Regulasies, regstellings oor werk tydens staat van afsondering

(Foto: pixabay)

Sakelui en hul werknemers mag nou van die huis af werk.

Dít en verdere verslappings en regstellings is vervat in regulasies wat die regering Vrydagoggend gepubliseer het, het die organisasie Sakeliga gesê.

Sakeliga sê hy het die afgelope vier dae dringend en in verskeie regsbriewe hiervoor gevra.

Piet le Roux, uitvoerende hoof van Sakeliga, sê verdere regstellings en verslappings sluit in dat kritieke onderhoud nou ook uitdruklik as noodsaaklike dienste geklassifiseer word. Ook is sakelui en die publiek se reg op skadevergoedingseise teen verkeerde wetstoepassing nou duidelik herstel.

“Sakeliga verwelkom die aanvaarding van hierdie wysigings. Ons is steeds in verbinding met verskeie staatsdepartemente oor aangekondigde regulasies en hoop om ook dáár verbeterings en spoedige regstelling van foute te kry.”

Die minister van samewerkende regering en tradisionele sake, dr. Nkosazana Dlamini-Zuma, het die bepalings vanoggend afgekondig.

Sakeliga het gefokus op verskeie belangrike wysigings nadat verwarring vroeër oor heelwat kwessies geheers het.

  • Regulasie 11B(1)(b): Ondernemings en hul werknemers mag nou sake vanuit hul plekke van afsondering of die buiteland voortsit.
  • Regulasie 11B(4A)(a): Werkplekke moet maatreëls vir sorg en onderhoud hê en die werk wat hiervoor gedoen word, is van ʼn noodsaaklike aard. Waar die kabinetsminister vir handel en nywerheid regulasies daaroor uitreik, moet dit op daardie voorwaardes geskied.
  • Regulasie 11E: Dié bepaling, wat sakelui en die publiek se reg op skadevergoeding in die geval van bona fide-optrede of versuim deur wetstoepassers weggeneem het, is geskrap. Sakeliga sê die skrapping is in pas met sy skrywes aan die minister dat sakelui se remedie van konstitusionele skadevergoedingseise nie sonder meer ingeperk kan word nie en dat die regulasies aan rasionaliteit en legaliteit moet voldoen.
  • Bylaag B: Die lys van noodsaaklike dienste is uitgebrei en sluit nou byvoorbeeld in alle “kritieke onderhoudsdienste wat nie vir langer as 21 dae uitgestel kan word nie en wat noodsaaklik is vir die hervatting van bedryfsaktiwiteite na “die inperkingstyd”. Ook sekere oproepsentrums, oes- en ander landbouaktiwiteite, sekere finansiële dienste, en verskeie ander besigheidsaktiwiteite is nou toelaatbaar.
  • Bylaag D: Restaurante is nou ingesluit in Bylaag D van die regulasies, wat bepaal dat dit vir die publiek gesluit is. Sakeliga sê dit is ʼn gulde geleentheid vir die regering om, soos selfs in China die geval was, restaurante toe te laat om kos vir aflewering te maak. Dit sou in pas wees met die regering se oogmerk om groot samekomste te vermy, kan mense help om tuis kos te bekom en kan talle klein ondernemings soos restaurante en afleweringsdienste ondersteun.

(Foto: pixabay)

Le Roux sê hulle verwag selfs verdere verslapping en uitbreidings aan die definisie van noodsaaklike dienste in die komende dae en weke.

“ʼn Ekonomie is ʼn wonderlike, geïntegreerde verskynsel, wat nie sonder meer in noodsaaklik- en nie-noodsaaklik opgedeel kan word nie. Ons weet en kan in die wysigings sien dat ook verskeie ander sake- en bedryfsgroepe se insette in ag geneem is, wat ʼn bemoedigende teken oor die veerkragtigheid van die sakesektor in Suid-Afrika is,” sê Le Roux.

Hoe gemaak as ek noodsaaklike dienste of produkte lewer?  

Le Roux sê ʼn onderneming moet eerstens vasstel of hy ʼn noodsaaklike diens of produk lewer. Hiervoor kan die bylaag wat die departement uitgereik het, gebruik word.

Opsies

A: As jou ondernemings wél onder die vrystelling val:

  1. Voltooi die eedsverklaring dat jou onderneming noodsaaklik is en dat jy byvoorbeeld in die proses is om aansoek te doen vir ʼn ondernemingspermit.
  2. Voltooi ʼn permitvormvir elke werknemer wat nodig is vir die handhawing van produksie of dienste. Reik die permit aan die werknemer uit en heg die eedsverklaring ten opsigte van die onderneming aan.
  3. Versprei die eedsverklaring aan al die diens- en produkverskaffers in jou onderneming wat op hul beurt noodsaaklik is vir die handhawing van noodsaaklike produksie en/of sorg, onderhoud en die veiligheid van jou onderneming.
  4. Doen aansoek vir die ondernemingspermit by bizportal.gov.zaof by ʼn ander webwerf waar die CIPC die permitstelsel bedryf, indien dit blyk dat hierdie permitproses voortgaan en deur die nodige regulasies ondersteun word.
  5. Versprei die permit (as en wanneer jy dit ontvang) aan al die personeel en diensverskaffers aan wie jy die eedsverklaring oorspronklik versprei het.

B: As jou onderneming nié onder die vrystelling val nie:

  1. Bepaal of jou onderneming dienste of produkte lewer aan ʼn onderneming wat noodsaaklike dienste of produkte lewer (en/of ʼn permit daarvoor ontvang het). Indien wel, gaan terug na opsie A en voer daardie stappe uit. Indien nie, gaan voort met die volgende stappe.
  2. Bepaal watter onderhoud, sorg en veiligheidsmaatreëls in die onderneming noodsaaklik is, selfs al doen die onderneming nie sake nie. Sakeliga sê die onderhoud en instandhoudingsdienste, asook veiligheidsdienste val oënskynlik ook onder die regulasies vir noodsaaklike dienste.
  3. Voltooi die eedsverklaringof pas dit soos nodig aan om aan te dui watter sorg, onderhoud en veiligheidsaspekte van die onderneming noodsaaklik is, selfs al bedryf die onderneming nie sake nie.
  4. Voorsien werkers en diensverskaffers wat nodig is vir noodsaaklike onderhoud, sorg en veiligheid van die nodige dokumentasie. In die geval van werknemers kan dié permitvormvoltooi en aan elke werker uitgereik word, met die eedsverklaring ten opsigte van die onderneming aangeheg. In die geval van eksterne diens- en produkverskaffers, voorsien hulle van die eedsverklaring en ʼn brief van jou onderneming dat hul produkte en/of dienste noodsaaklik is.
  5. Werk sover moontlik aanlyn en van die huis af.
  6. Wanneer jy die permit ontvang, versprei dit aan alle personeel en diensverskaffers aan wie jy die eedsverklaring oorspronklik versprei het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Fae Fubar ·

Ek wonder hoeveel werkgewers daar is soos myne? Elke werknemer móét elke dag soos normaalweg aanmeld vir diens. En dit terwyl die maatskappy kan funksioneer met minder as die helfte van die personeel. Selfsug is die eienskap wat werknemers se lewens en eweneens dié van hulle gesinne in gevaar stel. Dit is skokkend dat die implikasies van ‘n pandemie nog nie deurgedring het tot mense wat sogenaamd intelligent is nie. Nee wat, kom ons wees báie slim, reik links en regs permitte aan ons werkers uit en hoon dié wat skrik vir koue pampoen.

Deon ·

Ek is verskriklik “confused” ek dink nie dat ek hierdie lockdown ding reg verstaan nie…. Almal en alles werk nog oral en ry rond en gaan aan asof geen so iets in gestel is nie. Dis asof daar net n reel gekom het wat se Dat ons nou moet n vorm vir iemand invul as ons wil gaan werk of kos kry of watookal. Ek stem saam Debs, is geld dan nou alles? Geld spaar nou, gaan absoluut niks beteken as hierdie virus begin verwoesting saai onder die derduisende wat in hokkies op mekaar moet bly en daar die geld moet gebruik word om na hulle om te sien nie. Of is dit n kwessie van, miskien is die ou more food, last ek hom gou klaar gebruik voor hy weg is. Ek is confused.

Scalla ·

Daar is soveel regulasies en vorms wat hulself nie eers verstaan nie!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.