Regverdigheid van OB-kiesproses bevraagteken

Thuli Madonsela. Foto: Werner Beukes/SAPA

Thuli Madonsela. Foto: Werner Beukes/SAPA

Die parlementêre komitee wat moet besluit wie voortaan die pos van die openbare beskermer (OB) sal beklee, se besluit om die proses teen einde Augustus af te handel is gekritiseer deur opposisie wat meen oorhaastigheid kan die hele proses in gedrang bring.

Thuli Madonsela, die huidige OB, sal einde Oktober uittree. ʼn Ad hoc parlementêre komitee het Donderdag vir ʼn marathonsessie van 20 uur onderhoude met 14 kandidate gevoer wat op die kortlys is om Madonsela op te volg. Die onderhoude het net ná 08:00 begin en is eers Vrydag in die vroeë oggendure afgehandel.

Die parlement het Vrydag in ʼn verklaring gesê dr. Makhosi Khoza, die komitee se voorsitter, sal ʼn datum vasstel wanneer die komitee weer sal vergader om oor die onderhoude te beraadslaag en te besluit op ʼn kandidaat wat hulle teen 31 Augustus vir die Nasionale Vergadering sal aanbeveel.

Adv. Glynnis Breytenbach, DA-LP en een van die komiteelede, het gesê die “onnodige haas” waarmee die ANC dit wil afhandel, bring die hele proses in gedrang. “Die wanbestuur van die OB-onderhoudproses kan die keuse van ʼn gepaste en geskikte kandidaat om teen korrupsie te baklei in gedrang bring,” het Breytenbach gesê.

“Dít is klaar nadat 14 onderhoude, waarvan party langer as ʼn uur geduur het, in een dag ingeprop is en tot in die vroeë oggendure geduur het. Die laaste kandidaat is eers om 01:45 ingeroep nadat die paneel reeds omtrent 19 uur in die lokaal deurgebring het. Dit volg ná ʼn kortlysproses wat veel te wense oorgelaat het met LP’s wat inderhaas besluite moes neem op grond van pakke dokumente wat tydens ʼn kortlysvergadering aan hulle uitgedeel is.”

Breytenbach het gesê ten spyte van die DA en ander opposisiepartye se besware, het die voorsitter net voortgegaan met die proses.

“Dít net omdat die ANC-LP’s streng opdrag gegee is om seker te maak die proses is teen einde Augustus afgehandel,” het sy gesê. “Hoewel die OB-proses aan tydsbeperkings onderhewig is, kan die behoorlike proses nie net geïgnoreer word weens dringendheid nie.”

Sy het ook die regverdigheid van die onderhoudproses bevraagteken en gesê die kies van ʼn nuwe OB kom nie net neer op ʼn lys tegniese aspekte nie. “Dit gaan daaroor om die kandidaat te kies wat die beste gekwalifiseer is om hierdie noodsaaklike pos te beklee. Dit is byna onmoontlik om te doen wanneer die kandidate én die paneel heeltemal uitgeput is teen die tyd dat die onderhoude gevoer word.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

John ·

Die ANC soek hul eie keuse in die pos. Holderste bolder lei tot presies net dit. Waarom sou die regering een afdeling he wat werk, dis mos teen hul aard. Kyk watter kandidaat gaan die meeste chaos saai. Dis die een…

Marietjie ·

Ek is steeds verstom dat Glynnis Breytenbach se aandeel in die onderhoude van die OB Thuli se opvolger en haar kommetaar, terwyl sy self onder verdenking staan met sake waarvoor sy aangekla en vervolg word. Hoe kan sy tot enige voordeel wees om n besluit vir so belangrike pos te kan maak. Die DA wat kastig roem hulle ver korrupsie moet eers hul eie huis in orde bring voordat sy ander beoordeel.

Ander Koos ·

Voorwaar vreemd om onderhoude so aaneenlopend te voer. Waarom nie oor 2 of 3 dae ? Wil voorkom of onderhoude net skyn is en dat daar voor die tyd reeds besluit is wie die aanstelling gaan kry. Kans is seker goed dat dit hierdie keer ‘n kornuit gaan wees.

Irene ·

Daar sal nooit weer een soos Thuli Madonsela wees nie sy is te eerlik met haar werk

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.