Rehabilitasie van kormorant-kuikens duur voort

Meer as 1 700 kuikens is van Robbeneiland af gered en na die Sanccob-fasiliteit in Table View gebring. (Foto: Facebook/Sanccob Saves Seabirds)

Die afgelope paar maande staan die Twee Oseane-akwarium die Suid-Afrikaanse Stigting vir die bewaring van Kusvoëls (Sanccob) by in die terugbesorging en vrylating van gerehabiliteerde kormorant-kuikens op Robbeneiland.

Dit is deel van ʼn grootskaalse reddingspoging wat al sedert middel Januarie vanjaar voortduur.

Die ouer voëls het die kuikens aan die begin van die jaar verlaat en Sanccob het vinnig ʼn reddingsoperasie van stapel gestuur met behulp van die akwarium, die Nasionale Seereddingsinstituut (NSRI) en ander rolspelers.

Meer as 1 700 kuikens is van Robbeneiland af gered en na die Sanccob-fasiliteit in Table View gebring. Sedertdien het die kuikens rehabilitasie ondergaan, met spanne van die akwarium wat vrywillig hulle ondersteuning aan die proses verleen het.

Toe sommige van die voëls gereed was om vrygelaat te word, het die akwarium weer sy hulp verleen deur sy boot, die Aquarium 1, beskikbaar te stel vir die vervoer van die kuikens terug na Robbeneiland en ook ander nodige toerusting na die eiland help vervoer.

Die akwarium het altesaam 14 reise tussen Table View-hawe en Robbeneiland afgelê om te verseker dat die voëls na hulle kolonie terugbesorg word. Dié reise het ook die vervoer en oprigting van ʼn spesiale voëlhuis, waar die voëls eers geklimatiseer word voordat hulle vrygelaat word, ingesluit.

ʼn Grootskaalse reddingspoging duur sedert middel Januarie vanjaar voort. (Foto: Facebook/Sanccob Saves Seabirds)

“Die akwarium is altyd gewillig om te help waar hy kan wanneer daar ʼn mariene omgewingskrisis is, veral waar ons hulp kan verleen met ons ondervinding en in sommige gevalle ons bates, soos ons boot,” het Claire Taylor, assistentkurator van die akwarium, gesê.

“Ons werk al saam met Sanccob sedert die akwarium 25 jaar gelede sy deure geopen het en hulle het ons ook al geweldig bygestaan, waarvoor ons baie dankbaar is.

“Om hulp te verleen met die vervoer van die voëls heen en weer van Robbeneiland af, was ʼn lonende proses vir ons en dit is hartverwarmend om te sien hoe die voëls aan hulle kolonie terugbesorg is. Bewaring en dierewelstand is deel van ons mandaat en ons sal volhou om diere te ondersteun waar ons kan.”

Die akwarium staan ook gereeld die Waterfront Wildlife Monitors-organisasie by in die rehabilitasie van ander seevoëls. Die voëls word deur Waterfront Wildlife Monitors na die akwarium gebring, waarna hulle na Sanccob gestuur word.

Sanccob en die akwarium se pogings om die kormorant-kuikens te rehabiliteer duur voort. (Foto: Facebook/Sanccob Saves Seabirds)

“Ons is baie dankbaar vir die volgehou bystand van die Twee Oseane-akwarium gedurende die reddingspoging van die kormorant-kuikens. Hulle toewyding in die ondersteuning van ons pogings het nog nooit gewankel nie. Ons vertrou dat ons in die toekoms ook op hulle kan staat maak,” sê Romy Klusener, rehabilitasiebestuurder by Sanccob.

Daar is nog honderde voëls wat nog nie aan die eiland terugbesorg is nie. Sanccob en die akwarium se pogings om dié voëls te rehabiliteer duur voort.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.