Rekordgetal inskrywings vir Mej. SA 2019

Huidige Mej. SA, Tamaryn Green (Foto: Verskaf)

Die inskrywings vir vanjaar se Mej. Suid-Afrika-kompetisie het só ʼn goeie reaksie gelok dat die aantal inskrywings meer as verdubbel het vergeleke met 2018 se kompetisie.

Dit kom nadat Cell C, wat sedert 2014 saam met Sun International as hoofborg van die Mej. SA-kompetisie gedien het, sy borgskap van die kompetisie in Maart vanjaar beëindig het. Weil Entertainment sal vanjaar in samewerking met Sun International dié kompetisie aanbied.

Die inskrywings vir Mej. SA 2019 het op 13 Mei geopen en Maandag gesluit. Die Mej. SA-Instagram-blad het Maandag aangekondig dat 1 850 inskrywings ontvang is van vroue wat om dié gesogte titel wil meeding.

“Ons is oorweldig deur die groot getal [inskrywings]. Dit het ons verwagtinge oortref en ons kan nie blyer wees nie,” het Stephanie Weil van die Mej. Suid-Afrika Organisasie aan Maroela Media gesê.

Volgens Weil het die kompetisie verlede jaar slegs 451 inskrywings ontvang.

Sy het gesê die groter getal inskrywings kan moontlik toegeskryf word aan die inskrywingsproses wat vanjaar digitaal geskied het.

“Vanjaar wou ons ʼn groter reikwydte gehad het om vir meer jong vroue van enige streek in die land die geleentheid te gee om deel te neem,” het sy gesê.

Demi-Leigh Nel-Peters (Foto: Facebook via Miss Universe)

“Ons dink ook die rekordgetal inskrywings is as gevolg daarvan dat Mej. SA so goed in die afgelope paar jaar gevaar het. Die huidige Mej. SA, Tamaryn Green, was eerste prinses in die Mej. Heelal-kompetisie en die Mej. Suid-Afrika Organisasie het ook reeds ʼn Mej. Wêreld (Rolene Strauss) en ʼn Mej. Heelal (Demi-Leigh Nel-Peters) in die bestek van drie jaar opgelewer.”

Weil Entertainment het vroeër vanjaar aangekondig dat vroue tussen die ouderdomme van 20 en 27 hul inskrywingsfoto’s en inligting op die kompetisie se webwerf kon laai, eerder as om na oudisies te ry.

“Om heen en weer te reis na oudisies is nie altyd vir alle potensiële deelnemers moontlik nie en daarom het ons besluit om die proses eerder te vergemaklik deur dit aanlyn beskikbaar te maak. Op dié manier kon ʼn groter verskeidenheid en aantal deelnemers ons bereik,” het Weil gesê.

Weil het gesê die inskrywings is nie tans aan die publiek beskikbaar nie, maar die top-16 sal wel op 11 Julie bekendgemaak word.

“Ons onafhanklike beoordelaarspaneel sal nou na die inskrywings kyk en die 16 finaliste daaruit kies. Daarna sal die top-16 ʼn reeks opleidingsessies en werksessies bywoon om hulle gereed te kry vir die kompetisie wat op 9 Augustus plaasvind,” het Weil gesê.

Die 2019 Mej. SA word op Vrouedag, 9 Augustus, in die Sun Arena by Times Square in Menlyn, Pretoria, gekroon. Dié geleentheid sal regstreeks op M-Net en Mzansi Magic uitgesaai word.

Die prysgeld en borgskappe vir die kompetisie beloop sowat R3 miljoen. Die wenner sal wegstap met ʼn kontantprys van R1 miljoen, ʼn motor en ander pryse. Die eerste prinses sal ʼn kontantprys van R250 000 ontvang en die res van die top-16 finaliste sal elkeen R25 000 ontvang.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

DA BO ·

Ag Andreas, jy kan gerus ook gaan werk soek. Jou sarkasme is soms net te erg. Of is dit omdat jy nie kan inskryf nie??

Kobus ·

Andreas en Cherokee voëls van eenderse vere..nikssegende gebrabbel net om hul name te sien tussen kommentators wat sinvolle debat voer

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.