Rekenmeester tronk toe vir beleggingsbedrog

(Argieffoto)

’n Rekenmeester is ná ’n moeisame ondersoek tot 12 jaar tronkstraf gevonnis nadat hy beleggers se geld wanaangewend het. Sommige van dié beleggers was bejaard en is intussen hul pensioen kwyt.

Petrus Serdyn Louw (67) is skuldig bevind aan 49 aanklagte van bedrog, vervalsing en geldwassery. Hy is in die Bellville-handelshof tot 15 jaar tronkstraf gevonnis waarvan drie jaar vir vyf jaar opgeskort is, op voorwaarde dat hy nie skuldig bevind word aan bedrog, diefstal of ʼn poging om enige van dié oortredings te pleeg tydens die opgeskorte tydperk nie.

Louw is ’n verdere twee jaar tronkstraf opgelê vir vervalsing en drie jaar vir geldwassery. Die hof het egter gelas dat dié vonnisse gelyklopend met die vonnis van 12 jaar uitgedien word.

Louw is ook ongeskik verklaar om ’n vuurwapen te besit.

Eric Ntabazalila, woordvoerder van die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) in die Wes-Kaap, sê Louw was voorheen die direkteur van ’n ouditeursfirma in Porterville waar hy as rekenmeester en finansiële adviseur gewerk het. Louw het opgetree as finansiële adviseur vir verskeie beleggers en entiteite. Dit is in dié hoedanigheid dat Louw hulle aangeraai het om hul geld in spesifieke maatskappye en eiendomsontwikkelings te belê.

Louw het verskillende bankbesonderhede aan hulle deurgestuur waarin hul beleggingsgeld inbetaal moes word. Die beleggers en entiteite het R60,6 miljoen oorbetaal wat in ’n trust gehou sou word. Dié geld sou, volgens Louw, tot voordeel van die beleggers in grootmaat belê word om groter opbrengste te genereer.

Ntabazalila sê Louw het egter nog ’n bankrekening vervals en sy kliënte se beleggings na dié bankrekening oorgedra, eerder as om dit te belê. Hy het ook bankstate vervals en dié aan sy kliënte deurgestuur, sodat dit lyk of hul geld veilig deur sy onderneming bewaar word.

Louw het egter in ’n pleitooreenkoms aan die hof gesê dat hy die meerderheid van die geld gebruik het om ʼn ander maatskappy te red. Dié maatskappy was besig met onderhandelinge met die Angolese regering vir ’n belowende kontrak maar het gesukkel om sy maandelikse bedryfskoste te dek.

Adv. Jannie Knipe, wat namens die staat in die saak opgetree het, het gesê die misdrywe is ernstig en het ʼn ernstige uitwerking op die ekonomie en die slagoffers van die misdade gehad.

“Louw het sy vertrouensposisie met die klaers misbruik. Sommige van die klaers was bejaard en het as gevolg van die oortredings hul hele lewe en pensioenbesparing verloor.”

Knipe sê dit was ’n uitgebreide en moeisame ondersoek om Louw se misdrywe te bewys.

Die NVG het die vonnis verwelkom.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Ansie ·

Hoop die geld (of ten minste ‘n deel daarvan) kan van die lae blikskottel verhaal word.

Willem ·

12 jaar vir bedrog maar ń man wat dubbelle moord gepleeg het kry net 25jaar

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.