Rehabilitasiesentrum gesluit ná pasiënt sterf

hospitaal

Argieffoto: Erkan Utu/Pexels.com

ʼn Dwelmrehabilitasiesentrum in Magaliesburg, Gauteng, sal einde vandeesmaand sy deure sluit nadat ʼn pasiënt in Oktober vanjaar dood is nadat hy by die sentrum aangerand is.

Mahomed Shaik Sulaiman (40) is op 28 September in die Magaliesburg-gesondheidsentrum opgeneem waar hy ernstig aangerand is. Hy het in ʼn koma verval en het op 14 Oktober gesterf. News24 het vroeër berig dit is nie duidelik wie by die aanranding betrokke was nie, maar daar is beweer ʼn onderonsie het tussen pasiënte ontstaan en “’n toesighouer en veiligheidswag het ingegryp”.

ʼn Saak van moord is gevolglik by die polisie aanhangig gemaak.

Nandi Mayathula-Khoza, LUR vir maatskaplike ontwikkeling in Gauteng, het Vrydag gesê die sentrum het die departement vandeesweek die versekering gegee dat hy sy deure einde Desember finaal sal sluit en pasiënte wat nog in die sentrum is, is ingelig om die perseel te verlaat.

Die sentrum is in 1999 op die been gebring deur die Crescent of Hope-organisasie as ʼn rehabilitasiesentrum vir dwelmgebruikers, spesifiek vir die Moslem-gemeenskap, hoewel mense van ander oortuigings by die sentrum geakkommodeer is. Die sentrum is op die Magaliesburg-heuwel in Rietpoort geleë.

Volgens Mayathula-Khoza is die sentrum by die nasionale departement van maatskaplike ontwikkeling geregistreer op 9 Januarie 2012. Die sentrum was gemagtig om ʼn maksimum van 20 volwasse manspasiënte te huisves.

“Die registrasie was geldig vir vyf jaar en die registrasiesertifikaat het op 9 Januarie 2017 verval. Die sentrum moes daarna herregistreer. ʼn Besoek op 16 Oktober aan die sentrum, ná Sulaiman se dood, het gevind dat die sentrum se registrasie in Januarie 2017 verval het. Die departement het ook gevind die sentrum is nie toegerus om inbly-pasiënte te behandel nie en het opdrag gegee dat dit gesluit word.”

Die LUR sê hoewel die regering die pogings van die burgerlike samelewing verwelkom om aandag te gee aandie vlaag van dwelmmisbruik in die samelewing, moet dit op ʼn wettige wyse gedoen word. “Gemeenskappe word aangemoedig om seker te maak dat hulle nie hul geliefdes verwys na onwettige behandelingsentrums of gemeenskapsdienste nie. Indien jy twyfel, kontak jou naaste kantoor van maatskaplike ontwikkeling,” het Mayathula-Khoza gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

not in wonderland ·

Dis geen wonder dat so-iets gebeur nie. Ons het twee “addicts” in ons familie en meeste van die tyd onhoubare situasie.

Ellisras ·

Die mense het net nagelaat om te registreer. Die administratiewe las op besighede is onuithoudbaar. Van UIF tot z. En jou papiere raak weg. Ons vervalle staat maak almal moedeloos.

Sarel ·

Is Noupoort nog oop? Was onder die indruk dat daar klagtes teen hulle was waarna hulle toegemaak het?
Ek glo hulle het die regte resep. Help nie om met sagte handjies met verslaafdes te werk nie.

Karolis ·

Selfde geval soos hierbo. Lees eers in MM se argiewe oor die plek.

vivienne ·

South coast recovery centre in ramsgste

BESTE !!!!!!!

Sterkte

Melanie ·

Ons finansies was onvoldoende om ons familielid na enige sentrum toe te neem nie. Ons het ‘Tough Love’ self toegepas, baie gebid en vandag gaan dit veel beter.

Bekommerde ·

Wat ‘n geweldige verlies vir die samelewing -daar is so min sentrums om die verslaafdes te help!

Baie sterkte aan almal wat se geliefdes sukkel met die probleem.

Ons hoop dat die geboue nie in verval sal raak nie en dat iemand anders dalk weer kans sien om met die werk voort te gaan!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.