Regter Robert Nugent het Maandag alle versoeke van Tom Moyane, geskorste hoof van die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID), se regsverteenwoordiger van die hand gewys.
Maroela Media het vroeër berig dat adv. Dali Mpofu, Moyane se regsverteenwoordiger, Vrydag daarop aangedring dat ʼn ondersoek na bedrywighede by die Inkomstediens gestaak word hangende die finalisering van ʼn dissiplinêre verhoor teen sy kliënt.
Hy het ook versoek dat alle bewyse van die rekord geskrap word “aangesien dit onder ʼn wolk van onwettigheid en prosedurele onregverdigheid” bekom is. Hy het ook versoek dat die SAID sy kliënt se regskoste betaal.
Nugent het al bogenoemde versoeke van die hand gewys. Nugent het gesê die kommissie van ondersoek is deur pres. Cyril Ramaphosa saamgestel en kan nie net ontbind word nie. Nugent het Mpofu se vertoë as ʼn “skande” bestempel.
Mpofu het ook die rol van prof. Michael Katzas, lid van die ondersoekkommissie, bevraagteken en aangevoer Katz is bevriend met Ramaphosa, wat vir Moyane geskors het, en het Ramaphosa voorheen in ʼn saak verteenwoordig.
Hy het geëis dat Katz van die kommissie verwyder word. Nugent het Mpofu se argument van die hand gewys.
“Of Katz en Ramaphosa nou al voorheen iets met mekaar te doen gehad het maak nie saak nie,” het Nugent gesê.
ʼn Voorlopige verslag oor die ondersoek sal na verwagting in September gelewer word en die finale verslag moet teen November gereed wees.
Moyane se regspan het intussen te kenne gegee dat hulle Ramaphosa nou sal nader en indien dit onsuksesvol is dat hulle die hof sal nader.
Nê Ek se weer Tom gaan kry jou lappie grond want wat jy saai sal jy maai
Gee vir regter Nugent n bells