‘Regte bloed en trane’ vir dié musiekvideo

Riaan Smit nadat hy aangeval is.

Die musiekvideo wat besig was om opgeneem te word toe die sanger Riaan Smit en die musikant Luca Hart deur ʼn groep mans buite Windhoek in Namibië aangeval en beroof is, is Vrydag bekendgestel.

Maroela Media het vroeër berig Smit, wat tans in die Kaap bly en veral bekend is as lid van die rock-groep Crimson House, het ernstige beserings opgedoen nadat hy met ʼn baksteen in die gesig geslaan en met ʼn mes in die arm gesteek is.

Marinette Potgieter, ʼn agent vir Crimson House, het gesê ʼn groep van vyf of ses mans met balaklawas, wat met messe gewapen was, het die twee musikante en drie bemanningslede glo onverwags betrap. Smit het probeer om een van die vroue wat deel van die bemanning was te beskerm toe hy met die baksteen geslaan is. Smit moes vir ʼn fraktuur aan sy bokaak geopereer word, het senuweeskade opgedoen en daar het bloedvate in sy oë gebars.

Al die groep se toerusting wat gebruik is om die musiekvideo te skiet, is geroof, maar is dae later deur die Namibiese polisie teruggevind. Twee verdagtes is ook in hegtenis geneem.

Danksy die toerusting wat teruggevind is, kon die musiekvideo steeds die lig sien. Die video wat tydens die voorval geskiet is, is Vrydag op YouTube gedeel en begin met die woorde: “Regte bloed en trane is gestort om vir jou die volgende video te bring.”

Smit het Vrydag op sy Facebook-profiel gesê ʼn skarebefondsingsinisiatief is op die been gebring om hom te help om sy mediese rekeninge te dek. “My lewe het voor my oë verbygeflits. Dankie dat julle my gemoed sterk hou met jul liefde,” het hy geskryf. Teen Sondagoggend was daar alreeds meer as R42 000 tot Smith se mediese onkostes bygedra.

“Ek kan nie vir julle genoeg dankie sê nie! Sodra ek herstel het, sal ek oortyd werk om vir julle die beste moontlike vertonings te bring wat my verbeelding kan uitdink. Dankie uit die diepte van my hart vir hierdie ongelooflike ondersteuning,” het Smit geskryf.

Hier is die musiekvideo wat deur Earthy Acoustics gedeel is:

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.