Reisbeperkings stuit emigrasieplanne

(Argieffoto: Pixabay.com)

Die onverwagse beperkings wat verskeie lande sedert die naweek die een na die ander op reisigers vanuit Suid-Afrika ingestel het, het die mat behoorlik onder verskeie mense se vakansieplanne geruk.

Talle lande het hul grense vir Suid-Afrikaanse reisigers gesluit nadat ’n nuwe Covid-19-variant, Omikron, in Suid-Afrika bevestig is. Verskeie lugrederye het ook hul vlugte opgeskort.

Dorette Bartmann is een só ʼn reisiger. Bartmann en haar gesin se planne om Suid-Afrika sak en pak vir Mauritius te verruil, is skielik op die kop gekeer.

Die gesin beplan al maande lank aan die emigrasie na Mauritius, maar al hul planne is Sondag skielik gestuit toe hul vlug na Mauritius weens reisbeperkings opgeskort is.

Die laaste vlug van Suid-Afrika na Mauritius het Saterdag vertrek.

Bartmann, haar lewensmaat, Doreen du Plooy, en hul tienjarige seun, Mickael Bartmann, bly tans in ʼn hotel in Johannesburg – op hul eie koste – terwyl hulle wag op antwoorde.

Die gesin se honde is reeds twee weke lank in ʼn hondeherberg en die ekstra uitgawes beloop tot dusver meer as R100 000.

Die gesin se huis in Durban word reeds verhuur en al hul besittings word in ʼn vraghouer gestoor wat nou ook nie meer na Mauritius gestuur kan word nie.

Volgens Bartmann het hulle ʼn huuroorkoms vir ʼn jaar vir ʼn huis in Tamarin, Mauritius, onderteken. Hulle het reeds twee maande se deposito en ʼn maand se huur vir Desember betaal.

“Ons sou die sleutels op 1 Desember kry,” sê Bartmann.

Mickael is intussen reeds by die Telfair International Primary School in Tamarin ingeskryf en is veronderstel om op 17 Januarie daar aan te meld.

Du Plooy en Bartmann moet ook vroeg in Januarie by hul nuwe werk inval.

“Die toekoms is egter onseker. Ons leef nou dag vir dag.”

‘Soos ʼn tronk’

Intussen sit Bartmann se ouers saam met ʼn groep Suid-Afrikaners in ʼn hotel op Mauritius. Hulle moet hulle sewe dae lank in die hotel isoleer nadat hulle Saterdag in die land aangekom het.

Volgens Clayson Monyela, woordvoerder van Suid-Afrika se departement van internasionale betrekkinge en samewerking (Dirco), betaal die regering in Mauritius vir die hotelverblyf.

Karen Janse van Rensburg en haar man, Constant Bartmann, en seun, Cilliers Bartmann (39), is in Mauritius vir wat veronderstel was om ʼn vakansie te wees.

Hulle het beplan om vir oulaas Kersfees saam met Dorette en haar gesin deur te bring en dan daar afskeid te neem.

Janse van Rensburg sê hulle was veronderstel om Vrydag te vertrek, maar het eers Saterdag ʼn vlug gekry.

“Dit was chaos by die lughawe. Almal het probeer wegkom. Daar is ook glad nie met ons gekommunikeer oor die vlugte nie,” sê sy.

Janse van Rensburg sê hulle is ook nie omtrent die kwarantyn by die hotel ingelig nie.

“Ons is almal voor die vlug ingeënt en vir Covid-19 getoets. Almal het negatief getoets. Ek verstaan nie waarom ons dan vir so lank in kwarantyn moet bly nie.”

Volgens Janse van Rensburg voel die hotelkamer soos ʼn tronksel en mag hulle die vertrek glad nie verlaat nie. Sy sê die hotelkamer is slordig en vuil en die kos is volgens haar oneetbaar.

“Ek moes die hele kamer uitvee en skrop voordat ons daar ingetrek het.”

Sy sê die gesin is ook onseker of hulle wel in Januarie sal kan terugkeer na Suid-Afrika.

Monyela het Suid-Afrikaners wat hulp benodig aangeraai om hul naaste ambassade te kontak, of regstreeks met die departement in verbinding te tree.

Volgens Dirco is dit betreurenswaardig dat sommige lande summier reisbeperkings teen Suid-Afrika ingestel het. Monyela sê Dirco beoog om met van dié lande te konsulteer om hulle te probeer oortuig om die reisbeperkings te laat vaar.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Jaco ·

En nou is hulle nog wit ook, so moenie hulp van our people se regering verwag nie

Catherina ·

So dankbaar. My kinders twee weke gelede ge..emigreer. . Net betyds!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.