Reisverbod vir Gasa-Christene na heilige stede wyd veroordeel

Besoekers stap in ‘n straatjie in Bethlehem. (Argieffoto: Dusan Vranic/AP)

Suid-Afrikaanse kerke het Israel se besluit wat Christene in die Gasa-strook verbied om na Jerusalem, Nasaret en Bethlehem te reis om Kersfees te vier, ten sterkste veroordeel.

Reuters het verlede week berig Christene van die Gasa-strook sal permitte toegestaan word om oorsee te reis, maar niemand van hulle sal toegelaat word om Israel en die Wesoewer te besoek nie. Dit is die tuiste van talle heilige plekke vir Christene.

Israel beperk beweging deur die Gasa-strook, ʼn gebied wat deur Hamas, ʼn Islamitiese groep wat Israel as ʼn terreurorganisasie beskou, beheer word.

ʼn Woordvoerder van Israel se weermag het aan Reuters gesê weens “veiligheidsbevele” sal Gasa-inwoners oorsee kan reis via Israel se Allenby Bridge-grenspos met Jordanië, maar hulle sal nie toegelaat word om stede in Israel of die Wesoewer te besoek nie.

Gasa het sowat 1 000 Christene – die meeste van hulle Grieks-Ortodoks – in ʼn bevolking van nagenoeg 2 miljoen mense wat op dié smal kusstrook woon.

Vanjaar se besluit is anders as vorige jare se beleid. Verlede jaar het Israel permitte aan nagenoeg 700 Gasa-Christene toegestaan om na Jerusalem, Bethlehem, Nasaret en ander heilige stede vir die vakansie te reis.

“Ons veroordeel Israel se verbod op Gasa-Christene om hul geloof vrylik te beoefen deur na die heilige plekke van ons geloof te reis. Geloofsvryheid is ʼn basiese mensereg en dit is ondenkbaar dat ʼn sogenaamde demokrasie in die 21ste eeu selfs net op dié manier dink,” het eerw. Moss Nthla, sekretaris-generaal van die Evangeliese Alliansie van Suid-Afrika (TEASA), gesê.

Die organisasie verteenwoordig nagenoeg 4 miljoen Suid-Afrikaanse Christene wat as wedergebore of evangelies identifiseer.

Hanan Ashrawi, verbonde aan die Palestynse Bevrydingsleër, stem saam met Ntlha en sê terwyl Israel práát oor respek vir vryheid van geloof, tree hy nie so op nie. “Palestyne word eintlik gevange gehou en Israel verwoes deurlopend enigiets wat vir hulle van waarde is. In dié geval is dit geloof,” het Ashrawi gesê.

Hamas-woordvoerder Basem Naim het uit Gasa gesê dié organisasie veroordeel ook die besluit, terwyl sommige Israelse groepe dieselfde gedoen het.

Rifat Kassis, sameroeper van Kairos Palestina – ʼn sambreelorganisasie wat Palestynse Christene van verskeie denominasies verteenwoordig en hom beywer vir die beëindiging van Israel se besetting – het gesê dit is verregaande dat Christene wat ʼn paar kilometer van Jerusalem woon nie die stad kan besoek nie, terwyl buitelanders sonder enige probleme daarheen mag reis.

Bykomende bron: Afro-Palestine Newswire Service

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

12 Kommentare

jongste oudste gewildste
HPV

Israel beskerm net sy eie burgers, anders as die Suid Afrikaanse regering. Hoe bewys mens by grensposte dat jy ‘n Christen is?

Adriaan

Soos ek die berig verstaan, geld die reis verbod om Israel te besoek vir alle inwoners van die Gasa strook en nie net vir Christene nie. Die opskrif en 1ste 2 paragrawe is goedkoop sensasiesoekery. Israel is besorg oor sy inwoners se veiligheid, anders as die SA regering.

John

… mmm… dit is sekerlik nie Griekse burgers. Sommige Palestyne/kerklikes besoek ook
Katolieke kerke in die grensgebied en kry baie hulp vanaf die pousdom, maar erken nie die Jode se reg op ‘n eie gebied nie. Die situasie in die Midde-Ooste is tans plofbaar met Iran se betrokkenheid in Siriè en die gereelde vuurpyle en die krisis in Libanon.

Sobymykoolkop

Die Israel haters is oral besig om Israel af te kraak en verdag te maak. Die media doen lustig mee soos hulle meesters opdrag gee. Niks anders as die anc kommuniste nie

Arak

Al julle kommentators wat so simpatiek is vir die jode in Israel; kan die jood sonder Jesus in die hemel kom? Is daar vir hom ‘n spesiale roete? Hy is net so ongered soos die moslem, maar te danke aan die valse leer in ons kerke wil ons nie meer onderskei tussen reg en verkeerd as dit by die volk kom nie. Wat Israel doen is verkeerd, en ja, mens kan dit regverdig tot jy blou is in jou gesig, verander nie die feit dat hulle basies die Palestyne se grond onteien het sonder om hulle te vergoed nie. Moet… Lees meer »