Rekenmeester gevonnis oor miljoene se bedrog by Piketberg

(Argieffoto: Ian Landsberg/ANA)

ʼn 33-jarige rekenmeester, wat sowat R4,1 miljoen verduister het toe hy as uitgawe-rekenmeester by die Bergrivier-munisipaliteit in Piketberg in die Wes-Kaap gewerk het, is tot agt jaar tronkstraf gevonnis. Die hof het dit as “ʼn ernstige vertrouensbreuk” beskryf.

Nicholas Clayton Cloete Scholtz is in die Bellville-handelsmisdaadhof gevonnis ná hy skuld beken het op 10 aanklagte van bedrog en een aanklag van geldwassery, het Zinzi Hani, woordvoerder van die direktoraat vir prioriteitsmisdaadondersoeke (die Valke), gesê.

Scholtz is tot 12 jaar tronkstraf gevonnis op aanklag van bedrog waarvan vier jaar opgeskort is op voorwaarde dat hy nie tydens dié periode skuldig bevind sal word aan bedrog of diefstal nie. Hy is tot vyf jaar tronkstraf gevonnis op aanklag van geldwassery. Die vonnisse sal gelyklopend uitgedien word.

“Scholtz het tussen Mei en Julie 2019 meer as R4,1 miljoen gesteel by die Bergrivier-munisipaliteit waar hy as ʼn rekenmeester gewerk het,” het Hani gesê. “Die hof het gehoor hy het toegang gehad tot die bankrekening van die munisipaliteit. Altesaam R4,1 miljoen is toe van die munisipale rekening oorbetaal na rekeninge wat aan Scholtz en ʼn vriend van hom behoort. Scholtz het bedrieglike begunstigdes geskep om te verbloem dat die geld na sy persoonlike rekening oorbetaal word.”

Hy het 10 transaksies oor drie maande uitgevoer en die geld vir persoonlike gebruik gesteel. Van die transaksies waar die geld na Scholtz se vriend oorbetaal is, het die vriend die grootste deel na Scholtz terugbetaal.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

4 Kommentare

jongste oudste gewildste
Tipper

Rekenmeester.

Hennie J

Binne 3 maande so aardige bedraggie laat voete kry. Baie knap van die munisipaliteit om hom so vinnig aan te keer.Indien nie reeds nie, maar as dit by ons mislikepaliteit gebeur sal dit ligjare duur om die verlies agter te kom. Al wanneer hulle bekommerd raak oor geld is wanneer daar nie genoeg is om our people te betaal nie.

Anel

Nou wanneer kom die regering en sy kaders aan die beurt?

Nie Verbaas

Baie gou gevang en dit is goed. Net snaaks dat daar feitlik nie een munisipaliteit is waar daar nie een of ander vorm van korrupsie en wanbesteding plaasvind nie. Die dames en here loop nog vry.