Regter Edwin Cameron tree af ná 25 jaar

Regter Edwin Cameron tydens die spesiale seremonie (20 Augustus 2019) (Foto: Itumeleng English/African News Agency/ANA)

Regter Edwin Cameron (66), regter in die konstitusionele hof, het ná 25 jaar as ʼn regter afgetree. Sy amptelike seremonie is Dinsdag gehou waar vriende, vennote en beamptes huldeblyke gelewer het.

Sy aftrede kom ná hy eers as ʼn waarnemende regter in die hooggeregshof opgetree het en meer as 10 jaar by die konstitusionele hof.

Regter Cameron het hoofopskrifte gehaal toe hy in 1999 openlik erken het dat hy MIV-positief is. Hy het in daardie stadium reeds 12 jaar lank met die toestand geleef.

Hy het in daardie stadium gesê die moord van Gugu Dlamini, ʼn vrou wat met klippe bestook en met ʼn mes doodgesteek is ná sy op ʼn plaaslike radiostasie erken het sy het MIV, het hom genoop om die bekentenis te maak. Diegene wat hom ken sê Cameron was onwankelbaar in sy aktivisme vir gelykheid.

Hoofregter Mogoeng Mogoeng het Dinsdag ook Cameron vereer en hom bedank vir sy diens. Hy het aan die gehoor gesê hulle moet daarna streef om ankers van hoop te wees, net soos Cameron. “Watter tipe kar jy ry en wat jy dra moet nie wees wie jy is nie. Dit is jou diens aan die mensdom wat jou moet definieer. Hy kon gekies het om net op homself te fokus en nie vir ander om te gee nie, maar nie Edwin nie. Sy liefde vir die menigte sou hom nie toelaat om dit te doen nie.”

Ronald Lamola, minister van justisie en konstitusionele ontwikkeling, het gesê dit is gepas dat regter Cameron se laaste uitspraak verband hou met ʼn dekades lange grondeissaak om kwesbare huurboere in KwaZulu-Natal te bemagtig, omdat hy ʼn baken was vir menseregte en altyd vir die armes en minderbevoorregtes baklei het. Cameron het ten gunste van die huurboere beslis.

Regter Cameron het almal bedank dat hulle dié spesiale dag saam met hom gevier het. “Kollegas, gaste … baie dankie vir julle vrygewigheid en dat julle vanoggend hier is en vir dit wat julle gesê het. Ek het ʼn oorweldigende gevoel van dankbaarheid. Ek is die meeste dankbaar dat ek ʼn epidemie oorleef het wat baie se lewens eis.”

Cameron het die MIV-infeksie oorleef danksy antiretrovirale behandeling waarmee hy in 1997 begin het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Andre ·

Hoe minder daar gesê word oor hierdie sogenaamde Regter, hoe beter

Hans ·

Wat ‘n wel verdiende aftrede! Dankie vir al u werk deur die jare! Voorwaarlik iemand om na op te kyk!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.