Regter, prokureur haaks in ‘sekspastoor’ se verhoor

Timothy Omotoso Maandag in Port Elizabeth se hooggeregshof. Foto: ANA

Die vonke het Maandag in die hooggeregshof in Port Elizabeth gespat tussen die verdedigingsprokureur Peter Daubermann en regter Mandela Makaula in die verhoor waarin die Nigeriese pastoor Timothy Omotose op aanklagte van mensehandel en verkragting tereg staan.

Daubermann was besig om die getuie Cheryl Zondi te kruisondervra oor haar tweede ontmoeting met Omotoso nadat sy beweer het hy het haar op die ouderdom van 14 in ʼn “sendinghuis” in Umhlanga, noord van Durban, gemolesteer.

Die openbare galery het in ongeloof na hul asem gesnak toe Daubermann ʼn vraag oor die grafiese besonderhede van die beweerde molestering gevra het. Makaula het hom in die rede geval en gesê hy sal nie die vraag toelaat nie.

Daubermann het die regter daarvan beskuldig dat hy die kruisondervraging kniehalter. Makaula het Zondi toe self die vraag gevra, waarop sy meer grafiese besonderhede gegee het oor wat presies tydens haar ontmoeting met Omotoso gebeur het.

Daubermann het toe verwys na Zondi se eerste verklaring, wat sy verlede jaar teenoor die Valke afgelê het, en gesê die inhoud daarvan verskil van wat sy vandag getuig het.

Zondi het erken sy het sommige van die grafiese besonderhede weggelaat omdat sy getraumatiseer was. Sy het gesê sy wou nie die hele ontstellende voorval in herinnering roep nie. Later, tydens ʼn konsultasie voor die verhoor, het sy wel die besonderhede aan die staatsaanklaer genoem.

“ʼn Traumatiese ervaring het ʼn uitwerking op ʼn mens se verstand,” het sy getuig. “Ek probeer my nie slim hou nie; ek is eerlik.”

Daubermann het nietemin met die vraag volgehou en daarop aangedring om by haar uit te vind hoekom sy haar weergawe van die gebeure aangepas het as sy gesê het sy was van plan om die polisie alles te vertel.

Regter Makaula, merkbaar omgekrap, het Daubermann in die rede geval en gesê: “Ek was van die begin tot nou geduldig; ek sal u nie toelaat om onregverdige vrae te stel nie. Sy het [mos] gesê sy wou nie onthou [wat met haar gebeur het] nie.”

Daubermann het die regter weer daarvan beskuldig dat hy inmeng met die kruisondervraging en met getuies se antwoorde.

Hierop het Zondi, nou in trane, gesê: “Ek het geweet dat dit gebeur het, maar ek wou nie daaroor praat nie.”

Daubermann wou weet waarom Omotoso in die klagstaat nie van verkragting aangekla is nie en hoekom dit nêrens vermeld word dat Omotoso aan haar geslagsdele gevryf het nie.

Zondi het teruggekap en Daubermann gevra om haar nie met “administratiewe kwessies” op te saal nie.

Op sy beurt het Daubermann haar daarvan beskuldig dat sy getuienis uit haar duim suig, haar weergawe aanpas en lieg oor wat werklik gebeur het.

“Dis een van die belaglikste goed wat ek al in my hele lewe gehoor het… Daar bestaan geen twyfel nie dat hy dit gedoen het en meer as een keer,” het sy gesê terwyl sy Omotoso stip aangestaar het.

Die 58-jarige evangelis word deur 63 aanklagte in die gesig gestaar, onder meer verkragting en rampokkery.

Hy het na bewering meer as 30 meisies en vroue van verskillende gemeentes van sy kerk na ʼn huis in Umhlanga gebring, waar hy hulle glo seksueel misbruik het.

Sy vermeende handlangers, Lusanda Solani (36) van Durban, en Zukiswa Sitho (28) van Port Elizabeth, het na bewering meisies dwarsoor Suid-Afrika gewerf en hul bewegings dopgehou in die huise waarin hulle aangehou is.

Die verhoor duur voort.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

Denise ·

Dit is hoekom so baie vrouens nooit klagte gaan lê nie. Dit is makliker om stil te bly want daar in die hof word jy van voor af “verkrag”, uitgemergel, en verneder. Alles oor en oor! Ek het baie respek vir hierdie vrou, om so sterk te wees, om hierdeur te kan gaan. Mag die waarheid seëvier.

bollie ·

Ongelukkig is daar ook vrouens wat kom met wolhaarstories. Onthou dis ook ‘n baie ernstige klag wat die man lewenslank in die tronk kan laat beland. Dit moet in die fynste besonderhede deurgetrap word en dit gaan ongelukkig vir die vrou traumaties wees, toughies, kan nie anders nie.

PieterJohannes ·

Nou wonder ‘n mens maar net waarom die ANC en die EFF nie in hulle hordes betoog voor die hof nie. Is hulle dan werklik so’ besorg oor die regte van vroue en kinders as wat hulle voorgee? Of is dit nie so belangrik omdat hy nie wit of bruin is nie? So word hulle werklike gesindheid mos openbaar gemaak! Die Daubermann kort ‘n Doberman wat hom bietjie beet kry. Geen respek vir die arme mens se trauma nie. Solank hy net die saak wen.

Robert ·

Mnr Daubermann was ook die verdedigings advokaat van 2 van die beskuldiges in die Panayuoto saak en kon nie veel uitrig nie. Klink vir my as jy nie so seker van jou saak is nie begin jy in mense se karakter inklim en skuif die feite opsy

ES ·

Daubermann doen dit om gate in die staat se getuie te vind. Ongelukkig help dit nie om gate te vind in een idividu se getuienis as daar 60 aanklagtes teen jou gemaak is nie. As dit net een persoon was sou ek verstaan, want dit is ‘n ernstige aantuiging om te maak. Hopelik is die ander 59 vrouens net so sterk soos Zondi.

jakes ·

Mense vertrou predikante te veel. Daar loop baie duiwels daarbuite rond met die bybel onder die arm. Hoekom sal n meisie doelbewus of opsetlik lieg oor sulke dinge? En dan is daar verskeie ander ook wat aanklagte ingedien het.

Fanie ·

Wonder net wat is die integriteit en etiese kode van prokureers. Is dit die Waarheid of om sy kalnt se belange (reg of verkeerd) te dien?

J van Rustenburg ·

Dit klink vir my na ‘n baie goeie advokaat en ‘n patetiese regter Dieselfde met die Oskar Pretorius saak

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.