Rekenmeester bedrieg meule glo uit miljoene

(Foto: Maroela Media/ Jhua-Nine Wyrley-Birch)

Die voormalige rekenmeester van ’n meule op Delareyville in Noordwes word van 337 aanklagte van bedrog en 20 aanklagte van geldwassery aangekla nadat hy die meule oor ʼn tydperk van vyf jaar na bewering uit meer as R10 miljoen bedrieg het.

Jan Jacobus van Niekerk (38) word daarvan beskuldig dat hy in sy hoedanigheid as rekenmeester by Botselo Mills (Edms.) Bpk. tussen Januarie 2017 en Julie 2022 bedrieglike vorms vir betaling aan diensverskaffers goedgekeur en ingedien het.

Van Niekerk het na bewering die name van werklike diensverskaffers op die meule se databasis op die vorms ingevul, maar hul bankrekeningnommers met dié van sy eie vervang.

Geen dienste is uiteraard vir die betalings gelewer nie, sê Henry Mamothame, woordvoerder van die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG).

Van Niekerk het glo gedurende die betrokke tydperk ses persoonlike bankrekeninge by twee groot banke gehad waarin die geld inbetaal is.

Mamothame sê ’n ondersoek het onthul dat Van Niekerk na bewering ’n werksverhouding gehad het met sommige van die diensverskaffers wie se name hy destyds op die vorms ingevul het.

Van Niekerk het hom Dinsdag aan die owerhede oorgegee en Woensdag in die landdroshof op die dorp verskyn. Hy is borgtog van R12 000 toegestaan en die saak is na die gespesialiseerde handelshof oorgeplaas.

Van Niekerk sal na verwagting in Julie in dié hof verskyn.

Mamothame sê alle ondersoeke na die bewerings is afgehandel en die staat is gereed om voort te gaan met ’n voorverhoor wanneer Van Niekerk volgende maand in die handelshof verskyn.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

Pieter ·

Hoe kom hulle weg met al die ander dinge wat hulle al voor dit gedoen het? Die dinge gebeur nie oornag nie. Om skelm te wees vat ook practice. Hoe beter jy is, hoe minder word jy gevang.

Pieter ·

Daar is Baie van hierdie Auditors en CA’s en klein firmas wat absoluut net daarop uit is om skelm te wees. Die simptome van die dae. Ek het altyd gedink Proks is skelm, shoe, die ouens is next level. Die Saica proses om nuwe kinders op te lei is ook net so VROT. Hulle moet letterlik hulle siele verkoop aan die firmas om af geteken te word. 5 jaar word sommer 10. En waag dit om oortyd te weier of om deeltyds te studeer… Dis net Werk en doen soos daar gese word, of dit nou reg is of nie. Anders word jou tyd langer, tot jy of saam werk, of bedank. Dis nie ‘n eerlike of billik nie.

ES ·

Nog ‘n rekenmeester wat homself skuldig maak daaraan. Ek kan nie verstaan hoe gooi jy jou hele lewe weg vir geld nie. Integriteit en ‘n goeie naam vat ‘n leeftyd om op te bou en sekondes om te verwoes.

Nee man, wees beter.

Niklaas ·

Nee , dit was nou nie slim nie , want daardie misdrywe word altyd ontdek. Wat sal die toekoms nou inhou vir die man ? En dis groot geld , so die straf sal moontlik nie gering wees nie.

Jaco ·

Ek weet ons wit mense word bedreig deur regstellende aksie en BEE, maar regtig, dié man is absurd. Ons eie mense….

Chris ·

Hy het by die kundige ANC kaders geleer. As hul daarmee kan wegkom, hoekom nie hy nie?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.