Rekorddaling van olieprys voordelig vir SA

(Foto: pixabay)

Die prys van olie het Maandag tot minder as nul dollar per vat gedaal – ʼn negatiewe olieprys. Dit is bestempel as ʼn ongekende gebeurtenis wat nog nie eens naastenby in die verlede gebeur het nie.

Die prys van ruolie was Maandag in ʼn stadium sowat $15 per vat, maar het deur die loop van die dag tot -$40 gedaal.

Russell Lamberti, strateeg by ETM Macro Advisors en skrywer van When money destroys nations, sê in wese beteken dit olieprodusente het geen afsetgebied vir hul produk gehad nie.

“Weens die ineenstorting in aanvraag as gevolg van afsondering, word oortollige olie in bergingsfasiliteite gestoor. Talle kopers het nou nie meer plek om die olie op te gaar nie en die olieprodusente ook nie,” het Lamberti verduidelik.

“Hulle is dus bereid om iemand anders te betaal net om die olie oor te neem. Die sogenaamde koper – wat nou betaal word – het die vergoeding nodig vir die gevaar wat hy loop en die koste wat hy moet aangaan om bykomende stoorplek te probeer aanskaf.”

Miljoene mense wêreldwyd word weens die Covid-19-pandemie tot hul huise beperk en reis die absolute minimum. Die lugvaartbedryf het weens ʼn bykans algehele verbod op vlieg bykans tot stilstand gekom en aansienlik minder vliegtuigbrandstof word dus ook gebruik. Dié brandstof moet ook êrens gestoor word.

(Argieffoto: Activ-Michoko, Pixabay)

“Olieproduserende lande is in die moeilikheid en gaan druk op hul geldeenhede en begrotings voel. Lande soos Suid-Afrika, wat olie gebruik, trek groot voordeel – behalwe dat Suid-Afrika hoë brandstofbelasting betaal en staatgereguleerde prysvasstelling het wat ware mededinging verhoed,” sê Lamberti.

Lamberti sê die laer olieprys behoort ná die afsonderingstydperk ʼn welkome verlaging in brandstofpryse te beteken. “Verbruikers gaan egter nie volle voordele van dié vreemde situasie ervaar nie. Eerstens omdat dit onwaarskynlik is dat dit baie lank gaan wees voor olieprodusente hul oliebore sluit en ophou produseer. Dit gaan die aanbod- en bergingsprobleme verminder en pryse laat styg.

“Tweedens gaan bergingskoste die hoogte inskiet en ander koste, marges en belasting deur die waardeketting bly van krag.

“Derdens gaan daar ná die afsonderingstydperk ʼn groot vraag na brandstof wees, wat pryse weer gaan laat styg. Laastens beteken ʼn swak rand die prys van ingevoerde brandstof sou nie teen soveel as die dollarprys gedaal het nie.”

Die rand het Dinsdag teen amper R19 teen die dollar verhandel.

russell-lamberti

Russell Lamberti. (Foto: Reint Dykema)

Lamberti sê goedkoper brandstof hou beslis ʼn voordeel vir die ekonomie in en gaan verbruikers, logistieke ondernemings en selfs Eskom, wat heelwat diesel benodig, ʼn welkome blaaskans gee.

“Dit gaan welkome hulp wees wanneer ons uit die afsonderingstydperk kom. Dit is jammer dat Suid-Afrika nie die volle voordele van sulke goedkoop olie kry nie.”

Die olieprys het sedert die begin van die jaar stadigaan gedaal. Lamberti sê die wêreldwye ekonomie het voor die Covid-19-pandemie al begin verswak en dit lyk of olieprodusente al hoe meer voorraad beskikbaar gestel het in ʼn poging om mekaar te uitpresteer.

“Die afsonderingstydperke het aanvraag heeltemal in duie laat stort, terwyl aanbod bykans op rekordvlakke is.”

Hy sê die insinking in die olieprys is ʼn teken van die ekonomiese skade wat die afsonderingsperiodes aanrig. Hoewel goedkoper olie die land gaan help om daarna weer op sy voete te probeer kom, is dit slegte nuus oor wat dit van die huidige stand van die ekonomie sê.

Bykomende bron: AP

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Naas ·

Dit is nie Brent ru wat onder 0 dollar gedaal het nie maar WTI (West Texas International)

Megan Swart ·

Dagsê Naas
Dit is inderdaad só. Die artikel is gewysig.
Dankie. Groetnis!
Megan
nms Maroela Media

Piet parys ·

Die ekonomie gaan baie lank vat om op dreef te kom so die olie gaan nie baie vinnig veel styg nie . Hierdie is nie n normale insinking van die ekonomie nie . Mense verloor hulle werk en ander se salarisse word gehalveer . Sal die mense nog geld oorhè om rond te ry . . Nee wat dink weer.

Chris ·

Die olie produserende lande, VSA inkluis gaan nou agterkom dat hul olie nie meer die swart goud is nie. Hoe lank is die wêreld deur olieproduserende land geboelie met oliepryse en verhogings. Hulle gaan agtekom dat hulle nie olie kan eet of drink nie. Die wiel draai, stadig maar seker.

Cherokee ·

Daardie wiel hou nie op met draai nie, Chris. Ons het dit ook ervaar toe ons van heel bo tot net bo teer oppervlak herposisioneer het.

Oros Soros ·

Tina Joemat-Pietersen moet die geleentheid gebruik om die brandstof van die Sentrale Energie Fonds wat onder haar voete gekry het, aan te vul.

Boortor ·

Ons gaan geen voordeel hier uit kry nie. Die regering gaan net doodeenvoudig die heffings opsit. Onthou hulle is bankrot.

Rodger17 ·

Jy praat waar dis waarmee hulle ons gaam beroof,die heffings

Rodger17 ·

Hierdie regering sal weer verbruikers uitbuit sodat prysverlagings minder is wat dit eintlik moet wees want hulle weet net hoe om skelm te wees

Willem ·

Vergeet dadelik dat ons voordeel sal trek daaruit net die ANCZ sal hul sakke volmaak .

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.