Regstryd teen Eskom, regering gou aangehoor

Sonkragpanele op die dakke van huise in die Wes-Kaap. (Skermgreep: DA/Twitter)

Die groep organisasies wat Eskom en die regering oor hul hantering van die kragkrisis hof toe sleep, se aansoek sal op 20 Maart voor ʼn volbank regters aangehoor word.

Verskeie politieke partye en vakbonde, waaronder Numsa, die UDM, Build One South Africa en ActionSA, vorm deel van die aansoek.

Die aansoek word verdeel in twee: In die eerste gedeelte (ʼn tussentydse aansoek) voer die applikante aan dat die regering op ongrondwetlike wyse op die krisis reageer het en in die proses verskeie grondwetlike regte geskend het. Hulle voer aan dat beurtkrag ʼn menseregtekwessie geword het en dat die regering se reaksie daarop burgers se basiese regte ondermyn.

Die groepe voer aan die regering het ʼn plig om die humanitêre katastrofe, wat regstreeks deur beurtkrag veroorsaak is, te verhoed. Hulle vra die hof om die regering te verplig om in ooreenstemming met die Grondwet op te tree, wat onder meer vereis dat die armes en gemarginaliseerdes in tye van nood geprioritiseer moet word.

“Ongelukkig wys die praktiese werklikheid dat die regering geen strategie het om die armes teen beurtkrag te beskerm, of om die lyding wat beurtkrag veroorsaak, te verlig nie,” sê Phakamile Hlubi-Majola, woordvoerder van Numsa.

Hulle vra dat verskeie ekonomiese sektore en maatskaplike dienste van beurtkrag kwytgeskeld word. Dit sluit in gesondheidsdienste, onderwysinstellings, polisiestasies, klein- en mediumgrootte ondernemings, landbou en voedselproduksie, asook telekommunikasiedienste.

“Die manier waarop dit gedoen moet word, sal aan die regering oorgelaat word. Dit is die moeite werd om kennis te neem dat die regering nie gehuiwer het om sekere gebiede, waar sy eie ministers woon, tot beurtkragvrye sones te verklaar nie.

“Die applikante voer aan as dit moontlik is vir ministers, is dit moontlik vir die armes.”

In die tweede gedeelte van die aansoek vra die applikante ʼn bevel dat pres. Cyril Ramaphosa, as hoof van die nasionale uitvoerende gesag, vir die menslike koste van beurtkrag aanspreeklik gehou word.

“Terwyl daar baie in die regering gepraat is, is die werklikheid dat beurtkrag toegeneem het. Die werklike vooruitsig van ʼn algehele netwerkineenstorting staar die land in die gesig, soos gesien kan word in die regering se eie verklaring van ʼn ramptoestand,” sê Hlubi-Majola.

Hulle vra ʼn bevel wat verklaar dat die president en sy regering versuim het om die regte van burgers te beskerm en na te kom in die manier waarop hulle reageer het op die beurtkragkrisis; ʼn krisis waarvoor die regering in die eerste plek verantwoordelik is.

Numsa sê Suid-Afrikaners het duidelikheid nodig oor watter stappe die regering doen om kragsentrales in bedryf te stel. “Ons moet weet wat is die begroting, watter stappe gedoen word en hoe lank dit gaan duur om die kragsentrales aanlyn te bring.”

Hlubi-Majola sê ook hulle neem nie ʼn “ideologiese” standpunt in nie en is nie gekant teen die gebruik van onafhanklike kragprodusente of hernubare energie nie – mits dit dieselfde vlakke van krag kan lewer as die “kragsentrales wat opgeoffer word”.

Solidariteit sal op sy beurt Dinsdag hofstukke aan die regering beteken rakende die “irrasionele besluit” om ʼn ramptoestand oor die kragkrisis te verklaar.

Die organisasie voer aan die rasionaliteit, grondwetlikheid en die wettigheid van die ramptoestand moet op die strengste manier denkbaar getoets word en dat die regering se “algehele onbevoegdheid om die kragkrisis oor die afgelope 17 jaar op te los, nie te midde van ʼn ramptoestand sal verdwyn nie”.

“Om met verdere politieke inmengery die weg te probeer baan uit ʼn krisis wat onweerlegbaar voor dieselfde politici se deure gelê kan word, is nie net irrasioneel en onverantwoordelik nie, maar ook onwettig,” sê Connie Mulder, hoof van die Solidariteit Navorsingsinstituut.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

CHRISTINE ·

Die ANC moet as onbevoeg om te regeer verklaar word, hoe gouer hoe beter en uitgeskop word. Dis nou nie meer apartheid se skuld nie kommuniste. Ons wil NOU die ANC uitstem!

Johan ·

Ontbind en verban die cANCer. Hulle is die oorsaak, laat hulle die val vat daarvoor.

Sonblom ·

Het Juliaaas nie gesê 20 Maart is die dag wat die EFF die land tot stilstand bring nie? Sal interessant wees om te sien wat als gebeur op daai dag.

annie ·

Die meeste mense in die land is armes wat beteken die meeste gesinne sal dan nie vir krag betaal nie en onbepaald krag kan gebruik. Gaan net ‘n paar mense Eskom moet dra? En dit is nie net krag wat sulke mense dan verniet sal kry nie, maar reeds studiegeld en -verblyf, mediese dienste ea. Ons het reeds uitlanders wat in die land onwettig leef plus dié met onwettige aansluitings wat wel goeie inkomstes het. Glo mense die res van die wêreld gaan vir ons sorg?

Nico ·

Eskom moet ‘n CEO aanstel wat weet wat om te doen, moet ook onpartydig wees, sy ore moet toe wees vir die gesanik van Eskom en die regering wat die oorsaak is van alle probleme in SA. Eskom het vir homself ‘n gat gegrawe hy moet self daar uitkom.

Francois ·

Ek stem ongelukkig nie saam. Hulle word vrygestel vsn brurtkrag, arm mense wat R1000 skuld se krag word afgesny maar Soweto se agterstallige skuld van oor die miljarde word afgezkryf want net hulle is arm. Die ANC weet wie om te help voor sy volgende verkieding

Elma ·

Snaakse “demand”. Wat het arm/ryk te doen met iets so basies soos kragvoorsiening? ALMAL het krag nodig. AS jy jou rekening betaal natuurlik.

Janine ·

So, diegene wat REEDS nie vir krag betaal nie, moet nie beurtkrag kry nie?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.