Rekordgetal SA’ners doen aansoek om tweede EU-paspoort

Argieffoto (initiateimmigration.com)

Suid-Afrika se onstuimige vooruitsigte dryf ʼn rekordgetal van die land se burgers om aansoek te doen om ʼn tweede Europese Unie-paspoort deur middel van ʼn belegging.

Ciprus, Griekeland, Malta en Portugal het ʼn styging in aansoeke ontvang, het die immigrasiefirma Xpatweb Maandag gesê.

Daar is sedert 2018 ʼn toename van 364% in belangstelling onder Suid-Afrikaners vir ʼn tweede paspoort, namate die behoefte aan ʼn sogenaamde “plan B” toeneem, het Marisa Jacobs, direkteur van Xpatweb, gesê.

“Met die hangende belastingveranderings in Suid-Afrika wat vanaf 1 Maart 2020 afgedwing sal word, is die tweede paspoortskema van die EU ʼn aantreklike en aanloklike voorstel vir Suid-Afrikaners,” het sy gesê.

Ingevolge die huidige belastingwetgewing, wat van toepassing is tot 28 Februarie 2020, is Suid-Afrikaanse belastingbetalers wat in die buiteland werk geregtig op ʼn belastingvrystelling van inkomste wat in die buiteland verdien word, mits hulle tydens enige 12 maande lange tydperk fisiek vir minstens 183 dae buite Suid-Afrika was, waarvan 60 dae aaneenlopend moet wees.

Vanaf Maart volgende jaar sal die eerste R1 miljoen wat oorsee verdien word van belasting vrygestel word.

“Met ʼn Europese paspoort is die vooruitsig om in enige land wat deel uitmaak van die Europese Unie te woon, baie aantreklik. Suid-Afrikaners kyk na hul toekoms en dié van hul kinders. Die idee om die geleentheid te hê om in enige land in die EU te studeer en te werk, bly aanloklik,” het Jacobs gesê.

Om met gemak te kan reis, is volgens Jacobs nog ʼn rede aangesien ʼn Suid-Afrikaanse paspoort burgers toegang tot 102 lande gee, maar die wêreld se grootste ekonomieë, soos die VSA, die Verenigde Koninkryk, die Europa-Schengen-gebied en Kanada, uitsluit.

ʼn Ciprus-paspoort laat visumvrye reis tot 169 lande toe, terwyl ʼn Griekse paspoort beteken jy kan na 183 lande sonder ʼn visum reis.

EU-paspoorte, na gelang van die skema, kan bekom word deur beleggings vanaf €250 000. Dit kan tussen ses maande en sewe jaar duur om die paspoort te bekom sonder dat dit nodig is om in die land te bly.

“ʼn Groot aantal Suid-Afrikaners kyk na die toekoms en is bereid om die belegging vir hulself asook hul kinders se toekoms te maak,” het Jacobs gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

26 Kommentare

Gert ·

Net 250 duisend euros….. wel ek is geskroef en het nie eers soveel Rande nie.

Holland SKULD ons – dis hulle wat vir Oom Jan hiernatoe gestuur het om ‘n kafee oop te maak, en toe vergeet het van hulle mense hier in donker afrika en nou wil hulle ons nie meer he nie.

Kallie ·

Afrikaners moes al na die Boereoorlog padgegee het. Maar toe luister hulle na boere politici. En hulle doen dit steeds.

Sven ·

Kallie, die destydse leierskap kon destyds al ‘n eiland êrens in die Middelandse See gekoop het. Vandag sou ons in vrede gewoon het.

Johan ·

Alles is totniet. Eskom, Transnet, Telkom, Polisie, munisipaliteite, water afdeling, riool, ekonomie, nou wil hulle ons verarm. Ongelooflik!

Anoniem ·

Dit is slegte nuus want die mense wa die land verlaat is mense met geld en dit beteken dat minder belastings gehef kan word,minder werks geleenthede vir die wat ondernemings sluit en die land verlaat. Ons gaan groter armoede sien en wat doen die regering hulle jag die mense net meer en meer weg. Ek is oor 60 het nie die geld en moet nood gedwonge maar bly.

JohanR ·

Dit sal nou lekker wees om ‘n EU-paspoort te he. As die paw paw hier in SA die waaier slaan ,dan kan ons maar net Zimbabwe, Mozambique, Botswana, Namibia of Zambia en miskien Angola en Malawi toe vlug. Teen vandag se rente koers kos €1 jou R16,56c. Soe vir €250,000 sal ek en jy moet R4,140,000 uithaal. Ek gaan by daai man leen wat R232, 00, 00 0 op PowerBall gewen het. Ken iemand hom?

Maljan ·

Ek hardloop g’n niks weg nie. Hier is ek gebore. Hier het my voorgeslagte en ek jare lank belasting betaal, huise gekoop. Ek hardloop nie weg van wat ek met sweet en trane gekoop het nie. Niemand het my n lappie grond, n rdp huis, gratis tersiêre opleiding, gratis water of gratis munisipale dienste gegee nie. Ek het betaal vir alles wat ek het. Laat die lafaards hardloop. Ek bly net hier.

Dolf ·

Wie gaan jou versorg as jy siek en oud word? Wie gaan jou kinders of kleinkinders onderrig? Waar gaan jy krag en water kry? Waar gaan jy kos kry? Wie gaan jou riool opruim? Wie gaan jou en jou eiendom beskerm? Die prentjie lyk maar donker.

Tino ·

Dit is baie belangrik vir almal om te verstaan dat 250k EUR die goedkoopste opsie is en heelmoontlik die meeste ander vereistes het. Die meer realistiese prys gaan 500k EUR wees en dit is darem ‘n besigheid of ‘n eiendom wat jy dan in bele wat jy dan gebruik om die burgerskap te kry

Neels ·

Ouer mense kan geleenthede in Costa Rica en Panama ook oorweeg. Beter as Europa.

Jake's ·

Gaan kyk na ‘n site met die naam van USAF….. Dalbarton…. Google dit. Baie inligting

Frik ·

Ek hou van hierdie planne. Net jammer Afrikaners neig om in Pretoria nes te skop en SA dan te maak werk. Dit lyk my daar is ‘n 3de mag aan die werk.

KrokodilBotha ·

Moenie hardloop nie, die minderheid eet baie minder…..

Tassia Nolan ·

Malta is nie ‘n antwoord. ” Most live on the congested island of Malta, with a few more spread … some establishments prohibit all talk of politics, even putting up signs forbidding it..” Die establishment is niks anders as die nuwer MAFIA

Gideon ·

Kyk, dit blyk heel lekker om sommer net geldjies weg te sit en ‘n ander land se burgerskap te kry, maar ek is bevrees vir meeste mense is dit nie net geldjies nie.

Ek is gelukkig klaar landuit. Moes myself suur werk oor 4 jaar terwyl ek studeer het, maar kon die geld saam skraap om te emigreer en nou gee ek skool in Japan. (Die geld wat ek moes spandeer aan emigreer is nie eers ‘n twintigste van daardie 250k euro nie.)

Die twee lande kon nie meer antoniem wees nie. ‘n Regering wat sy werk doen; ‘n vreedsame, hardwerkende, vriendelike bevolking; amper geen misdaad; infrastruktuur waarop die wereld jaloers kan wees; geen water en krag tekorte… die lys hou net aan.

Die taal is straf om te leer, en die kultuur is radikaal anders as wat meeste Suid-Afrikaners — veral Boere en die breer Afrikaner gemenskap — aan gewoond is, maar sover is dit vir my nog net dubbeld en dwars die jare se werk elke dag werd.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.