Reisbeperkings terugslag vir sakesektor

Argieffoto (Foto: Michał Parzuchowski/Unsplash.)

Corporate Traveller, ʼn korporatiewe handelsmerk van die Flight Centre Travel Group, sê die sakereisbedryf is swaar getref deur die Verenigde Koninkryk (VK) se besluit om Suid-Afrika weer op die rooilys te plaas ná die ontdekking van ʼn nuwe Covid-19-variant, genaamd B.1.1.529.

Brittanje het bekend gemaak dat hy van Vrydag 14:00 (SA tyd) alle vlugte vanaf Suid-Afrika, asook Namibië, Botswana, Zimbabwe, Lesotho en Eswatini tydelik opskort weens vrese oor die nuwe B.1.1.529-variant wat nou sy kop in Suid-Afrika uitgesteek het.

Dit is nie duidelik hoe lank Suid-Afrika hierdie keer op die rooilys sal wees nie.

Volgens Corporate Traveller verwag hy dat ander lande nou Brittanje se voorbeeld gaan volg en hul grense vir Suid-Afrikaanse reisigers sluit. Duitsland, Italië, Israel en Singapoer weier reeds dat reisigers van Suid-Afrika hul grense oorsteek, en Nederland en Frankryk is kort op hul hakke.

Oz Desai, algemene bestuurder van Corporate Traveller, sê die reisbeperkings is ʼn groot slag vir daardie Suid-Afrikaanse maatskappye wat hul hoofkwartiere in die VK het.

“Die meeste Suid-Afrikaners sal nie na die VK kan reis nie, en diegene wat ʼn vrystelling het om te reis, sal vir lank in kwarantyn moet bly. Die werklikheid is dat die koste en ongerief rakende kwarantyn by regeringsgoedgekeurde hotelle in die VK ʼn groot afskrikmiddel vir Suid-Afrikaanse sakereisigers is,” sê Desai.

“Die sakereisbedryf het reeds begin herstel en maatskappye het weer internasionale reise oorweeg. Die nuwe verbod sal waarskynlik ʼn beduidende uitwerking hê op pogings om korporatiewe reisigersvertroue te laat groei en te koester.”

Corporate Traveller sê hy is egter hoopvol dat die reisbeperkings binnekort opgehef sal word, namate meer akkurate inligting oor die B.1.1.529-variant beskikbaar word, en groter duidelikheid verskaf word oor entstowwe se doeltreffendheid teen die variant.”

Desai sê Corporate Traveller se top-prioriteit is om kliënte wat deur die reisbeperkings geraak word te help. “Reisigers word aangeraai om Corporate Traveller se sosialemediakanale dop te hou vir bywerkings oor die jongste verwikkelinge namate die situasie ontwikkel, of om uit te reik na hul toegewyde reisbestuurder of kliëntebestuurder.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Frank John ·

Die mense wat begin het met die vervaardiging van die virusse om hul eie agenda in werking te stel, om “god” te speel, hulle dink hul weet beter van hoeveel mense moet op die aarde wees. God het alles geskep en Hy sal besluit waneer daar genoeg of te veel mense op die aarde is.

piet ·

So ons het geen medikasie nodig nie, God sal beskik en ook sorg dat jy nooit pyn verduur nie, nie hoef te gaan vir ‘n lewensreddende operasie nie, nie van ‘n hoe gebou wil afspring as jy wil nie, ens. Oukei, good luck met dit.

Laeik ·

God slaap dan seker want daar is al so 5 biljoen mense gelede te veel mense op die aarde…

Delene ·

Te Vinnig, Te Veel! Die Regering & Media se hantering en Bestuur van Covid, laat veel te wense oor! Suid Afrika se Ekonomie en Toerisme Bedryf is voos. Hier is ‘n baie fyn lyn wat nie oorskry kan word nie, anders gaan SA en sy inwoners lang trane huil….

annie ·

Nou is die ANC weer in beheer ná die skok-nederlaag in die munisipale-kakofonie. En dit gaan so bly tot ná die ANC se groot sitting in 2022. Die interne stryd duur voort en kandidate vir Tuinhuis is vollop. Die ANC glo skynbaar hulle is nou die towerwoord ‘sesame’ se eienaar. Pledge is die Engelse vertaling daarvan. Met R131 miljard agter die ANC se blad, vir wat sal hul worry oor die ekonomie en om belasting te in. Biden is skynbaar ook ‘n bok vir elke kla-stemmetjie wat Africa kan sê.

Kompas ·

Gaan baie lank neem om Suid-Afrika weer van die rooi lys af te kry. Mens kan deesdae geen vakansie / sakereis te ver vooruit beplan nie.

Pietertjie ·

Globale vernietiging van die huidige ekonomiese bestel vorder fluks.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.