempunte laat oopgemaak.

“Ons doen ’n beroep op kiesers om in die ry te bly staan tot hulle hul kruisies getrek het. Om deel te wees van hierdie geskiedkundige oomblik vir ons land, moet elke kieser sy rol speel en by die blou golf aansluit. Slegs die DA is groot genoeg en het die kapasiteit om die ANC se doodspiraal in munisipaliteite tot ’n einde te bring.”

Stembriewe vroeg reeds op

Yanka-Kwanita het saam met haar eienaar, Marizanne Ferreira, by die Elukholweni School in Lovemore Park, Port Elizabeth, gaan stem. (Foto: Marizanne Ferreira)

Benewens stembriewe wat laat by talle stempunte aangekom het, was daar volgens sommige kiesers teen 09:00 vanoggend reeds geen meer stembriewe by die stemlokaal by die Rietondale High School in Pretoria oor nie.

Dieselfde probleem is ook by sekere stempunte in Magalieskruin en Sinoville ondervind.

‘Elke stem tel’ – Ramaphosa

Pres. Cyril Ramaphosa het kort gelede ʼn hernieude beroep op kiesers gedoen om te gaan stem.

“Jou stem tel. Elke enkele stem tel. Met jou stem bou jy ʼn beter Suid-Afrika.”

Die president sê die plaaslikeregeringsverkiesing gaan oor die kwessies wat die meeste vir mense saak maak –  water, behuising en sanitasie.

“ʼn Suid-Afrika met sterk, goed bestuurde en doeltreffende munisipaliteite kan die lewe van elke burger verbeter.”

Leiers stem

Die DA-leier John Steenhuisen het ʼn kort rukkie gelede sy kruisie by die Norwood Boys High School in Durban getrek. ʼn Groep DA-ondersteuners het buite die stemlokaal gedreunsing.

Helen Zille, leier van die DA se federale raad, het Sondag ‘n spesiale stem uitgebring. (Foto: DA)

Helen Zille, leier van die DA se federale komitee, het Sondag reeds ʼn spesiale stem uitgebring en sal Maandag deur die loop van die dag verskeie stempunte in Gqeberha (voorheen Port Elizabeth) besoek.

Die Wes-Kaapse premier, Alan Winde, het in Tuine in Kaapstad sy kruisie gaan trek, terwyl die DA se burgemeesterskandidaat in Tshwane, Randall Williams, vroegdag reeds in Lynnwood gaan stem het.

Mosiuoa Lekota, leier van Cope, het saam met die party se burgemeesterskandidaat vir Johannesburg, Colleen Makhubele, in Midrand gaan stem.

Blade Nzimande, minister van hoër onderwys en opleiding, het vroegoggend in Ashburton in Pietermaritzburg gestem.

Pres. Cyril Ramaphosa sal na verwagting om 10:00 sy kruisie in Soweto trek. Hy is voorheen verskeie kere reeds tydens verkiesingsaamtrekke in dié gebied uitgejou.

Talle stempunte open nie betyds

Stemlokale was veronderstel om Maandag om 07:00 te open. Honderde kiesers het egter voor dooiemansdeur gekom.

Teen omstreeks 08:00 vanoggend was die Paterson Park-stempunt in Johannesburg steeds gesluit, glo omdat die stembriewe teen daardie tyd steeds nie aangekom het nie.

Ook by ʼn stempunt in Germiston was die stemlokaal nog nie oop nie, stembriewe het nog nie aangekom nie en die kiesersrol ook nie. “Klink na sabotasie vir my,” het ʼn kieser kort ná 08:00 getwiet.

In Fourways, Johannesburg, het kiesers gekla dat die tou in drie opgedeel is, maar niemand nog toegelaat is om te stem nie. By ʼn stempunt in Sedibeng het talle kiesers onverrigter sake omgedraai nadat hulle om 07:00 reeds by die stemlokaal was, maar gehoor het dat die stempunt eers om 09:00 sou open.

In Johannesburg se wyk 81, by die Ou Apostoliese Kerk, was die stemlokaal teen ná 08:00 ook nog nie operasioneel nie. In Ridge Park het kiesers gekla dat dit minstens 15 minute duur vir elke kieser om hul kruisie te trek.

Lang toue mense wag by ‘n kiespunt in Centurion om te stem. Die stempunt het laat geopen. (Foto: Verskaf)

Jo Raubenheimer, ʼn kieser van Centurion, sê sy was omstreeks 08:25 by die kieslokaal by die Hoërskool Zwartkop in Pretoria. Die stempunt het in daardie stadium steeds nie geopen nie, maar toe eers om 08:45.

“Dit is ʼn baie slegte weerspieëling van die OVK se organisasie. Ons wíl stem en hier staan ons nou in ʼn ellelange tou.”

Enkele probleme met kiesersrol

(Foto: Luca Sola/AFP)

Georgia Jonck, ʼn inwoner van Pretoria‑Noord, haar man en dogter kon amper nie stem nie, aangesien die amptenaar nie hul name op die kiesersrol kon opspoor nie. Hulle het by die stadsaal in Akasia gestem.

“Ek het nog nooit soveel onbevoegdheid in my lewe gesien nie. Ná ʼn groot gesukkel besef die kiesbeampte daar is meer as een boek met name van kiesers by die stempunt. Ek, my man en dogter se name was gelukkig in dié boek en ons kon darem stem.”

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

41 Kommentare

Mariana ·

Uiters swak van OVK, mens kan dan ook ongerymdhede verwag.

Jdb ·

Hoe is dit dat al hierdie politici kan stem buite die gebied waar hulle woonagtig is? Cyril woon nie in Soweto nie en Steenhuisen woon nie in Durban nie. Blade woon ook nie in Pietermaritzburg nie. Wat gaan hier aan?

Stephen ·

The fact that the Polling stations are running out of Ballott papers this early is an indication of the gross incompetence of the IEC. Fire the lot!!

Johann ·

Met die HELE land, elke stelsel en sisteem en proses en instelling totaal disfunksioneel en korrup…HOE en HOEKOM gaan die stemproses regverdig en funksuoneel en bekwaam verloop?

Neelsie ·

Weet van mense wat geregistreer was vir spesiale stem, maar wie se naam nie op die kieserslys was nie, of die kiesbeampte kon dit nie vind nie want die lyste was/is nie alfabeties nie. Dit was Saterdag toe daar minder kiesers was. Wil nie dink watter chaos dit vandag moet wees as dit nie reggestel is nie!!

Samuel ·

Het enigeen gedink die verkiesing gaan vlot verloop?? Net naïewe mense. ‘n Joernalis van Newzroom Afrika aangehou omdat hy sy werk wou doen?? Geen sosiale distansieëring wat mens op TV kon sien nie. Talle mense wat maskerloos rondstaan. Ja, alles wat cANCer probeer is ‘n gemors. Soos ons dierbare Piesang Republiek.

Francois ·

Ag mense! Hou op heeldag op die kantlyn staan en kla. Gaan stem net. Ja korrupsie mag hier en daar plaasvind(erg klein persentasie), maar oorwegend is alles regverdig. As jy nie wil stem nie, hou dan net jou mond(jy mag dan nie kla nie)

piet ·

Jong die klomp is so negatief hulle SAL oor alles kla en boikot. Hulle kla selfs as ons ‘n wedstryd wen op die sportveld. Moan, moan, moan.

Waarnemer ·

Francois jou stem vir die ANC gaan jou niks help nie…die DA gaan die ANC ore aansit.

Francois ·

Dis n wilde waarneming wat jy nou maak. Jou sogenaamde heldersiendheid laat jou duidelik in die steek

Piet parys ·

Jy klink soos n Anc kieser baie planne en idees maar niks wat tot uitvoering gebring word nie

Spook ·

Francois, het jy al jou KFC Streetwise Two en jou t-hemp gekry? Jy moet vir die leaders sê jy gaan nie stem voor hulle jou behoorlik omkoop nie.

JM ·

As ek môre uit hierdie patetiese, disfunksionele, hool van ‘n land kan padgee, DOEN ek dit! En steeds borrel die regerende party en sy volgelinge oor van arrogansie!! Om van naar te word!

KB ·

Ek neem eksepsie met julle (MM) “regverdige” dekking vd verkiesing. Hou maar aan met julle verswyging, so verloor (ook) julle die Afrikaner se steun.

Waarnemer ·

Enige iemand wat my n weddenskap wil aangaan….hierdie verkiesing gaan NIE vry en regverdig wees nie as gevplg van die onbekwaamheid van die OVK…Stempunte wat laat oopmaak,stembriewe wat al net na 09:00 op is.Kiesers wat deur die A en C van ander plekke deur ubers aangery word….op die belaasting betaler se rekening….en so kan die lys aangaan…..

Piet parys ·

Dit g aan al vir 27 jaar so aan en is altyd vry en regverdig verklaar.

annie ·

Weet ons geagte prez mens mag nie meer stemwerwery doen op stemdag nie? En nogal in ‘n Mandela-nommertjie. Zuma het weer beheer oorgeneem anders sou ons ex-sterwende ex-pres by die naaste down to earth-kismakers se ry vir spesiale stemme ingeval het.

Vonkprop ·

Die eerste video van die joernalis by 1:07 skree hy: take pictures with your photos! Hoe neem jy ‘n prentjie met ‘n foto?

Oujongvrou ·

Die onvas man wat die stemhokkie platval is al stokoud. Het nie vandag gebeur nie

Anna ·

Het vanoggend by Swartkop Laerskool in Port Elizabeth gestem. Was binne ‘n halfuur in en uit. Beamptes uiters vriendelik en bekwaam. Welgedaan

Pietertjie ·

Eks nuuskierig: die stemlokaal by ons DA-beheerde wyk (wat al vir donkiejare bestaan) het vanoggend eers laat oopgemaak, en toe is daar net een aktiewe stempunt/ stem-houer. Baie later het daar ‘n tweede houer opgedaag, maar toe het ‘n groot deel van die ellelange ry kiesers al uit die bloedige son padgegee. Is dit nou ‘n slim taktiek om DA kiesers van die stembus af weg te hou?

Phil ·

Is die VF-Plus party ook deel van die stemmery, sien geen dekking of fotos van die party nie?

Blomme ·

Die ‘siek parool gevangene’ lyk darem vrolik en gesond!

Johan ·

Kon binne 1h15min stem as dit nie was vir al die oumense en kamstig swanger mense en hul gesinne wat voor ingedruk het nie. ..ekt gemeet dat vir elkeen wat voor ingedruk is moes ALLMAL agter hul gemiddeld 2minute 12s langer in die warm PTA son staan….ons moes meer as 2h48 wag om te stem….dankie aan almal wat so gretig voor indruk, hordes mense het uit die tou verdwyn en dit maar gelos. Ek sal dit nie weer aanpak nie. 2ure is reg, maar nie dat ander voor my indruk nie.

Anoniem ·

Die ou mense waarna jy verwys is waarskynlik 25 jaar ouer as jy en het reeds 90000 ure langer as jy in die son deurgebring. Sou jy jou ouers in die son laat staan het of omgegee het indien hulle voorkeur behandeling ontvang het?

Truthful ·

Ek het 6uur vanoggend opgedaag by stemlokaal. Teen 8uur was alles nognie gereed nie…uiteindelik toe ek gehelp word kon die man nie my vind as .n geregistreerde stemmer..na so veel pogings kry hy my toe….moes dit net noem…nou dat ek terug dink agterop al 3. Papiere was ek x. Getrek het was daar geen stamps…genade ..ek weet want ek het die mooi gevou vi boks

Di ·

Jammer dan gaan jou stem nie tel nie – Moet stamp agter op elke stembrief wees

Piet parys ·

Wonder nou of DR PIETER GROENEWALD al gestem het Hy is mos van die VRYHEIDSFRONT + of ken julle hom nie ??want al wat ek sien is nuus oor die Anc en Da .

Papsak ·

Ja wat cyral in soweto hy is net so fucht up dink niks van hom nie my HERE is my president maak wat julle wil

Jannie van Niekerk ·

Daar gebeur nog wonderwerke. Ou Zoempies is ewe skielik kerngesond en ek het gehoor dat hy op sterwe na dood is daarom het hy mediese parool gekry….

Waarnemer ·

Hoeveel voorsittende beamptes het gedoen wat die ou in e Tekwini gedoen het deur vooraf gemerkte stembriewe in die stembus te druk?Vooraf beplande korrupsie……..
en moes ou jappie nie n spesiale stem uitbring op sy sterf bed nie…hy was dan dodelik siek ontslaan uit sy tronk sel uit.?////

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.