Regulasies vir selfopwekking laat gepubliseer

Gwede Mantashe, minister van minerale hulpbronne en energiesake. (Foto: Twitter)

Die minister van minerale hulpbronne en energie, Gwede Mantashe, het eindelik Donderdag die nuwe verhoogde drempel vir selfopwekking van elektrisiteit sonder ʼn lisensie in die Staatskoerant bekendgemaak.

Dít nadat organisasies en politieke partye vandeesweek gekla het dat die minister sy voete sleep.

Ramaphosa het in Junie aangekondig dat die drempel vir selfopwekking – sonder ʼn lisensie – van 1 MW tot 100 MW verhoog word.

Die aankondiging is wyd verwelkom en Mantashe is aangesê om die aangepaste regulasies van die Wet op die Regulering van Elektrisiteit binne 60 dae te bekragtig.

Die 60 kalenderdae het Maandag al verstryk.

Luidens die Staatskoerant is die Wet op die Regulering van Elektrisiteit nietemin nou gewysig om voorsiening daarvoor te maak dat die drempel om krag sonder ʼn lisensie van die Nasionale Energiereguleerder (Nersa) op te wek van 1 MW tot 100 MW verhoog word.

Maroela Media het vroeër berig die gewysigde regulasies sal opwekkingsprojekte tot 100 MW in grootte vrystel van die Nersa-lisensiëringsbepaling – of dit nou aan die netwerk gekoppel is of nie.

Die VF Plus het vroeër vandeesweek gesê daar is gerugte dat dié welkome aankondiging deur Ramaphosa nie Mantashe se steun gehad het nie. Die minister is volgens die party klaarblyklik ʼn voorstander van regeringsbeheer oor die voorsiening van elektrisiteit.

Die burgerregteorganisasie AfriForum het op sy beurt gesê dit is onaanvaarbaar dat die minister so lank vat om die nuwe verhoogde drempel vir selfopwekking sonder ʼn lisensie te bekragtig.

Dr. Eugene Brink, strategiese raadgewer vir gemeenskapsake by AfriForum, meen die vorige lisensiëring van private kragopwekking was moeisaam. “ʼn Hoër perk kan die administratiewe las verlig omdat veel minder aansoeke dan goedgekeur moet word.”

Lees die aangepaste regulasies van die Wet op die Regulering van Elektrisiteit hier.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

JM ·

Waarom haastig wees? Álles in die land gebeur teen ‘n slakkepas, of glad nie: Afrika-styl …

Pieter ·

Als in ANC land is of laat of nooit ons het mos van die slimste menisters in die wereld hulle kan enige werk doen.

Frederik C ·

Die minister is ‘n erkende kommunis. Hy’s dus ‘n voorstander van staatseheer oor alles.

Yvonne ·

Dit is moeilik om n besluit te neem as jy nie weet wat aangaan nie..shame maar klou vas vir lewe en dood

Jack ·

Ramkat word bestuur deur die politburo. Hy mag nie aankondigings doen nie. Dink terug aan die sigaretverbod waar hy deur kopdoek oorheers is.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.