Regters dalk in staat van beskuldiging oor trae uitsprake

Die hooggeregshof In Pretoria. (Foto: X)

Deur Tania Broughton, GroundUp

Vir die heel eerste keer kan tugstappe en ʼn moontlike staat van beskuldiging ʼn regter in die gesig staar omdat sy nie ʼn uitspraak betyds gelewer het nie.

Regter Nomonde Mngqibisa-Thusi, wat in 2009 as regter aangestel is, kom Vrydag in ʼn verhoor van die regterlike gedragstribunaal, gelei deur Chris Jafta, afgetrede regter van die Konstitusionele Hof, te staan.

Die fokus van die tribunaal is die feit dat Mngqibisa-Thusi altesame 21 uitsprake laat gelewer het. Indien sy skuldig bevind word aan “growwe onbevoegdheid” of “growwe onvermoë” kan sy in ʼn staat van beskuldiging geplaas word.

Die verhoor duur van Vrydag tot Donderdag.

Gautengse regterpresident Dunstan Mlambo het die klag teen haar aanhangig gemaak.

Verlede jaar het ʼn regterlike gedragskomitee bestaande uit regters Dumisani Zondi, Nambitha Dambuza, Phineas Mojapelo en Margaret Victor die klag oorweeg. Hoewel die paneel verdeel was, het hoofregter Raymond Zondo sy beslissende stem gebruik. Dit beteken die meerderheid het ʼn aanbeveling aan die regterlike dienskommissie gedoen dat die klag na ʼn tribunaal vir ondersoek verwys word.

Mngqibisa-Thusi is daarna geskors.

Die geskrewe uitspraak van die komitee, wat die grondslag van haar skorsing en die tugstappe teen haar vorm, stippel vyf sake uit waarin Mngqibisa-Thusi versuim het om ʼn uitspraak binne 12 maande te lewer; nog ses sake waar dit haar langer as ses maande geneem het, en ʼn verdere tien wat, hoewel uitspraak gelewer is, dit “onnodig vertraag” is.

Die komitee het gesê toe die verhoor oor die klag aan die gang was (in Junie 2021), is nog ses laat uitsprake (met ʼn gemiddeld van nege maande) onder die aandag van die regterpresident gebring.

Mngqibisa-Thusi het aan die komitee gesê sy ly aan angs en depressie wat veroorsaak is deur ʼn nabye familielid se verslawingsprobleme. Sy het ook verwys na die “stokou probleem wat vereis dat sy ʼn vorm van Afrika-ritueel ondergaan”. Haar pogings om die agterstand in te haal is boonop gepootjie toe sy geval en haar gewrig en elmboog beseer het.

Sy het aangevoer sy het by tye “oorweldig” gevoel en dat dié gevoel “vererger is deur die swaar saaklading in die Gautengse afdeling” van die hooggeregshof.

Die komitee – in ʼn meerderheidsbesluit – het bevind dit lyk of die klag, indien dit gehandhaaf word, sal dui op onvermoë of onbevoegdheid en dat die tribunaal dit moet ondersoek.

Die minderheid het egter gesê die regter het op “Afrika-spiritualiteit” staatgemaak om haar probleme te hanteer. Hulle het aangevoer die “regbank moet uit sy ivoortoring kom” en die Afrika-kultuur verwelkom. Hulle het gemeen die welstand van regters moet erken en op institusionele vlak hanteer word, nie op ʼn ad hoc-grondslag nie.

Daar was ook geen aanduiding dat die betrokke regter se werksomstandighede ʼn produktiewe ruimte geskep het nie en dat ʼn ondersoek na die geestesgesondheid van regters meer gepas is as ʼn tribunaalproses wat gedrag bepaal wat ʼn regter in ʼn staat van beskuldiging kan plaas.

Mlambo se klag teen Mngqibisa-Thusi, en ʼn soortgelyke een teen regter Tshifhiwa Maumela wat ook na die regterlike gedragskomitee verwys is, het ʼn brief van Zondo in Junie vanjaar voorafgegaan oor die onhoudbare kwessie van regters wat uitspraak voorbehou – in sommige gevalle selfs jare lank.

Zondo het elke regterpresident opdrag gegee om klagte van wangedrag by die regterlike gedragskomitee aanhangig gemaak teen elke regter wat met die lewer van ʼn uitspraak sloer.

Zondo sê art. 10 van die regterlike gedragskode hanteer stiptelikheid van regters. Dit lui dat ʼn regter alle uitsprake wat voorbehou is voor die einde van die hoftermyn waarin die saak aangehoor is moet lewer. Sou dit teen die einde van die termyn aangehoor word, moet dit in die volgende hoftermyn afgehandel word.

Wanneer die uitspraak wat voorbehou word handel oor ʼn ingewikkelde kwessie en die hoof van die hof toestemming gee, mag die uitspraak ook in die volgende hoftermyn gelewer word.

Versuim om dit te doen is prima facie (op sigwaarde) wangedrag ingevolge die gedragskode.

Zondo het gesê die komitee sal klagte oorweeg en waar ʼn aanbeveling vir ʼn tribunaal gedoen word, sal hy een “sonder versuim aanwys”.

“Die kwessie gee die regbank ʼn slegte naam en litigante word van geregtigheid ontneem.”

  • Hierdie berig is oorspronklik op GroundUp geplaas en word met vergunning gebruik.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Sobymykoolkop ·

Sal nou nie my hoed opeet AS dit sou gebeur nie maar die kaders sal hulle meerderheid gebruik om haar te beskerm. Indien nie sal dit appél op appél wees tot sy aftree.

Nici ·

Geregtigheid kom uit wie se ivoortoring?! Dalk het ek nie mooi geleer op skool oor vergelykings nie.

Johann ·

Nee kyk, die verskonings raak al hoe beter. En die aandrang op “afrika kuktuur” in die regs stelsel?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.