Regter Hlophe geskors

Die Wes-Kaapse regter-president, John Hlophe. (Foto: judgesmatter.co.za)

President Cyril Ramaphosa het Woensdag op advies van die Regterlike Dienskommissie (RDK) en ingevolge artikel 177(3) van die Grondwet besluit om John Hlophe, regter-president van die Wes-Kaap, van sy pligte te onthef hangende ’n besluit van die Nasionale Vergadering.

Dit volg nadat hy in 2008 twee regters van die Konstitusionele Hof probeer beïnvloed het om hul ampseed te skend en in oudpres. Jacob Zuma se guns te beslis tydens ʼn saak wat hom betrek het.

Die Regterlike Dienskommissie (RDK) het vroeër vanjaar ’n bevinding van wangedrag teen regter Hlophe gemaak en aanbeveel dat hy ingevolge artikel 177(3) van die Grondwet geskors moet word.

Die RDK het in Julie al ʼn aanbeveling aan pres. Cyril Ramaphosa gedoen om Hlophe die trekpas te gee.

Vincent Magwenya, woordvoerder van die presidensie, sê Ramaphosa het die RDK-verslag op 27 Julie ontvang en weens die lang geskiedenis en kompleksiteit van die saak het Ramaphosa tyd geneem om al die permutasies van die RDK-aanbevelings noukeurig te oorweeg, insluitend die verkryging van leiding van ’n onafhanklike regsmening.

“Die president is diep onder die besef dat dit nodig is om regter‑president Hlophe se regte teenoor dié van die publiek en die belange van die regbank as geheel op te weeg,” sê Magwenya.

Artikel 177(3) van die Grondwet bepaal dat die president, op advies van die RDK, ’n regter kan skors wat die onderwerp is van verrigtinge ingevolge subartikel (1) wat handel oor die verwydering van ’n regter wat aan growwe wangedrag skuldig bevind word.

Die geregtelike gedragstribunaal het tot die gevolgtrekking gekom dat Hlophe se gedrag die onafhanklikheid, onpartydigheid, waardigheid en doeltreffendheid van die Konstitusionele Hof ernstig bedreig en daarmee inmeng en die publiek se vertroue in die regstelsel verder ondermyn het. Die RDK het die saak na die parlement verwys sodat die Nasionale Vergadering vervolgingsverrigtinge teen Hlophe kan instel.

Die adjunk-regterpresident van die Wes-Kaapse afdeling van die hooggeregshof, regter Goliath, sal as waarnemende regter‑president optree vir die duur van Hlophe se skorsing.

Die DA en ActionSA het die skorsing verwelkom en volgens Glynnis Breytenbach, die DA se skaduminister van justisie en grondwetlike ontwikkeling, was regter Hlophe nie geskik en gepas om die Wes-Kaapse hooggeregshof te lei nie.

“Dit is betreurenswaardig dat hierdie skorsing deur pres. Ramaphosa vertraag is. Dit het daartoe gelei het dat Hlophe die regbank verdere skade berokken het deur ’n verskeidenheid roekelose uitsprake, terwyl hy ook aan RDK-onderhoude vir die Wes-Kaapse hooggeregshof deelgeneem het,” sê Breytenbach.

Breytenbach glo die besluit om Hlophe te skors sal help om die geloofwaardigheid van die Wes-Kaapse afdeling van die hooggeregshof te herstel.

“Die DA doen ’n beroep op die parlement om sonder verdere versuim voort te gaan om verwyderingsverrigtinge kragtens artikel 177(1)(b) in te stel.”

Michelle Wasserman, voorsitter van ActionSA in die Wes-Kaap, sê die party hoop dat Goliath se leierskap die publiek se vertroue in die regstelsel in die Wes-Kaap sal herstel.

“Dit is tragies dat Hlophe se optrede die persepsie van ons regbank as ’n onafhanklike, bevoegde en waardige instelling wat regte beskerm en die oppergesag van die reg handhaaf, ondermyn en geskend het,” sê Wasserman.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

19 Kommentare

Piet parys ·

Hoop hy betaal sy volle verdienste van 2008 af terug aan die staat want hy het toe sy magte oorskry en dit dus verbeurd moet verklaar word. Die selfde moet geld vir Zuma en sy handlangers. Hulle moet kaal uitstap maar wie is ek nou om dit te wil hê nê

annie ·

Watter ander skielike amper-besluite gaan ons wildboer-president vinnig aankondig om sy kom en gaan gaan te laat wow so voor die 18de se show? Die skokkende boelie-bedrywighede tydens die stemming oor die Phala-sage laat mens wonder watter asembenemende grootsheid Cyril uit sy kussingsloop sal pluk om soos Zuma destyds met sy aankondiging van gratis studie vir studente, sy heraanstelling goue vleuels te probeer gee.

Cecilia ·

Oh well, die besluit was lank nodig. Hip hip hoera vir ons wat voor hom praktiseer.

Nie Verbaas ·

Kompleksiteit van die saak Ramaphosa of bloot omdat jy n slapgat is? Junie tot Desember en jy doen nou eers iets daaraan? Eerste klagte was al in 2012.

Pieter ·

Dis al in 2008, en wat het hy alles gedoen van toe af. Dit beteken niks kan vertrou word nie. eendag gaan hierdie ook ‘n Truth en Reconciliation wees…

Herman L ·

Hierdie ou moes twaalf jaar gelede reeds afgedank gewees het. Hoe kan ‘n mens nog glo dat die regbank nie gekaap is nie?

My siening ·

Nog n gemors wat uiteindelik sy gaai sien! Zuma redder nou red jou self!

Kobus ·

Hy word geskors maar moet eers alle sake waarby hy betrokke is afhandel? Hoe werk dit? Hy kan mos nou speel vir tyd want hy word sekerlik steeds vergoed.

annie ·

… weens die kompleksiteit van die saak.. diep onder die besef van die erns van die saak… Julie vanjaar reeds ontvang… Al die komplekse probleme veral die een van Phala wat niks met hom uit te waai het nie, maak die prez klaar. En nou weer lastige De Ruyter en 18 Desember, so op die Sondag wat hom vreeslik ontstig, se gebodder met sy joppie. Cyril en moeder verdien ‘n ruskansie in Dubai: Die ANC se knus nessie vir alle slim en ryk kaderalias op hul styf opgestopte rusbanke.

Sobymykoolkop ·

Speel vir tyd hy op pensioen gaan voor daar teen hom opgetree word.

gatgogga ·

“…….het Ramaphosa tyd geneem om al die permutasies van die RDK-aanbevelings noukeurig te oorweeg, insluitend die verkryging van leiding van ’n onafhanklike regsmening……”
Tipies.

Korrelkop ·

Geskors met volle betaling, waarskynlik. Amper beter as pensioen!

JohanR ·

Moes 10 jaar gelede al geskors gewees het. Nou gaan sit hy lekker by die huis of in Mauritius op die strand en einde van die maand plop die geld in die rekening in. Betaal belasting betalers betaal!

Hennie ·

Hoe absurd! Hy is geskors, maar moet al sy hofsake eers afhandel. Onbevoeg, maar moet eers sy werk klaar maak. Skande

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.