Regter beslis oor Parys-boere se toekoms

Die sogenaamde “Parys-boere” hoor hul vonnis in die hof aan (10 September 2021) (Foto: Anja van der Merwe)

Spanning het Vrydag in die lug gehang terwyl vyf Parys-boere en hul families in die rondgaande hof op die dorp in afwagting geluister het toe regter Corné van Zyl hul vonnisse oplê. Dié boere wag al byna vyf jaar vir hierdie dag.

Boeta van der Westhuizen (52), sy seun, Loedie van der Westhuizen jr. (23), Anton Loggenberg (55), sy seun, Cor Loggenberg (24), en Miela Jansen van Vuuren (28), Boeta se skoonseun, is Mei verlede jaar skuldig bevind op aanklagte van aanranding en aanranding met die doel om ernstig te beseer.

Loedie is ook op aanklag van regsverydeling skuldig bevind.

Die aanklagte spruit uit die dood van Samuel Tjixa (35) en Simon Jubeba (29) wat op 6 Januarie 2016 ná ’n plaasaanval deur dié vyf boere aangekeer en só erg aangerand is dat hulle ʼn dag later aan hul beserings beswyk het.

Regter Van Zyl het Boeta en Anton tot 15 maande korrektiewe toesig gevonnis op aanklagte van aanranding en aanranding met die doel om ernstig te beseer.

Hulle sal hierdie tyd in huisarres deurbring, waar hulle ten alle tye by hul huise moet wees behalwe vir die volgende tye: Maandae tot Vrydae tussen 06:00 en 20:00, Saterdae tussen 08:00 en 16:00 en Sondae en openbare vakansiedae tussen 08:00 en 12:00.

Boeta is ook beveel om ʼn bedrag van R20 000 aan elk van die families van die oorledenes te betaal as ʼn vorm van vergoeding en ʼn teken van sy berou. Hy het vroeër reeds ingestem om hierdie bedrag te betaal. Hy sal die bedrag namens al die ander beskuldigdes voor 1 Oktober betaal.

Cor is tot 12 maande tronkstraf gevonnis op aanklag van aanranding met die doel om ernstig te beseer. Loedie is vir aanklagte van aanranding, aanranding met die doel om ernstig te beseer en regsverydeling tot onderskeidelik ses maande, 15 maande en ses maande tronkstraf gevonnis. Miela is tien maande tronkstraf opgelê vir aanklagte van aanranding met die doel om ernstig te beseer.

Al drie se tronkstraf is vir drie jaar opgeskort op voorwaarde dat hulle nie in hierdie tydperk weer skuldig bevind word aan dieselfde klagte nie.

Adv. Piet Pistorius (regs) in gesprek met Johan Vorster (Foto: Anja van der Merwe)

Met dié drie se vonnisopleggings het regter Van Zyl gesê dat sy in ag geneem het dat al drie relatief jonk was ten tyde van die oortreding. Loedie was 17 jaar oud en Cor 18 jaar oud. Sy het ook gesê dat hulle nog hul lewe voor hulle het.

Die beskuldigdes is nie ongeskik verklaar om ʼn vuurwapen te besit nie.

Hoewel die staat direkte tronkstraf vir die beskuldigdes aanbeveel het, het Van Zyl aangevoer dat direkte tronkstraf te swaar vonnisoplegging sal wees.

“Die beskuldigdes hou nie ʼn risiko vir die samelewing in nie en speel positiewe rolle in hul onderskeie gemeenskappe. Hulle het tydens die voorval uit hul karakter opgetree. Ek kan ook bevestig dat die voorval ʼn eenmalige gebeurtenis was,” het Van Zyl gesê.

Volgens die regter het die beskuldigdes ook werklike berou vir hul dade getoon en ook reeds die prys sielkundig en finansieel vir hul oortredings betaal.

Van Zyl het met haar besluit die beskuldigdes se persoonlike omstandighede, die erns en aard van die misdryf asook die belange van die gemeenskap in aanmerking geneem.

Staatsaanklaer adv. Jabulani Mlotshwa het aan die einde van die vonnisverrigtinge aangedui dat die staat teen die vonnisse gaan appelleer.

Absolute verligting

Boeta se vrou, Miela se skoonma en Loedie jr. se ma, Rikkie van der Westhuizen, sê die familie is verlig dat die hofverrigtinge ná meer as vyf jaar verby is.

Anton se vrou, en Cor se ma, Gusta Loggenberg, sê haar gesin kan vanaand met ʼn rustige hart gaan slaap.

“Ek kon die aand voor die vonnis nie ʼn oog toemaak nie. My maag het skoon gedraai,” het Gusta vertel. “Ons is tevrede met die vonnis en kan net die Here daarvoor dank.”

Boeta en Anton se regsverteenwoordigers, adv. Piet Pistorius en Johan Vorster, het aan Maroela Media gesê regter Van Zyl het ʼn welbedagte en fyn beredenerende vonnis opgelê.

“Ons is tevrede met die vonnis en verlig dat hierdie nagmerrie verby is. Ek is bitter dankbaar dat elkeen van die beskuldigdes vanaand veilig in hul huise kan slaap,” het Pistorius gesê.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

16 Kommentare

Strandloper ·

Regtig bly vir julle part die nagmerie is verby. Prys die Here.

Frank John ·

Ek kan klaar sien die staat nie tevrede daarmee gaan wees nie, hulle wil daai mense agter trallies hê.

Willem ·

Hoe vergoed jy kriminele se familie vir hul misdade?Word plaasboere se families vergoed wanneer hulle vermoor word?Dis absurd!!!!!!!

Anel ·

Willem, ek wou nou dieselfde vra! Is hulle vingerafdrukke en DNA ooit nagegaan im te kyk by hoeveel ander misdade hulle betrokke was? Hulle was defnitief nie onskuldig nie!

Blomme ·

Dalk was hul inkomste deur misdaad verkry… Mens kry mos dikwels vergoeding as daar ń verlies aan inkomste is. Die regstelsel moet waak teen verkeerde boodskappe uitstuur. Die vergoeding kan maklik misinterepreteer word veral deur die onnosele skurke wat daarop uit is om misdaad te pleeg.

Anel ·

Wanneee gaan die slagoffers van plaasaanvalle ooit vergoeding kry? Alles werk mos net een kant toe. Ek sou sê die families van die dooies moes die familie van die oom wat aangeval is vergoed. As hulle wobderlike ou kindertjies nie misdadigers was nie, sou hierdie nie gebeur het nie!!!!

Cecilia ·

Ja in d ou SA het misdadigers mos meer regte as wetsgehoorsame belastingbetalers

SomeOne ·

dankie tog die saak is uiteindelik klaar, die strawwe is nie nodig gewees nie, hulle het hulself net verdedig teen gem………….!!!!!…
die antwoord is baie waar, ons boere sal maar altyd aan die verloorkant wees, mag julle vrede in jul harte hê en nie wraak koester nie.
jammer dat jul nie mense in diens kan neem wat nooit sulke verraddelike kop skuiwe het nie

Hardekwas ·

Plaasaanvallers het nie geld nie, so dit sal nooit gebeur nie.

Cecilia ·

Eks bly d saak is op n einde.
So misdadigers se families moet betaal word deur d slagoffers? Hoe absurd!
Word ander slagoffers vergoed deur misdadigers se familie?
Sterkte aan d 5 manne

Jacobus ·

Uitstekende vonnis deur hierdie regter.
Word plaas moord slagoffers se families ook vergoed?
Indien die moordenaars en diewe nie kan nie, moet die staat mos instaan?
Ek wonder maar net hieroor…

Casper ·

Asv.Mlotshwa het klaar aangedui dat h(die staat)gaan appéleer teen die vonnisse.Plaasmoordenaars kry wat hulle toekom.Hierdie boere het uit woede en buite hulle normale denke opgetree omdat di tweevroeër die oggend ‘n plaasaanval uitgevoer het.Die boer betrokke is tydens die hofsaak oorlede.Piet ek het ‘n idee wat jou siening is.

Trotse Boervrou ·

Casper, ek het “piet” daarop gewys maar Maroela het my kommentaar verwyder. Ek was moontlik te op die man af. Ek sou ook graag “piet” se siening wil verstaan. Want die Vader in die Hemel weet dat hierdie boere buite hul normale opgetree het. Ek wonder net wat gaan in ons eie mense se koppe aan. Mens bereik mos ‘n limiet. Ek was in trane van blydskap oor die uitspraak. Almal weet dat hierdie boere nie ‘n vlieg sal skade doen nie. Hoeveel moet ons boere nog verduur. En dit was ‘n ou oom wat so aangerand is. Ons het nie ‘n regstelsel nie. So wat staan ons te doen….

SjN ·

Geld wat stom is maak reguit wat krom is, dankbaar vir beskuldiges dat saak verby is.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.