Regter onttrek hom aan pastoor se mensehandelsaak

Nigeriese pastoor Timothy Omotoso en sy twee medebeskuldigdes in gesprek met hul advokaat (Foto: Raahil Sain/ANA)

Mandela Makaula, regter in die hooggeregshof in Port Elizabeth, het hom Vrydag onttrek aan die omstrede mensehandelsaak van die Nigeriese pastoor Timothy Omotoso.

Dit volg ná vorige berigte dat staatsgetuies in ʼn gastehuis gehou word wat met Makaula verbind word. Hy het later verduidelik die gastehuis behoort aan sy vrou. “Ek het geen finansiële belange nie en speel geen rol in die bedrywighede nie,” het hy aan die hof gesê.

Die regter verduidelik alhoewel hy nie betrokke is in enige maatskappy of regsentiteit as direkteur of aandeelhouer nie, bestaan daar steeds ʼn verwagting van bevooroordeling. “Ek beskik nie oor enige inligting wat betref die behuising van staatsgetuies nie. Ondanks dié feit, is daar geen aansoek dat ek my moet onttrek nie. Ek dink tog egter dit is die behoorlike ding om te doen.”

Oos-Kaapse regterpresident Selby Mbenenge het later die saak aangehoor en verskeie kwessies in die hof aangeroer, insluitend dat die saak van voor af moet begin en kwessies wat betref mediabetrokkenheid.

Peter Daubermann, vir die verdediging, het aangedui dat hy in die toekoms gekant sal wees daarteen dat die verrigtinge regstreeks uitgesaai word. Mbenenge het gesê aansoeke in dié verband sal voor 28 Junie gebring word.

Die saak begin van voor af en dit beteken dat ʼn nuwe regter in die saak aangestel sal word. Getuienis en bewyse wat vroeër gelewer is, sal weer aan die hof voorgehou moet word.

Die hof het tot dusver getuienis aangehoor van staatsgetuie Cheryl Zondi, wat emosioneel was toe sy vertel het hoe sy verkrag en seksueel voorberei is toe sy ʼn lidmaat en sangeres was by Omotoso se Jesus Dominion International Church (JDI).

Omotoso staan tereg op 63 hoofaanklagte en 34 alternatiewe aanklagte, insluitend mensehandel, verkragting, seksuele aanranding, swendelary en sameswering om iemand by te staan om seksuele aanranding te pleeg.

Sy twee medebeskuldigdes, Lusanda Sulani en Zukiswa Sitho, staan tereg op aanklag dat hulle meisies van oor die land heen gewerf het om seksueel uitgebuit te word.

Die 58-jarige televangelis het na bewering meer as 30 meisies en vroue van verskeie takke van sy kerk na ʼn huis in Umhlanga, KwaZulu-Natal, gebring waar hy hulle seksueel uitgebuit het. Hy is op 20 April 2017 by die Port Elizabeth-lughawe in hegtenis geneem deur die direktoraat vir prioriteitsmisdaadondersoeke (die Valke). Sy aansoek om borgtog is al twee keer afgekeur omdat hy ʼn vlugrisiko is.

Die vroue is in November 2017 in hegtenis geneem en is vrygelaat op borgtog van R2 000.

Die saak is tot 30 Julie uitgestel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Robert ·

Jy behoort vooraf te geweet het enige konneksie met die verdagtes stel jou bloot aan vrae. Baie swak van jou!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.