Reisigers gewaarsku oor staking op Duitse lughawens

Argieffoto

ʼn Staking deur werkers in Duitsland se openbare sektor sal ook ʼn invloed op Suid-Afrikaners se vlugte na dié Europese land hê.

Die Duitse werkersvakbond Vadi het Maandag aangekondig dat sy lede in die openbare sektor Dinsdag sal voortgaan met stakings by lughawens oor die hele land. Dit het tot gevolg dat vlugte en dienste op die lughawens vertraag word wat die vakbond hoop meer druk op loononderhandelinge sal plaas.

Intussen het SAL Maandag gesê dat die staking ook ʼn invloed op die lugredery se bedrywighede in Duitsland sal hê. Volgens Tlali Tlali, SAL se woordvoerder, het die lugredery besluit om wel voort te gaan met sy bedrywighede, maar sal passasiers wat verder as Frankfurt of München wil vlieg, nie aanvaar word nie.

Tlali het gesê geen passasiers wat spesiale hulp benodig, soos ʼn rolstoel, sal toegelaat word nie. Minderjarige passasiers wat nie deur ʼn volwassene vergesel word nie of ander jong passasiers wat van hulp afhanklik is, sal ook nie aanvaar word nie.

“Ons doen alles moontlik om die uitwerking van die Duitse staking op ons kliënte te beperk,” het Tlali gesê.

Reisigers wat Maandag op ʼn SAL-vlug na Duitsland moes vertrek, is die opsie gegee om hul reis uit te stel en diegene wat besluit het om eerder nié te vlieg nie, is deur SAL geakkommodeer.

Volgens Tlali sal daar ook tydens die staking beperkte personeel in Duitsland beskikbaar wees om bagasie te hanteer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

marous ·

Suid Afrikaanse passasiers is so gewoond aan disfunksionele lughawens dat hulle dit nie eers gaan agterkom nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.