Rekordbedrag vir Pierneef-skildery betaal

JH Pierneef se “Farm Jonkershoek with Twin Peaks Beyond, Stellenbosch” Foto: Strauss & Co

ʼn Rekordbedrag is vandeesweek betaal vir ʼn JH Pierneef-skildery tydens ʼn veiling deur Strauss & Co.

Die skildery, “Farm Jonkershoek with Twin Peaks Beyond, Stellenbosch” wat nog nie vantevore te sien was nie, is vir R20 462 400 verkoop, het Bina Genovese, een van die besturende direkteure van die afslaers, gesê. Die verwagting was dat die skildery vir tussen R6 miljoen en R8 miljoen verkoop sou word.

Die skildery is by ʼn veiling in Wanderers, Johannesburg, verkoop. Dit is die tweede grootste bedrag wat nog ooit vir ʼn skildery in Suid-Afrika op ʼn veiling betaal is.

Die afslaers het die aand ook sy eie rekord van R73 miljoen in verkope verbeter, wat hulle in Maart vanjaar tydens ʼn veiling in Kaapstad behaal het. Strauss & Co het Dinsdagaand altesaam R89 miljoen ontvang.

“Dit is ongetwyfeld bewys dat Suid-Afrika die mees geskikte plek is om plaaslike kunswerke van hoë gehalte te verkoop, of dit nou geskiedkundige of moderne meesterstukke is,” het Frank Kilbourn, voorsitter van die afslaers, gesê. “Dit bewys Strauss & Co se posisie as wêreldleier van Suid-Afrikaanse kuns.”

ʼn Werk van Pierneef, “Hardekoolboom, Transvaal (Nilant 74)”, is vroeër die aand vir R193 256 verkoop – ver meer as die verwagte R25 000 – R30 000. “Bome (Nilant 75” is daarna vir R120 000 verkoop, ook ver meer as die verwagte R12 000 – R18 000.

Verdere werke van Pierneef is ook verkoop, waaronder “Extensive Landscape, Northern Drakensburg” vir R3 410 400 en “Storm over the Lowveld” vir R1 250 480.

Alexis Preller se “Still Life with Thangka and Pomegranates” is vir R7 502 880 verkoop en Irma Stern se “Malay Woman” het R5 456 640 behaal.

Volgens Genovese het belangstelling in Stern se werke nog glad nie afgeneem nie. Oorspronklike manuskripte vir Kongo en Zanzibar, wat haar sketse, foto’s en handgeskrewe en getikte korrespondensie bevat, is vir R227 360 verkoop. Die verwagting was tussen R30 000 en R50 000.

Vier van William Kentridge se werke was onder die top tien vir die aand se verkope. Sy “Dancing Couple” is vir R4 902 480 verkoop (verwagting was R2 miljoen) en sy “Untitled Drawing Towards Responsible Hedonism” is vir R3 978 800 verkoop.

“Dit was ʼn eer en ʼn voorreg om deel te wees van ʼn veiling waar werke van buitengewone gehalte en geskiedkundige belang aangebied is,” het Genovese bygevoeg. “Die verkope is ʼn nuwe mylpaal vir Suid-Afrikaanse kunsveilings.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Ouvrou ·

Eks bly om te sien almal beleef nie ‘n resessie nie,en is al halfpad bankrot nie.

Uvonka ·

Ek kry nie my gevriesde brein om die bedrag van R20 462 400, haak vas by eleventy seventy!!!

John ·

Ons Suid-Afrikaners kan maar skilder… talent is steeds vollop. Doen!

Sonja ·

ek was in Pierneef Laerskool in Pretoria in d 70tigs, daar was van sy skilderye in d voorportaal, moes eintlik so 1 of 2 geneem het en vandag verkooop het!LOL

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.