Regstreekse gesprek: Plaasmoorde ’n prioriteit?

(Argieffoto: Lorraine Claasen)

Ná die voorval by Senekal het pres. Cyril Ramaphosa en die minister van polisie, Bheki Cele, omtrent gewoeker om dié wat oor plaasmoorde gegrief is, gerus te stel dat die regering dit inderdaad as ’n prioriteit beskou.

In sy weeklikse nuusbrief het Ramaphosa die moord op die jong Brendin Horner betreur. Cele het Horner se naasbestaandes besoek, in die openbaar standpunt teen plaasmoorde ingeneem en lede van die publiek probeer oortuig hoe ernstig hy dit opneem. Maar hoe opreg was dié gebaar? Is dit net mooi woorde?

In ’n onlangse skrywe sê Ramaphosa dat plaasmoorde nie in ’n rassekwessie omgeskakel moet word nie, maar onmiddellik daarna maak hy dit wel ’n rassekwessie deur te sê dat daar onthou moet word dat die meeste slagoffers van geweldmisdaad swart is.

Vir boere is die kwessie van plaasaanvalle en plaasmoorde veel meer as ’n politieke debat of ’n maatskaplike of ekonomiese verskynsel. Vir baie Suid-Afrikaners is dit gesigte, name van vriende, familie, kollegas en plase. Dit is datums, plekke en mense. Dit is aaklige herinneringe en gebeurtenisse, trane, pyn en verlies. Byna elke boer ken vandag iemand wat die slagoffer van ’n plaasaanval was.

Die goue driehoek van ’n veilige samelewing is orals ter wêreld ’n sterk polisiemag, doeltreffende privaat sekuriteit en ’n goed georganiseerde burgery. Daar sal veilig geslaap kan word as ons beter georganiseerd is as die misdaadbendes.

In Suid-Afrika was die burgery nog altyd betrokke by gemeenskapsveiligheid. Dink maar aan die geskiedenis van die burgermag, polisiereserviste, kommando’s, burgerlike beskerming (BB) en buurtwagte. Wettige, werkende, opgeleide en toegeruste buurtwagte wat in vennootskap met die SAPD en privaat sekuriteit werk, is die beste afskrikmiddel teen die misdaadplaag wat die land teister. Weerbaarheid is die enigste antwoord op weerloosheid.

Die vraag op menige Suid-Afrikaners se lippe is, is daar werklik ’n antwoord? Wanneer gaan die sinnelose aanvalle end kry? Wat kan gedoen word aan die krisis? Is dit vir gemeenskappe moontlik om self iets te doen? Gaan dit enigsins werk om verder druk toe te pas op die regering?

Vir AfriForum is dit ’n baie ernstige vraagstuk. Ernst van Zyl, AfriForum se veldtogbeampte vir strategie en inhoud, gesels met Flip Buys, die Solidariteit Beweging se voorsitter, Ernst Roets, AfriForum se hoof van beleid en aksie, Theo de Jager, Saai se direksievoorsitter, en Jan Wessels, AfriForum se bedryfshoof vir gemeenskapsveiligheid.

Volg die regstreekse uitsending van hierdie gesprek Donderdag 12 November om 10:00 op AfriForum se Facebook-blad.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae