Reis met minderjariges binnekort makliker

reis-met-kinders-02

Foto: Bmiregional.com

Die besonderhede van Suid-Afrikaanse ouers sal binnekort op die paspoorte van hul kinders verskyn.

Dit is deel van die departement van binnelandse sake se planne om te moderniseer en behoort dit ook aansienlik makliker te maak vir ouers om met hulle kinders te reis sonder om noodwendig op veiligheid in te boet.

Malusi Gigaba, minister van binnelandse sake, het dié aankondig gemaak as deel van sy departement se skuif na ʼn papierlose aansoekproses vir geboorte-, huwelik- en doodregistrasies.

Die skuif plaas Suid-Afrika op dieselfde vlak as die meeste lande wat reeds die name van ouers op ʼn kind se paspoort vertoon.

Gigaba het gesê ouers sal egter steeds volledige geboortesertifikate moet verskaf indien ʼn ander land dit as deel van hulle reisregulasies versoek. Reisigers van vreemde lande, wat nie die name van ouers in minderjariges se paspoorte vertoon nie, sal ook ʼn volledige geboortesertifikaat moet verskaf indien hulle na Suid-Afrika wil reis.

Volgens hom sal ʼn kind wat nie met een of albei ouers reis nie, ook nog steeds skriftelike toestemming van die ouers moet kan vertoon.

Gigaba het bygevoeg dat diegene met geldige paspoorte darem nie nou weer dadelik hoef aansoek te doen vir nuwe paspoorte nie.

Die besluit volg nadat die kabinet in Oktober 2015 aangekondig het visumregulasies sal verslap word deur die besonderhede van Suid-Afrikaanse ouers in paspoorte te druk sodat hulle nie die volledige geboortesertifikate vir kinders hoef te toon as hulle reis nie.

Dit was nadat dié strenger reisregulasies vir minderjariges na en van Suid-Afrika op 1 Junie 2015 in werking getree het. Dit het ʼn herrie veroorsaak en talle plaaslike en oorsese reisigers wat met hulle kinders wou reis is heeltemal onkant betrap.

Baie ouers kon nie betyds die nodige dokumentasie verkry nie omdat dit veral plaaslik gelyk het of die departement van binnelandse sake nie oor die nodige kapasiteit beskik het om aansoek vir volledige geboortesertifikate vinnig te verwerk nie, het Maroela Media destyds berig.

Nog ʼn verandering wat dié departement nou wil instel is die outomatisering van die geboorteregistrasie vir kinders tot en met eenjarige ouderdom. Ouers sal glad nie meer papiervorms hoef in te vul vir die registrasies van hulle baba nie. Gigaba glo dit sal geriefliker vir aansoekers wees terwyl dit ook sal help om korrupsie en bedrog te verminder.

Landsburgers wat reeds in die nasionale bevolkingsregister geregistreer is, sal binnekort ook huwelik- en doodsertifikate kan laat herdruk sonder om weer vorms daarvoor hoef in te vul.

Malusi Gigaba, minister van binnelandse sake (Foto: Cindy Waxa/ANA)

Gigaba het gesê die outomatisering van die geboorte-, huwelik-, en doodsertifikaat proses sal ʼn groot stelselopgradering vereis, wat reeds Vrydag sal afskop.

Die eindproduk sal verseker dat dié soort dokumente elektronies gestoor word en op versoek maklik gevind kan word in teenstelling met die ou papierstelsel wat die departement geërf het, het hy bygevoeg.

Die opgradering van die stelsel sal beteken dat gemoderniseerde kantore wat slim ID-kaartaansoeke aanvaar, vanaf 14:00 op Vrydag nie nuwe aansoeke vir ID’s en paspoorte sal kan ontvang nie terwyl die nuwe stelsel gerugsteun word. Kantore sal egter aandag gee aan mense wie se aansoeke reeds verwerk is.

Die instelling van die nuwe stelsel sal verder só verloop:

  • Maandag 16 Julie en Dinsdag 17 Julie: Wes-Kaap, KwaZulu-Natal en deelnemende banke.
  • Woensdag 18 Julie en Donderdag 19 Julie: Limpopo, Noordwes en die Oos-Kaap
  • Vrydag 20 Julie: Mpumalanga, Vrystaat en die Noord-Kaap
  • Opgradering van die stelsel in Gauteng sal op 14 en 15 Julie plaasvind, wat beteken nie een van die departement se kantore in Gauteng sal ʼn onderbreking in dienslewering ondervind nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Tricea ·

Wanneer gaan hulle besef dat ander lande nie ‘volledige’ geboortesertifikate het nie. Dit het net hier waar al die korrupsie aangaan, nodig geword!! Hulle wil seker keer dat die hele wereld eerstehands sien wat hier aangaan…….

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.