Regter moet nou besluit oor Dewani se vryspraak

shrien-dewani

Shrien Dewani op 6 Oktober 2014 in die Wes-Kaapse hooggeregshof Foto: Nardus Engelbrecht/SAPA/Pool

Die Britse sakeman Shrien Dewani gaan bykans twee weke lank moet wag om te hoor of sy aansoek om ontslag ná sy vrou se moord, suksesvol was.

Adjunkregterpresident Jeanette Traverso het Dinsdag in die Wes-Kaapse hooggeregshof gesê sy sal op 8 Desember ʼn uitspraak lewer tensy sy die partye andersins in kennis stel.

“Ek wil natuurlik my tyd vat om die gevolgtrekkings wat ek sal maak, te oorweeg,” het sy gesê.

Dewani se regspan het verlede week die aansoek kragtens Artikel 174 van die Strafproseswet ingedien wat tot ʼn ontslag sal lei indien die hof bevind dat daar nie voldoende geloofwaardige getuienis bestaan wanneer die staat sy saak afsluit nie.

Die verdediging het Maandag hul betooghoofde aan die hof voorgehou en die staat, Dinsdag.

Terwyl staatsaanklaer Adrian Mopp sy betoë wou afsluit, wou Traverso by hom weet of hy instem dat die staat se saak op een enkele getuie berus met verwysing na ʼn sameswering om Anni Dewani te vermoor. Mopp het ingestem dat die taxibestuurder Zola Tongo, as ʼn staatsgetuie, die enigste persoon was wat met Dewani gekommunikeer het.

Traverso het gesê Tongo was nie ʼn geloofwaardige getuie nie.

Die regter het gesê die regstoets is om te bepaal of daar samewerking was wat die beskuldigde impliseer, maar dit wil voorkom of dit nie in die saak die geval is nie. Mopp het gesê hulle kan ook na bykomende omstandigheidsgetuienis verwys.

Dewani staan tereg op aanklag dat hy saam met Tongo en anders beplan het om sy vrou Anni te vermoor terwyl hulle in November 2010 op hul wittebrood in Kaapstad was. Hy het onskuldig gepleit op aanklagte van ontvoering, moord, en dwarsboming van die gereg. Hy voer aan die egpaar is op 13 November 2010 gekaap terwyl Tongo met hulle deur Gugulethu gery het. Hy is ongedeerd vrygelaat, maar die kapers het met Anni weggery. Haar liggaam is die volgende oggend in ʼn verlate minibus in Khayelitsha opgespoor. Sy is doodgeskiet.

Die staat voer aan Dewani het saamgesweer om die kaping te reël, en dat hy R15 000 daarvoor betaal het. Dewani hou vol dat Tongo hom slegs gehelp het om ʼn verrassingshelikopterreis vir Anni te beplan en dit is waarom hy R15 000 aan hom oorhandig het.

Tongo dien 18 jaar tronkstraf uit vir sy aandeel in die moord en Mziwamadoda Qwabe is tot 25 jaar tronkstraf gevonnis. Xolile Mngeni is tot lewenslange tronkstraf gevonnis omdat hy die skoot afgevuur het, maar hy is op 18 Oktober 2014 in die tronk dood weens ʼn breingewas.

Monde Mbolombo, ontvangspersoon by die hotel, het tydens Mngeni se hofsaak volle vryspraak van vervolging op twee aanklagte ontvang, maar is gewaarsku dat hy moontlik vervolg kan word indien hy nie die volle waarheid getuig in Dewani se hofsaak nie.

Lees alle vorige berigte oor Shrien Dewani op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Eben ·

Die ou gaan los kom weens die swak ondersoek van die staat. Regter gaan seker noem hy kan huis toe, maar moet terug as nuwe feite aan die dag kom. Intussen is dit op ons onkostes

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.