Reisigers in haglike kwarantynfasiliteit gedwing

‘n Kwarantynfasiliteit in Lobatse, Botswana. (Foto: Verskaf)

’n Vrou van Botswana en haar ma (66) het verkies om in hul motor in die parkeerterrein van ’n kwarantynfasiliteit naby die grens tussen Botswana en Suid-Afrika te slaap, eerder as om onder haglike omstandighede in kwarantyn gedwing te word. Dít nadat Botswana op die nippertjie regulasies ingestel het om die verspreiding van Covid-19 oor die land se grense te voorkom.

“Van die krane was droog, die kamers was vuil, die matrasse het sleg geruik en die gordyne was geskeur.” Daar was ook net ’n paar toilette met water vir ons almal,” vertel die vrou (40) Donderdag anoniem aan Maroela Media.

Sy en haar ma was deel van ’n groep van sowat 90 mense wat vandeesweek in verpligte kwarantyn geplaas is toe hulle die grens naby Lobatse vanaf Suid-Afrika na Botswana wou oorsteek. Die groep was onbewus van maatreëls wat dieselfde oggend nog ingestel is en bepaal dat enigiemand wat die land se grense oorsteek, onmiddellik vir 14 dae in kwarantyn moet bly.

Die vrou en haar ma is egter sowat 24 uur later weens haar ma se hoë ouderdom vrygelaat. “Ek was nog nooit so bly oor haar ouderdom nie,” vertel sy nou.

Sy verduidelik dat dié twee vroue haar suster se kinders Dinsdag teruggeneem het Suid-Afrika toe voordat die algehele landwye afsondering in dié land ingestel word. Die vroue het die kinders by hul ouers afgelaai, waarna hulle dieselfde dag nog teruggedraai het huis toe.

By die grens gekom, is hulle ingelig oor die nuwe kwarantynreël vir reisigers. “Ek was verskriklik kwaad. Daar was geen kennisgewing nie en niemand kon enige reëlings tref nie.”

Hoewel sy haar man in Botswana kon bel, was daar niks aan die saak te doen nie en die vroue moes sowat drie uur lank op die grens wag voor hulle en talle ander na ’n fasiliteit in Lobatse geneem is.

‘n Kwarantynfasiliteit in Lobatse, Botswana. (Foto: Verskaf)

Dié fasiliteit wat soos ’n koshuis ingerig is, het van buite af nie té sleg gelyk nie. Met die intrapslag het die vrou egter besef dat dit nié ingerig is vir ’n groep mense in kwarantyn nie. “Dit het gelyk asof hulle so vinnig moontlik ’n plek moes kry om mense in kwarantyn te hou. Hulle was nie voorbereid nie.”

Om sake te vererger het die groep mense daardie aand geen kos gekry nie, ten spyte daarvan dat  sommige reeds sowat ses uur lank op die grens moes wag voordat hulle daarheen geneem is. “Niemand het geweet wát aangaan nie.”

Sy vertel dat sy gelukkig nie ver van dié fasiliteit woon nie en haar man kon vir haar en haar ma kos bring. Haar man het, nes verskeie ander mense, kos soos gekookte eiers en jogurt vir die groep mense geneem. Die beamptes het ook nie die volgende oggend vir die groep kos voorsien nie en ontbyt en middagete is later saam bedien.

Daar is Woensdagmiddag besluit dat diegene met kinders, asook diegene ouer as 65 jaar en hul reisgenoot vrygelaat kan word nadat hulle vir Covid-19 getoets is. Al die ander mense moes egter aanbly. “Ek was só bitter hartseer om daardie mense agter te laat. Dit was vir my só erg.”

‘n Masker lê by ‘n kwarantynfasiliteit in Lobatse, Botswana. (Foto: Verskaf)

Sy vertel dat sy intussen gehoor het dat dié mense darem Woensdagaand kos ontvang het en deur die loop van vandag (Donderdag) na ander fasiliteite soos gastehuise of hotelle geskuif sal word.

“Mense moet weet daar is ’n moontlikheid dat jy na só ’n fasiliteit geneem kan word. Hulle moes mense daarop voorberei het voordat hulle die reëling ingestel het en mense na ’n plek stuur wat nié ingerig is nie.

“Dit was nie lekker nie, maar miskien is dit goed dat dit met ons wat gesond is, gebeur het voordat hulle siek mense na daardie omstandighede begin stuur.”

Sy vertel dat sy en haar ma in dié stadium geen simptome van Covid-19 toon nie. Albei wag vir hul toetsuitslae.

Wil jy op hoogte bly van alle nuus oor Covid-19 op Maroela Media? Klik hier om in te teken op ʼn daaglikse nuusbrief.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

9 Kommentare

jongste oudste gewildste
Frederik

Nogal eienaardig, nadat almal dit kwyt geraak het dat die owerhede gereed is vir die corona virus..

Genis

Dis skandelik om die minste te se.. miskien moet hulle vir poging to moord aangekla word… Gereed vir niks..

De Villiers

Lekker hier in Afrika!

Strandloper

Mmmmm dit is maar die Africa way….

Anel

Hulle is nie eers voorbereid op ‘n stofstorm nie, wat nog te sê ‘n ou virussie!! Ruk die see heeltemal onder die eendjie uit!