Reivilo-plaasaanval: Verdagte borgtog geweier

Schalk en Lana Coetzee (Foto: Facebook)

Die verdagte in die onlangse plaasaanval op Schalk en Lana Coetzee van Reivilo in Noordwes, is vandeesweek borgtog geweier.

Hennie Kruger, gemeenskapsveiligheidskoördineerder in die groter Taung-omgewing, het aan Maroela Media bevestig dat Thembile Cornelius Plaatjie (38) Woensdag op aanklagte van poging tot moord, huisroof en motordiefstal in die Taung-landdroshof verskyn het. Sy aansoek om borgtog is van die hand gewys.

Dít nadat gemeenskapslede en ander belanghebbendes ʼn versoekskrif met meer as 6 000 handtekeninge by die hof ingedien het teen Plaatjie se vrylating.

Maroela Media het vroeër berig Schalk en Lana is in Junie deur drie aanvallers op hul plaas buite Reivilo oorval en erg aangerand. Schalk is gedurende die voorval met kookwater gebrand en Lana in die gesig geslaan.

Volgens Kruger is Plaatjie boonop voorheen skuldig bevind aan misdrywe waaronder verkragting. Daar is ook ʼn hangende saak teen hom.

Piet Coetzee, Schalk se broer, het Donderdagoggend gesê die familie is “verskriklik” dankbaar dat Plaatjie borgtog geweier is.

Volgens Piet het Schalk en Lana reeds vier aande op die plaas deurgebring ná die aanval. Hulle is egter weer terug by familie weens komende doktersafsprake. Die egpaar wag ook vir hul motor om herstel te word voordat hulle na verwagting volgende week weer sal terugkeer plaas toe.

“Dit het goed gegaan,” het Piet geantwoord op ʼn vraag oor hoe dit met die egpaar se eerste terugkeer plaas toe gegaan het.

Die drie verdagtes het ná die aanval met die egpaar se voertuig, ’n Nissan X-Trail, op die vlug geslaan. Dié voertuig enkele ure later in Schweizer-Reneke, sowat 155 km van Reivilo, opgemerk. Plaatjies is kort daarna in hegtenis geneem terwyl sy makkers op die vlug geslaan het.

Dié is steeds soek.

Schalk en Lana is ná die voorval in ʼn hospitaal opgeneem waar albei operasies ondergaan het.

Volgens Piet het Schalk nog baie pyn ná die aanval en word hy gereeld moeg. Lana sukkel op haar beurt met haar sig en gehoor weens beserings aan haar oë en ʼn gebarste oordrom. “Maar hulle is albei regtig op die herstelpad,” het hy gesê.

Plaatjie sal weer in Augustus in die hof verskyn. Hy bly tot dan in aanhouding.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

Magda ·

So moet alle borgtog geweier word op moorde en verkragtings – GEEN BORG VIR DIE MISDADIGERS NIE.

marisa ·

Lewer kommentaar…Gooi die sleutel weg dit is verseker ‘n gewoonte misdadiger!

Scalla ·

As hy borg kry gaan hy dit weer doen, al borg wat hy vedien is om uitgelewer te word aan die familie wat aangeval is, hul sal sy ore oopmaak!!!

Yolandie ·

Ek dink om in die tronk te wees is nie eers meer ‘n straf vir die uitvaagsels nie. Elke plaasmoordernaar verdien die doodstraf….elke een wat ‘n ander se lewe neem, kinders en vroue verkrag moet uit ons samelewing verwyder word. Kom ons wees eerlik wetsgehoorsame burgers van hierdie land verdien om veilig te voel.

Suzette ·

Ek stem saam Yolandie. Tronkstraf is nie voldoende nie – dit is ‘n gratis bed en kos.
Ek wonder ook hoekom is Plaatjie in eerste plek op vrye voet gewees aangesien hy dan vantevore reeds skuldig bevind is aan wandade. Waar is die ander twee? Word daar enigsins ‘n poging aangewend om hulle op te spoor – of word dit ook gesien as nie ernstig genoeg nie – die tronke is mos nou so vol en word die gevangenis vrygelaat om te probeer voorkom dat hulle Covid19 kry .

Juls ·

Ek sidder elke keer as ek van die voorval lees. KOOKWATER!! Wreedaard!!

Louwrens ·

Dis opmerklik dat DIE MRK nie die egpaar besoek het nie en ook nie regering lede nie rerwyl inander gevalle hulle gou besoek afgelê het.

Mieke ·

Ek sou in elk geval nie deur daardie klomp tweegesigte besoek word nie!!

marius ·

Sal hy toestem dat iemand hom met kookwater gooi en aanrand in dieselfde graad ? Dan is alles gelyk , want die howe kan die balans nie herstel nie .

JohanR ·

Die twee in my ouers se aanval het ook borg gekry, en terwyl hulle uit was het hulle ‘n ander plaas aangeval, die boer vermoor en sy vrou verkrag…wat in hulle 70’s was. Enige borgtog ooit vir plaasaanvallers….aikona!

petro ·

Nog ‘n plaasaanval. Die president se dat daar ook aandag geskenk moet word aan plaasaanvalle. Genugtig!! Daar moes al lankal aan hierdie satanistiese aanvalle aandag geskenk geword het!!!!

Mieke ·

Ons moet mekaar se hande vat en na God uitroep. Groter eenheid is nodig – ons het al te lank teen mekaar gewerk en dit het nog geen resultate opgelewer nie!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.