Rekordhoë temperature in Kaap aangeteken

Rekordhoë temperature is na afloop van ’n hittegolf die afgelope naweek in die Wes- en Noord-Kaap gemeet. (Foto: Facebook / Bruce Sutherland / Stad Kaapstad)

Rekordhoë temperature is na afloop van ’n hittegolf die afgelope naweek in die Wes- en Noord-Kaap gemeet. Dié temperature het die gemiddelde van die warmste maand met 5 °C oorskry.

Volgens die Suid-Afrikaanse weerdiens (SAWD) is temperature van 45,2 °C en 45,9 °C oor die naweek onderskeidelik in Kaapstad en Robertson aangemeld. Dit gaan egter nie in die SAWD se klimaatdatabasis opgeteken word nie.

Die weerdiens sê dat “sekere omgewingsfaktore” by gebiede om stasies waar temperature gemeet word, moontlik tot plaaslik geïnduseerde hitte kon gelei het wat temperatuurlesings beïnvloed.

“Om hierdie rede sal die waardes nie in die SAWD-klimaatdatabasis aanvaar word as nuwe maksimum‑temperatuurrekords vir die maand van Januarie nie.”

Die hoogste amptelike temperatuur vir Kaapstad bly dus op 39,1 °C, wat op 25 Januarie 2007 aangeteken is, terwyl die hoogste maksimum temperatuur van 42,4 °C oor al 12 maande ook onveranderd bly. Dié temperatuur is op 3 Maart 2015 gemeet.

Die SAWD het wel bevestig dat ʼn rekord minimum temperatuur vir Januarie Sondagoggend in Alexanderbaai gemeet is (22,8 °C). Dit het die vorige minimum temperatuurrekord wat op 16 Januarie 1963 aangeteken is, laat spat.

Volgens die weerdiens kan die Wes-Kaap oor die volgende paar dae effens koeler weer verwag met ligte reën langs die Tuinroete.

“Suid-Afrika is steeds in die somerseisoen, dus is warm toestande normaal gedurende hierdie tyd van die jaar.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Vrijburger ·

‘n Voorbeeld van wetenskaplike integriteit: “Om hierdie rede sal die waardes nie in die SAWD-klimaatdatabasis aanvaar word as nuwe maksimum‑temperatuurrekords vir die maand van Januarie nie.”

VaalDonkie ·

Gelukkig my kantoortjie kry nooit son nie. Ek het nie eens besef hoe warm dit was nie totdat ek buitentoe gegaag het om bietjie anti-COVID son te vang.

Marius ·

Niks nuuts nie. Dit is somer en warm temperature is dood normaal.

Dirk Mostert ·

Afhangende of dit met ‘n BMW-termometer in die buitelig gemeet is.

Dirk Mostert ·

Jy kan nie ‘n maksimum dagtemperatuur met ‘n gemiddelde maandtemperatuur vergelyk nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.